'Abattoir-ellende skema se skuld'
'Abattoir-ellende skema se skuld'

'Abattoir-ellende skema se skuld'

Die sluiting van die skaapuitvoerabattoir by Mariental is Donderdag aangekondig.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Die kleinveebemarkingskema wat met sy gedwonge binnelandse verslagtingsreëls veronderstel was om waarde tot die skaapbedryf te voeg, het die teenoorgestelde gedoen.

“Dit het die Suide van waarde gestroop. Skaapboere het ophou investeer in hul boerderye. Hulle het die veilige pad begin stap omdat hulle nie seker was van die prys wat hulle gaan kry nie.”

Só sê mnr. Pieter van Schalkwyk, ’n bekende boer van Aroab oor die aankondiging deur die Hartlief-groep dat sy uitvoerabattoir by Mariental, Farmers’ Meat Market (FMM), op 31 Augustus gaan ophou slag.

Dit beteken Natural Namibian Meat Producers (NNMP) by Aranos is die enigste oorblywende uitvoerabattoir in die land aangesien Brukarros Meat Processors (BMP) by Keetmanshoop ook nie meer skape vir die uitvoermark slag nie.

Die Hartlief-groep se besturende direkteur, mnr. Günther Ling, het Donderdag in ’n brief aan die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), mnr. Thinus Pretorius, gesê die besluit is die gevolg van die swak ekonomiese omstandighede wat deur die voortslepende droogte en ongunstige handelstoestande vir die kleinveebedryf in Namibië veroorsaak is.

FMM het in 2017 ook aangekondig lae deurset wurg hom en hy gaan ophou slag. In Augustus 2018 het die Suid-Afrikaanse agrimaatskappy GWK, met sy hoofkantoor op Douglas in die Noord-Kaap, ’n kontrak met FMM gesluit om kontrakverslagting by sy abattoir te doen. Toe die kontrak ’n jaar later ten einde loop, het FMM self weer begin slag.

Van Schalkwyk sê wat mense nie besef nie, is dat skaapboere ’n spektrum het van hoe intensief hulle kan boer.

“Jy kan Gods water oor Gods akker laat loop en net die nodigste doen met een of twee arbeiders, of jy kan 100 persent intensief boer en ’n lampersentasie van 150% realiseer en 90% van die karkasse wat jy produseer kan prima karkasse wees.

“Om dit te doen, moet jy in jou boerdery belê. Jy moet opgeleide arbeiders hê, goeie infrastruktuur oprig en in goeie genetika belê.”

Van Schalkwyk sê omdat skaapboere nie sekerheid oor die toekoms van die bedryf gehad het nie, boer hulle met die minimum insette, lampersentasies is laer en die kwaliteit van die karkasse ook. In die proses kwyn die ekonomieë van klein dorpies in die Suide.

Hy meen die kleinveebemarkingskema, wat boere sedert die instelling daarvan in 2004 gedwing het om ses skape binnelands te laat slag vir elke een wat lewend uitgevoer word, het die bedryf gekelder eerder as wat die droogte dit gedoen het. “Ons is ’n land van droogtes. Dit, en jakkalse was altyd deel van die Suideboere se werklikheid. Dit is die skema wat groot skade aangerig het.”

Ling sê in sy brief terwyl FMM tussen 2009 en 2014 gemiddeld 20 000 stuks kleinvee per maand geslag het, het die getal intussen tot onder 2 000 per maand gedaal. Dit is veel minder as die 7 000 stuks kleinvee wat nodig is om die abattoir se basiese onkoste te dek.

Hy sê die lewering van lam- en skaapvleis is landswyd inkonsekwent en word in te klein hoeveelhede aan alle bemarkingskanale verskaf. Die droogte word as een van die redes hiervoor beskou, tesame daarmee dat al meer skaapboere hulle tot die grootvee-, toerisme- en jagbedryf wend, sê Ling.

Volgens Pretorius is beleidsekerheid, eiendomsreg en die vryemarkstelsel belangrik om die toekoms van die vleisbedryf in die land te verseker. Hy het vroeër vanjaar in ’n onderhoud aan Agriforum gesê hy voel sterk daaroor dat ’n sekondêre bedryf (verwerking en prosessering) se groei nie bo dié van die primêre bedryf (produksie) gestel kan word nie. “Geen sekondêre bedryf is moontlik sonder ’n sterk primêre bedryf nie. Waardetoevoeging kan eers gedoen word as dit op ’n gevestigde, volhoubare primêre bedryf gebou word.”

Volgens ’n verslag wat in 2013 deur Deloitte oor waardetoevoeging in die Namibiese vleisbedryf opgestel is, lei die krimpende kleinveesektor jaarliks tot ’n verlies van N$177 miljoen vir die Namibiese ekonomie.

Die verslag toon tussen 1992 en 2007 is 1,2 miljoen skape jaarliks bemark.

In 2003 is daar 1,58 miljoen stuks kleinvee plaaslik bemark, vergeleke met 2016 toe net sowat 850 000 bemark is. Dit beteken die sektor het in 13 jaar met meer as 50% gekrimp. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!