Aanvullende dosisse teen Covid ondersoek
Aanvullende dosisse teen Covid ondersoek

Aanvullende dosisse teen Covid ondersoek

Die gesondheidsministerie ondersoek beskikbare, kostedoeltreffende opsies vir digitale inentingsertifikate.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die nasionale entstoftaakspan vir Namibië se wetenskaplike subgroep is besig om data oor die meng van verskillende dosisse entstof teen Covid-19 sowel as aanvullende dosisse (booster shots) te evalueer om voorstelle vir beleidsrigtings saam te stel wat gepas vir Namibië is.

Die hoof van die land se taakspan vir Namibië se immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, het gesê gegewe die plaaslike konteks waar slegs 11,6% van die teikenbevolking ten volle ingeënt is, is die prioriteit om meer mense ’n kans te gee om hul aanvanklike inentingskedule te voltooi om meer lewens te red. Sy het die lae immuniseringsyfer toegeskryf aan ’n lang stryd om genoeg entstofdosisse te verkry, kwessies soos beperkte hulpbronne om die inentings te doen, asook ’n weerstand teen entstowwe.

Masabane het verduidelik as ’n beginsel sou die benadering van openbare gesondheid wees om gelyke toegang tot entstowwe te verseker, veral vir dié wat ’n risiko vir ernstige siekte en hospitalisasie het en om aan Covid te sterf.

Met verwysing na Namibiërs jonger as 18 jaar wat moontlik ook die kans sal kry om ingeënt te word, sê Masabane dit vorm deel van die wetenskaplike subgroup van die taakspan om data in dié verband te evalueer en gepaste voorstelle te maak. Volgens haar is die ouderdomskategorie een van die items wat bespreek word.

Sy het beklemtoon Namibië bly op hoogte van ontwikkelings met betrekking tot digitale sertifikate vir dié wat ingeënt is. Dit sluit gereelde riglyne in wat deur die Afrika-unie aan lidlande hieroor uitgestuur word.

“Die ministerie ondersoek beskikbare, kostedoeltreffende opsies vir digitale sertifikate wat saam met ’n bestaande datastelsel kan werk om oortolligheid en die gebruik van veelvuldige datastelsels te verminder,” het sy gesê.

Met verwysing na Pfizer-entstowwe het Masabane gesê immuniseringspunte wat dié entstof gaan toedien, sal mettertyd deur middel van openbare kennisgewing aan die publiek bekend gemaak word. Namibië het 100 620 van dié entstowwe van die Amerikaanse regering ontvang om by sy arsenaal van AstraZeneca, Sinopharm, Sputnik en Johnson & Johnson te voeg.

Masabane sê die land het twee besendings ontvang, waarvan die een in Desember vanjaar en die ander in Januarie aanstaande jaar verval. Sy vroeër gesê die entstof wat onder baie koue toestande gestoor moet word, sal na streke gestuur word wat oor die vereiste verkoelingsgeriewe beskik en wat nege van die 14 streke insluit.
Die ministerie het reeds met die bevestiging van die skenking naalde bestel wat spesifiek vir Pfizer gebruik moet word. Die aflewering hiervan is egter volgens haar “ongelukkig vertraag” en dit word vandag of môre verwag.

Pfizer is ’n genetiese (nukleïensuur) entstof en bevat ’n segment van die SARS-CoV-2-virus se genetiese materiaal wat kode vir ’n spesifieke proteïen instaan. Dit kan DNA of RNA wees. Selle gebruik die genetiese materiaal om die SARS-CoV-2-proteïen te vervaardig, wat erken word deur die immuunstelsel om ’n reaksie te aktiveer. Dié reaksie bou ’n geheue sodat jou liggaam in die toekoms teen Covid kan baklei.

Die Europese Medisyne-agentskap (EMA), die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-owerheid (FDA) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het nou ’n langer tydperk goedgekeur waartydens die entstof in ’n standaard vrieskas gestoor kan word.

Die entstof was die eerste wat op die WHO se lys vir noodgebruik verskyn het, met data wat toe gesê het die entstof moet by temperature tussen -80 °C en -60 °C verskeep word, kan net in ’n normale vrieskas teen -20 °C vir twee weke geberg word en onoopgemaakte dosisse kan net tussen 2 °C en 8 °C vir vyf dae geberg word voordat dit gebruik of weggegooi moet word.

Pfizer het egter nou verdere data aan reguleerders voorgelê wat sê onverdunde, ontdooide dosisse van die entstof is stabiel by vrieskastemperature vir tot ’n maand.

Met verwysing na Sputnik het Masabane gesê dié entstof is by beperkte immuniseringspunte beskikbaar weens die streng stoorvereistes om die koueketting te handhaaf. Die oomblik wat die entstof ontvries is, moet dit volgens haar binne twee ure toegedien word.

“Dit vereis dat daar ’n goeie aantal mense moet wees wat dié entstof verkies om moontlike vermorsing te verminder,” het sy gesê.

Die eerste 15 000 van ’n beloofde 30 000 dosisse Sputnik wat deur Serwië geskenk is, het op 6 September in die land aangekom.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!