Aardverwarming: Erge impak op Namibië

Lande in Afrika suid van die Sahara soos Namibië en Botswana gaan die ergste deur klimaatsverandering getref word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Volgens 'n verdoemende verslag oor aardverwarming is Namibië een van die lande wat die ergste getref gaan word.

Die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) se verslag, “Special Report on Global Warming of 1,5 degrees C”, wat onlangs in In­cheon, Suid-Korea, uitgereik is, kyk wêreldwyd na die impak van klimaatsverandering.

Die Parys-verdrag se doelwit om aardverwarming onder 2 °C - ideaal onder 1,5 °C - te hou, sal teen die eeuwisseling uiters uitdagend wees. Tot hede het pleidooie in sekere nywerheidslande op dowe ore geval met aardverwarming van 3,2 °C wat teen 2100 voorspel word.

In die verslag waarsku klimaatwetenskaplikes as die volume kweekhuisgasse gehandhaaf word wat tans in die atmosfeer gepomp word, sal ’n drumpel van 1,5 °C oor 'n dekade jaar oorgesteek word, die 2 °C-drumpel 'n dekade daarna en kort daarna sal die temperatuur met 3 °C styg.

As globale temperature met 3 °C styg, gaan "wegholklimaatsverandering" plaasvind met geen omdraaikans nie, lui die verslag.

Amerika, een van die grootste nywerheidsondaars, het nie die Parys-verdrag onderteken nie. Boonop het die Amerikaanse president, Donald Trump, vandeesweek tydens 'n TV-onderhoud oor klimaatsverandering gesê: "Ek dink iets is besig om te gebeur. Iets is besig om te verander en ek dink dit sal terugverander. Ek dink nie dit is 'n slenter nie. Ek dink daar is waarskynlik 'n verskil, maar ek weet nie of dit mensgemaak is nie."

IMPAK OP WARM, DROë LANDE

Volgens die verslag sal warm, droë lande wat waterskaarste ondervind - soos Namibië en Botswana - se aardverwarming en droogtes hewiger as die globale gemiddeld wees.

Die verslag beklemtoon die dringende behoefte vir die lande om baie vinnig hierop voor te berei en aanpassings te doen.

Tiro Nkemelang, 'n doktorale student aan die Universiteit van Kaapstad se Afrika Klimaat- en Ontwikkelingsinisiatief (ACDI), en Roy Bouwer, 'n navorsingsassistent by ACDI, het bydraes tot 'n analise gedoen. Daarmee is bevind weens die impak wat temperatuurstygings op Namibië gaan hê, gaan die land waarskynlik baie warmer en droër word en groter waterskaarstes ervaar.

"Namibë en Botswana ken reeds die uitdagings van droogte en vloede. Hoe vinniger Suider-Afrika-lande hulself voorberei en aanpassingstrategieë implementeer, hoe beter," sê die navorsers.

"Namibië het die afgelope jare voortdurende en verwoestende droogtes en vloede ervaar, veral in die noordelike streke waar die meeste mense woon."

Volgens die verslag sal globale aardverwarming van 1,5 °C lei tot 'n gemiddelde temperatuurverhoging van 2 °C in Namibië. As globale aardverwarming met 2 °C verhoog, sal Namibië se temperature met 2,7 °C styg.

LAER REëNVAL

Veranderinge in reënval word ook voorspel.

As globale aardverwarming met 1,5 °C styg, sal Namibië 4% minder reën kry, en as dit met 2 °C styg, sal die jaarlike reënval in Namibië met 7% val.

Volgens die analise sal Namibië 'n toename in droër dae hê. As globale aardverwarming met 1,5 °C styg, sal Namibië 12 meer droër dae beleef. Indien die aarde met 2 °C verwarm, sal Namibië 17 meer droër dae hê.

Die impak van aardverwarming op ekstreme omstandighede is ook skrikwekkend met Namibië wat rofweg 50 meer dae van hittegolwe kan verwag as globale aardverwarming met 1,5 °C toeneem en sowat 75 meer as dit met 2 °C styg.

Dit beteken sektore soos landbou, gesondheid en water moet dringend vir aanpassings beplan.

"In 'n warmer, droër toekoms sal daar minder water beskikbaar wees. In Namibië sal verdamping met 10% toeneem as die aarde wêreldwyd 1,5 °C warmer is en 13% met 'n styging van 2 °C."

Landbou is veral weerloos, met potensiële afnames in gewasse en verhoogde veeverliese. Produksie van graangewasse in Namibië gaan na verwagting met 5% val as wêreldwye temperature met 1,5 °C styg en met 10% as dit met 2 °C styg.

IMPAK OP GESONDHEID

Die impak van aardverwarmig op die mens se gesondheid moet ook oorweeg word.

Hittestres gaan 'n groter bedreiging word. Teen 1,5 °C -aardverwarming, gaan Namibië rofweg 20 meer dae van blootstelling van hittestres per jaar hê en dubbel soveel (sowat 40 dae) as aardverwarming teen 2 °C styg.

As die drumpel van 2 °C oorskry word, gaan al hierdie faktore vererger, word gewaarsku.

"Die ernstige impak van klimaatsverandering teen globale aardverwarming van 1,5 °C en 2 °C in Namibië gaan samewerkende aksie, beide plaaslik en internasionaal, vereis. Namibië sal op die wêreldverhoog druk op nasies moet uitoefen oor hul pleidooie om kweekhuisegasse te sny volgens die Parys-verdrag," sê die navorsers

"Terselfdertyd sal lande soos Namibië moet beplan vir skielike verandering in die weer en klimaat. Aanpassingstrategieë sal versnel moet word. Die tyd vir eksperimente en loodsprojekte is verby."

Die navorsers meen regerings, wetenskaplikes en ontwikkelaars sal op lang termyn moet dink oor hoe om aan te pas as die drumpel van die doelwitte van 1,5 °C en 2 °C oorskry word.

"In 'n stadium gaan aanpassing by hierdie stelsels nie genoeg wees nie en sal daar volledige transformasies van 'n nuwe lewensbestaan in 'n wêreld van 2 °C+ nodig wees."

'LAASTE WAARSKUWING'

Die wetenskaplikes waarsku dat die wêreld nou drastiese aanpassings moet doen om die globale temperatuurstyging onder 1,5 °C te hou.

Hulle doen 'n dringende beroep op wêreldleiers, politici, beleidmakers, die landbousektor, nywerhede en gemeenskappe om binne die volgende drie dekades te sorg dat geen koolstofdioksied deur die verbranding van steenkool, olie of gas in die atmosfeer vrygestel word nie.

Die hoeveelheid kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vrygestel word, mag glad nie meer styg nie en moet in die volgende paar jaar met minstens 45% ingeperk word. Binne drie dekades mag geen koolstofdioksied (CO²) meer in die atmosfeer gepomp word nie.

"Daar is nie meer tyd vir uitstel nie," maan die verslag.

"Daar is geen tyd meer om te mors nie," sê die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), mnr. António Guterres.

NAVORSING VAN 3 JAAR

Die IPPC-verslag volg op drie jaar se navorsing oor die impak wat ’n styging van 1,5 °C vir lewe op aarde inhou.

Altesaam 91 skrywers van 40 lande en 133 wetenskaplikes van verskeie wêrelddele het aan die verslag gewerk.

Hulle het 6 000 wetenskaplike navorsingsartikels oor klimaatsverandering ontleed. Die navorsers het veral gelet op die invloed wat ’n styging van 1,5 °C in die globale temperatuur op lewe sal hê.

Die beloftes wat regerings die afgelope drie jaar volgens die Parys-verdrag gemaak het om die globale temperatuurstyging onder 1,5 °C te hou, is heeltemal onvoldoende, volgens die verslag.

Dit wys ook daarop dat die globale temperatuur die afgelope 150 jaar reeds met gemiddeld 1,1 °C gestyg het.

- Bykomende bronne The Conversation/Netwerk24/News24

BLOKKIE

NAMIBIESE KAMER VAN DIE OMGEWING

Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), dr. Chris Brown, het gesê die verslag strook met hul eie bevindings.

Die NCE het belangrike boodskappe vir Namibië: "Die tempo van klimaatsverandering - aardverwarming, verhoogde seevlakke, ysberge- en gletsers wat smelt - gebeur vinniger as wat voorheen voorspel is," het Brown gesê.

Hy verduidelik: "Die elemente van klimaatsverandering het 'n samestellende impak. Byvoorbeeld: Verhoogde temperatuur beteken verhoogde verdamping en laer humiditeit; laer, meer sporadiese reënval beteken meer afloop, minder wateraanvulling, laer grondvogvlakke, wat beteken minder grondbedekking en meer grondblootstelling, wat die warmer grondtemperatuur en nog laer grondvog beteken, wat laer primêre produksie beteken.

“Dit is al die kumulatiewe impak wat groter is as die som van die dele."

Brown sê oor 30 jaar (dalk vroeër) sal dit nie meer lewensvatbaar wees om mahangu in Noord-Sentraal Namibië te plant nie. Hy sê met die waarskynlikheid van 'n oesverlies sal dit net nie die moeite werd wees om die saad te saai nie.

"Namibië het nie 'n plan of bestaande beleid om te reageer nie."

Volgens Brown gaan dit oor 30 jaar ook nie meer kommersieel lewensvatbaar wees om met beeste in die Otjiwarongo-distrik te boer nie.

"Die huidige ekonomiese 'lewensvatbaarheidslyn' wat beeste van kleinvee skei, sal na die Noorde en Ooste terugtrek, met sowat 9 miljoen hektaar wat nie meer kommersieel ekonomies lewensvatbaar vir grootvee sal wees nie. Hierdie lewensvatbaarheidslyn sal voortgaan om verder noordwaarts en ooswaarts te beweeg en teen ongeveer 2070 (of vroeër) sal die lewensvatbaarheidslyn wees waar die huidige veeartseny-Rooilyn lê."

Wat sal die boere doen? "Dit is onwaarskynlik dat hulle van beeste na kleinvee sal oorskakel. Hulle sal waarskynlik na wildboerdery oorskakel," meen Brown.

'WILDLEWE DIE OPLOSSING'

Hy meen wild is dalk Namibië se belowendste manier om by klimaatsverandering in landelike gebiede aan te pas.

Brown sê self voor klimaatsverandering was Namibië se primêre produksie baie laag weens swak grond, asook lae en onvoorspelbare reënval wat sowat een bees per 15 hektaar toegelaat het.

"Hierdie primêre produksiestelsels is gerig op proteïenproduksie. Met klimaatsverandering gaan die lae primêre produksieplafon selfs laer word en in baie plekke kommersieel onekonomies."

Brown meen wild, aan die ander kant, kan by droogte aanpas en benewens proteïenproduksie (vleis), bied dit drie bykomende ekonomiese geleentheide wat nie deur die lae primêre produksieplafon beperk word nie, naamlik toerisme, trofeejag en die verkoop van lewende, hoëwaardewild.

"Al vier hierdie ondernemings van wildlewe - wildvleisproduksie, trofeejag, toerisme en die verkoop van surplus hoëwaardespesies, kan gelyktydig met goeie bestuur op dieselfde grond beoefen word."

Volgens Brown kan Namibië verder sy wildwaardes met sommige sleutelbeleidsveranderinge bevorder: "Tans het ons die kommersiële veesektor -'n kleiner, dalende sektor wat nog vinniger sal daal namate die gevolge van klimaatsverandering groei - wat beleid dikteer aan die wildsektor - 'n groter, groeiende sektor met groot potensiaal vir verdere groei."

BUFFELS EN RENOSTERS

Hy meen 'n goeie voorbeeld is siektevrye buffels wat volgens die veeartsenybeleid nie op plase suid van die Rooilyn toegelaat word nie.

"Buffels kan 20% se waarde tot grond met wild toevoeg. Wild is in ekonomiese terme meer mededingend as vee en dit is waarom veegetalle verminder en wildgetalle groei. Buffels sal grond meer produktief maak," verduidelik Brown.

"Dieselfde geld as Namibië wettig handel in renosterhoring kan dryf. Wildboere kan hul huidige inkomste per hektaar verdubbel."

Hy sê boere met wild op hul grond, selfs al word onder die impak van klimaatsverandering gely, kan dalk vier tot vyf keer meer per hektaar verdien as met vee op dieselfde grond, selfs voor die impak van klimaatsverandering.

"Dit sal uiters betekenisvol vir die nasionale ekonomie, werkskepping, inkomste van buitelandse valuta en vir die ekonomiese en omgewingsaanpasbaarheid van klimaatsverandering wees.

Brown sê Namibië kan wel by klimaatsverandering aanpas: "Ons moet nóú ernstig oor die opsies begin dink. Ons kan 'n leier in Afrika op dié gebied wees."

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!