AB de Villiers tree uit internasionale krieket

Ek is moeg en dis tyd vir ander om oor te neem, het die rekordbreker gister aangekondig.
AB de Villiers het die krieketwêreld gister geskok deur sy uittrede uit internasionale krieket aan te kondig.

Die 34-jarige kolwer het dié nuus op sy eie app aangekondig.

“Ná 114 toetse, 228 internasionale eendagwedstryde en 78 internasionale T20-wedstryde, is dit nou tyd vir ander spelers om oor te neem. Ek het my beurt gehad en om eerlik te wees, is ek nou moeg,” het hy in 'n video op Twitter gesê.

“Dit was 'n moeilike besluit en ek het lank en hard hieroor gedink. Ek wou graag uittree terwyl ek nog goeie krieket speel en ná die uitstekende reeksseges oor Indië en Australië, voel ek nou is die regte tyd.

“Dit sal nie reg wees as ek kies waar, wanneer en in watter formaat ek vir die Proteas wil speel nie. In die Groen-en-Goud moet dit alles of niks wees nie.

“Ek sal altyd dankbaar wees teenoor my spanmaats, afrigters en die personeel van Krieket Suid-Afrika vir hul ondersteuning deur al die jare.

“Dit gaan nie daaroor dat ek meer geld elders kan verdien nie, dit gaan daaroor dat ek uit stoom gehardloop het en voel dat dit tyd is om aan te beweeg. Alles kom tot 'n einde.

“Ek het geen planne om oorsee te gaan speel nie en ek hoop om beskikbaar te bly vir die Titans in die plaas­like reekse. Ek sal steeds die grootste ondersteuner van Faf du Plessis (Protea-kaptein) en die Proteas bly.”

De Villiers het krieketondersteuners in Suid-Afrika en oor die wêreld heen vir hul ondersteuning deur die jare bedank.

Chris Nenzani, die president van KSA, het in 'n verklaring gesê De Villiers sal as een van die allerbeste krieketspelers onthou word wat dié land nóg opgelewer het.

“Hy is een van die bestes van aller tye. Hy het ondersteuners oor die wêreld heen getrakteer met sy briljantheid en vermoë om innoverend te kolf,” sê Nenzani.

REUS

Thabang Moroe, die waarnemende uitvoerende hoof van KSA, sê De Villiers se besluit is teleurstellend, maar een wat gerespekteer word.

“AB was 'n reus op die wêreldverhoog vir veel meer as 'n dekade en ons is beslis dankbaar dat hy die meeste van sy tyd op die krieketveld in die kleure van die Proteas deurgebring het,” sê Moroe.

De Villiers het 'n magdom rekords agter sy naam. Hy het die vinnigste eendag-vyftigtal (16 balle), vinnigste eendag-honderdtal (31 balle) én die vinnigste eendag-150-tal (64 balle) in wêreldkrieket geslaan.

Hy spog met Suid-Afrika se tweede hoogste toetstelling (278*) en die beste individuele ranglyspunt vir 'n toetskolwer van Suid-Afrika op die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys (935).

Hy is in 2014 en in 2015 as die Suid-Afrikaanse krieketspeler van die jaar aangewys.

Hy tree uit met 'n toetskolfgemiddeld van 50.66 en as die vierde voorste lopiemaker vir Suid-Afrika met 8 765 toetslopies, wat 22 honderdtalle insluit.

In die eendagformaat het hy 9 577 lopies aangeteken teen 'n gemiddeld van 53.50, wat 25 honderdtalle insluit.

Slegs Jacques Kallis het meer eendaglopies vir die Proteas geslaan.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!