Adam is terug. . .
Die aap is uit die mou en aanhangers van Adam kan voorwaar breed glimlag, want hulle gunsteling-mansgroep het ’n nuwe lid en is terug op die verhoog! Boonop spog hulle ook met ’n splinternuwe enkelsnit!
In 2019 het musiekkringe gegons na die aankondiging dat dié bekroonde musiekgroep nie meer saam gaan optree nie en hulle afwesigheid het beslis ’n groot leemte in die Afrikaanse musiekmark gelaat.
“In Augustus 2019 het ons besluit om Adam eers vaarwel te roep en Reynardt Hugo het besluit om sy sololoopbaan ’n kans te gee,” sê Hugo Ludik, die Namibies-gebore stigterslid van die groep.
“My ateljee, Muse Studios, is by my huis en ek was gelukkig om gedurende grendeltyd te kon ‘werk’ en kreatief te wees in ’n moeilike tyd waar daar nie vreeslik baie ander geleenthede was nie.
Alhoewel ons op ’n daaglikse basis vir ander mense liedjies skryf, was Adam nog altyd my manier om my eie liedjies ten toon te stel en ek het dit gemis. Ná die grendeltyd voel dit asof ons met ’n nuwe lewe begin. Dit het baie dinge vir my en Kyle in perspektief geplaas en ons het albei in ons harte besef ons is nog nie klaar met Adam nie.
Projekte begin stadig maar seker weer optel, ek trou amper en werk nou permanent saam met die Rubber Duc/Posduif-manne om vir ander kunstenaars musiek te vervaardig. Ek was lanklaas so gelukkig. . . maar een ding kort en dis om weer op die verhoog op te tree en nou kan ons dit weer doen,” sê Hugo.
Om hulle terugkeer te vier, het die trio – wat nou uit Hugo, Kyle Grant en Stoff de Beer bestaan – pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgereik wat beslis luisteraars se verwagtinge gaan oortref.
“Liefde is” is ’n goedvoel-popliedjie oor ’n paartjie wat in verskillende dorpe vasgevang is gedurende grendeltyd. Die ou sit en wonder hoe dit met sy meisie gaan en of hulle verhouding dit gaan oorleef. Dan besef hy hulle liefde het nog altyd bly staan, ongeag van alles wat hulle al moes deurmaak, en dat hulle hierdie struikelblok ook sal oorkom.
“Sekere liefdesverhale en verhoudings het net daardie spesiale iets wat maak dat dit selfs deur die moeilikste tye oorleef. Daardie verhouding is rotsvas,” verduidelik Hugo, wat die liedjie saam met Nic Jordaan van Posduif/Rubber Duc geskryf het.
“My verhouding met my verloofde voel vir my so. . . en baie van die liedjie beskryf ons verhaal.
“Liefde is” is ’n baie energieke, goedvoel-liedjie wat gaan maak dat jy nostalgies voel, maar ook wil dans. Dis iets positief na ’n redelike donker tyd en ons hoop luisteraars gaan dit geniet en kliphard speel!”
Adam maak al sedert 2011 opslae in die Afrikaanse vermaakbedryf en het al talle musiektoekennings (Ghoema en SAMA), goue albums en radiotreffers op hul kerfstok, en is veral bekend vir liedjies soos “Liefde Soldaat”, “Kasteel”, “Gebore om jou lief te hê”, “Goud”, “Hoogtevrees” en “Sal oorlog vir jou maak”.
Hulle energieke optredes, unieke klank en pragtige lirieke het van die begin af aanklank by gehore van alle ouderdomme gevind en vir hulle optredes losgeslaan by van die grootste geleenthede, feeste, skoue en funksies in die land.
Christoff de Beer, of Stoff soos almal hom noem, sal voortaan Reynardt Hugo se plek in die groep volstaan. Hierdie veelsydige musikant werk al vir 16 jaar in die musiekbedryf en was deel van groepe soos Roots of Youth, Rymstoff en 7 Grade Noord. Hy was ook vir drie jaar Kurt Darren se hoofkitaarspeler.
“Elke dag saam met Kyle en Hugo is ’n fees. Hulle maak musiek weer lekker en gee my die kans om net weer myself te wees, eerder as ’n gewone sessiemusikant wat alles perfek moet doen,” sê hy.
Hugo voeg by: “Ek en Christoff ken mekaar al lank en het al verskeie kere saamgewerk. Hy het ook vir ’n rukkie ingestaan by Adam voordat Kyle by ons aangesluit het. Ek het regtig baie respek vir hom as mens en musikant.”
Volgens Adam is “Liefde is” die perfekte lusmakertjie vir wat hulle vir die toekoms beplan.
“Ons is baie trots op die liedjie en dit was nog altyd vir ons belangrik om met moderne klanke en melodieë vorendag te kom. Ons is baie lief vir ons taal en glo wat ons doen nie hoef terug te staan vir internasionale popmusiek nie. Gedurende grendeltyd het ons baie nuwe musiek geskryf en ons kan nie wag dat mense dit moet hoor nie!”
Die liedjie is aanlyn op iTunes beskikbaar.
Bron: Starburst Promotions

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie