Aborsie: ministerie steun wettiging

Die verouderde wetgewing hou nie meer tred met die werklikhede van die hedendaagse lewe nie, sê 'n senior beampte.
Yandi Du Plessis
Jana-Mari Smith – Die gesondheidsministerie het ’n dringende beroep op die parlement gedoen om veilige aborsies in Namibië te wettig.

“Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is van mening die huidige wetgewing oor aborsie is verouderd en moet hersien en op datum gebring word om met die werklikheid rekening te hou,” het mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van die ministerie, gister gesê.

Die algemene konsensus, sê hy, is dat die aborsiewet, wat uit die apartheidsera dateer, “voldoen aan die kriteria wat in die Wet op Hervorming en Ontwikkeling daargestel is om verouderde wette te identifiseer en te omskryf – spesifiek dat dit nie meer die doel dien waarvoor dit ingestel is nie”.

Nangombe was aan die woord op die tweede dag van die openbare gespreksessies oor die hervorming van die aborsiewet voor die parlement se staande komitee oor geslag en gesinsake.

Dr. David Emvula, in sy persoonlike hoedanigheid as ’n Namibiese ginekoloog en verloskundige, het gesê ondanks min beskikbare data het gesondheidsowerhede die sterftes van 14 vroue weens aborsieverwante komplikasies tussen April 2018 en Maart 2021 in Namibië aangeteken.

Hy sê ondanks Namibië se beperkende aborsiewet “gebeur (aborsies) steeds en ons verloor vroue weens hierdie komplikasies van die beëindiging van swangerskappe”.

Hy het benadruk dat statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) bevind het dat onveilige aborsies slegs ongeveer 12 uit 100 000 vroue raak in lande waar aborsies wettig is.

In lande waar aborsies beperk of verbied word, is onveilige aborsiesyfers byna twee keer so hoog.

“As ’n vrou ’n swangerskap wil beëindig, sal sy dit doen,” het hy gesê.

KEUSE

Nangombe het verskeie faktore gelys wat die ministerie se standpunt oor die hervorming van die aborsiewet ondersteun, insluitend die impak van onveilige aborsies op openbare gesondheid, vroue se regte op seksuele en reproduktiewe gesondheid en die beskerming van vroue se lewens.

Opnames wys dat onveilige aborsies lei tot tussen 12% en 16% van sterftes onder moeders. Ongeveer 20% van verloskundige komplikasies in Namibië word aan onveilige aborsies toegeskryf, het hy gesê.

Nangombe het uitgewys dat die WHO ’n dringende beroep op sy lidlande – insluitend Namibië – gedoen het om onveilige aborsies as ’n ernstige openbare gesondheidskwessie te benader.

“Vir Namibië beklemtoon dit die noodsaaklikheid daarvan om ons huidige – redelik verouderde – wetgewing oor aborsie te hersien.”

Nangombe het breedvoerig gepraat oor die kwessie van outonomie en reproduktiewe keuses, en beklemtoon dis “vroue se mensereg om hul vrugbaarheid en seksualiteit sonder dwang te beheer”, ingevolge internasionale konvensies wat Namibië onderteken het.

Reproduktiewe keuses gee vroue die reg “om te besluit of hulle wil kinders hê, al dan nie; die reg om te besluit of hulle ’n ongewenste swangerskap wil of beëindig of nie, en die reg om hul voorkeur-metode vir gesinsbeplanning en voorbehoeding te kies,” sê hy.

FEITE

Dr. Emvula het gesê internasionale data toon kriminalisering lei bloot tot onveilige agterstraat-aborsies, weggooibabas en hoë sterftesyfers onder arm en jong vroue.

Hierteenoor wys die data dat omvattende gesinsbeplanningsdienste, insluitend toegang tot veilige aborsies, ’n skerp afname in swangerskapverwante sterftes tot gevolg gehad het in die lande waar aborsie gewettig is.

In die kalendermaand September 2021 het Emvula statistiek versamel oor pasiënte wat tydens swangerskapverwante noodgevalle in die Katutura-staatshospitaal opgeneem is. Dié data het getoon dat meer as 70% van die pasiënte weens miskraamverwante redes opgeneem is.

Hoewel min of geen pasiënte erken dat hul miskrame die gevolg van onveilige aborsies is nie, het Emvula benadruk hoe hoog die koste van mediese behandeling is.

“Dis duur om komplikasies van onveilige aborsies te behandel. Daaroor bestaan geen twyfel nie.”

Hy het vlugtig verwys na die komplekse kwessie van “waar lewe begin” en gesê dis ’n subjektiewe onderwerp waar geen konsensus oor die antwoord bestaan nie.

Hy het wel opgemerk die “lewensvatbaarheid van die fetus” is in ’n kliniese omgewing die bepalende faktor, wat verwys na “die aantal weke en die gewig (gewoonlik 500 gram) waarop ’n baba bygebring kan word nadat dit gebore is”.

[email protected]

FOTO’s Jana-Mari Smith
Dr. David Emvula, ’n Namibiese ginekoloog en verloskundige, het gesê beperkende aborsiewette verhoed nie dat vroue die prosedure ondergaan nie.
Die uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid, mnr. Ben Nangombe, sê die ministerie is pro-keuse.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!