Aardse plesier

Hoor jy iemand is ’n veganis, dink jy dit behels dat jy kos eet wat nie aldag beskikbaar is nie. Tog bewys ’n plaaslike paartjie dié leefstyl het talle voordele – sóveel dat hulle ’n besigheid daarvan kon maak.
Yolanda Nel
Yolanda Nel – Ongeag dieetvoorkeure is almal elke dan en wan lus vir ’n skeppie roomys of ’n pizza met kaas.

En as dit iets is wat jy nie mag eet nie, maak jy dit sommer self.

JP Bruwer en Jolene Nel volg ’n streng veganistiese leefstyl.

Die paartjie het aanvanklik, toe hulle permanent in Windhoek kom huis opsit het, baie gesukkel om veganistiese produkte in die hande te kry.

“Die leefstyl beteken bloot ons eet geen diereprodukte nie,” sê Jolene.

Benewens die feit dat hulle nie vleis eet nie, eet hulle ook geen ander produkte wat van diere af kom nie.

Dit sluit alles van suiwelprodukte tot eiers in.

Oplossing

Omdat dié dieet nie sonder uitdagings is nie, het die paartjie self in die kombuis begin eksperimenteer, “want sorbet is darem net nie roomys nie,” sê JP.

Só het Earthly Pleasures ontstaan.

Hul eerste eksperimente was met suiwelvrye kaas en roomys.

“Dit het nie oornag ’n besigheid geword nie,” verduidelik JP en voeg by hulle het produkte aanvanklik net vir hul eie gebruik begin maak.

Die resepte is aanhoudend aangepas totdat hulle met die eindresultaat tevrede was.

Daarná het hulle dit aan vriende en familie begin uitdeel.

Dit wat die mense geproe het, moes ’n indruk gemaak het, want kort voor lank was die produkte in uitgesoekte winkels beskikbaar. Deesdae verskaf JP en Jolene selfs kase aan ’n restaurant wat dit op veganistiese pizzas gebruik.

Maar alles is nie maklik nie. Een van die uitdagings wat die paartjie ervaar het, was om vleisetende, melkdrinkende mense te oortuig om eerder veganistiese produkte te koop.

“Mense rol hul oë as hulle vegan hoor. Dis nie ’n leefstyl wat almal verstaan nie,” sê Jolene.

Daarom was dit vir hulle belangrik om ’n produk op die mark te sit wat nie afsteek by dit wat reeds beskikbaar is nie. “Ons produkte moet net so goed wees soos dit wat beskikbaar is. Mense moet eintlik nie eens weet hulle eet iets wat suiwelvry is nie.”

Van die bestanddele wat hulle nodig het om hulle produkte te maak, is nie in Namibië beskikbaar nie.

Soms kan dit uit Suid-Afrika bestel word en ander kere moet dit van oorsee af kom.

“Ons het nie probleme om hierdie produkte in te bring nie – alles is net nie aldag so maklik bekombaar nie en vat tyd.”

Al gewilder leefstyl

Hulle besef mense het hul bedenkinge oor dié soort produkte bloot omdat dit wat ’n paar jaar gelede beskikbaar was nie watwonders was nie.

“Maar deesdae spog Windhoek met ’n verskeidenheid van amandelmelk en ander suiwelvrye produkte, en is dit aansienlik makliker om die leefstyl vol te hou,” sê JP.

Die paartjie sê dit is ’n leefstyl wat al meer gevolg word.

“Individue en besighede begin die belangrikheid van ’n gesonder leefstyl raaksien. Al hoe meer mense soek sekere produkte, en winkels begin besef hulle moet voorraad aanhou om hul klante tevrede te stel. Dit getuig van goeie dienslewering,” sê hy.

Talle restaurante bied ook reeds etes geskik vir hul dieetvoorkeure aan.

Boonop het die leefstylverandering ’n reuse-impak op JP se gesondheid gehad, wat as kind reeds met hoë cholesterol gesukkel het.

“Ek was voortdurend op medikasie,” sê hy.

’n Paar maande ná hy diereprodukte uitgesny en gesonder begin eet het, het sy cholesterol verlaag. Hy het ook amper 20 kg verloor.

Die paartjie glo dit is nie so moeilik om na ’n veganistiese dieet oor te skakel nie, want die meeste van ons diëte is reeds op plante geskoei.

“Vrugte, groente en pasta is reeds deel van almal se eetstyl,” sê hy.

Verskeidenheid opsies

Tans is die twee besig met bewusmaking, veral van hul roomys, om vir mense te wys daar ís lekker veganistiese opsies. En as jou probleem suiker is, het hulle goeie nuus: Earthly Pleasures het vandeesweek sy eerste suikervrye roomys met ’n sjokolade-pepermentgeur bekend gestel.

“Ons het omtrént in die kombuis geëksperimenteer om te verseker ons bied ’n goeie produk,” sê JP.

Die geure van die gewone veganistiese roomys wat hulle tans beskikbaar het, is vanielje, sjokolade, grondboontjiebotter, klapper en caffè latte.

Earthly Pleasures het ook verskeie opwipwinkels waar hulle hul eie draairoomys verkoop.

“Dis ’n geleentheid om ons roomys te proe sonder om ’n hele houer te koop,” sê JP.

Die draairoomys word van rysmeel gemaak, met rys wat hulle self maal.

Die paartjie is tans besig om hierdie mengsels te verpak en in Suid-Afrika te verkoop. “Al wat hulle dan aan daai kant doen, is om dit met water aan te maak en in hul masjiene te gooi. So maklik soos dit.”

Of jy dit oorweeg om ’n lewenstylverandering te ondergaan, of net om iets nuuts te proe, hou Earthly Pleasures se Facebook-blad dop en maak seker jy kry jou hande so gou moontlik op ’n bakkie roomys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!