Adelé soek nuwe uitdagings
Driekamp
Tielman van Lill - Die afgelope naweek se eerste wêreldwye virtuele tweekampkompetisie was so gewild dat Ironman Internasionaal besluit het om komende naweek sy tweede virtuele byeenkoms aan te bied, dié keer oor ’n korter afstand.
Afhangend van deelnemers se nasionale maatreëls, het hulle ’n keuse om die drie dissiplines binnenshuis of in die buitelug te doen. Vanweë die algehele inperking in Suid-Afrika sal Divan du Plooy, die Namibiese driekampkampioen wat hom op Jeffreysbaai bevind, nie sy kompetisie in die buitelug kan beoefen nie.
In Namibië het atlete nog die voorreg om op die oop pad hul drie dissiplines af te handel. Adelé de la Rey het die afgelope naweek haar voorbereiding van die afgelope vier maande goed aangewend toe sy algeheel negende in die vroueafdeling van Ironman se eerste wêreldwye virtuele tweekamp oor 116 kilometer geëindig het.
De la Rey, in die ouderdomsgroep 40 tot 44 jaar, het die eerste 5 km in 24 minute 12 sekondes kafgedraf, die stophorlosie vir die 90 km fietsry (binnenshuis) teen 37.76 km/h op 2:23:02 laat staan en die halfmarathon oor 21.1 km in 1:48:22 voltooi. Haar totale tyd vir die 116 km was ’n puik 4:35:36.
Sy sal die naweek wel vir die korter weergawe oor 5 km hardloop, 40 km fietsry en 10 km hardloop by die huis aantree. Maar sy sê sy is minder in haar element in sulke korter Sprint-kompetisies.
“Ek is eintlik meer ’n atleet vir langer afstande, soos die 70.1 Ysterman. Dus het die afgelope naweek se kompetisie my beter gepas. Komende naweek is die afstande veel korter en dus meer in die kraal van die jonger, sterker atlete. Dit raak moeilik vir ons ouer atlete om so ’n vinnige pas te handhaaf,” sê sy.
Die afgelope naweek se virtuele resies was eintlik ’n belewenis.
“Dit voel amper soos ’n regte resies; ek het selfs ’n bietjie op my senuwees geraak voordat ek moes wegspring. Die fietsry het heel goed afgeloop, want ek het dit op Zwift gedoen. Die hardloopskofte (op ’n trapmeule) was erg! Veral die 21 km was ’n hengse uitdaging.
“Dit is vir my baie moeilik om myself te druk as daar nie ’n wortel voor my neus is om te jaag nie! Ek ondervind dieselfde in my oefensessies. Die 5 km was lekker kort, so dit was makliker om myself hard te druk. Boonop is Windhoek se strate so stil, want daar is niks wat jou aandag bietjie kan aflei nie …
“My voorbereiding vanaf Januarie was vir die Ysterman in Port Elizabeth waar die swem 3.8 km, fietsry 180 km en hardloop 42.2 km sou wees. Die oefenprogram verskil heelwat vir die korter afstande, maar ek sal kyk hoe dit die naweek gaan.
“Ek het laasjaar November besluit ek wil in 2020 weer die volle Ysterman doen wat op 28 Maart in Port Elizabeth sou wees. Ek was in 2014 en 2015 laas met die Ysterman in Port Elizabeth. Genadiglik het ek intussen in 2016 die Roth Challenge in Duitsland gedoen, asook in 2018 die Klagenfurt in Oostenryk.
“Ek het wel in Desember vir die Ysterman begin skaaf, maar die werklike harde werk het ek vanaf Januarie 2020 begin doen. Ek wou in PE graag onder die toptien vroue in my ouderdomsgroep eindig nie, want net om ’n plek in Cona, Hawaii, vir die Ysterman-wêreldkampioenskap los te slaan is die absolute hoogtepunt vir enige driekampatleet.
“Maar met die PE-byeenkoms uitgestel tot November, het my doelwitte heelwat verander. Ek het nou meer tyd om te verbeter.
“Ek geniet natuurlik fietsry geweldig baie, want elke resies maak jou sterker en bring jou nader aan jou doelwitte wat jy in driekamp wil bereik.
“Swem is beslis nie my sterk punt nie, maar met die hulp van ’n vriend het ek die afgelope tyd baie verbeter. Sodra die inperkingstydperk verby is, gaan ek nog harder aan my swemtegniek werk.
“Driekamp is my passie. Ek sal graag so lank as moontlik kompeterend wil deelneem. Solank ’n mens hou van wat jy doen, sal jy altyd suksesvol wees.
“Ek het in 2018 aan die driekampwêreldkampioenskap in PE deelgeneem en 2019 in Nice, Frankryk.
“Vanjaar sou die driekampwêreldkampioenskap Novembermaand in Nieu-Seeland plaasgevind het. So vanjaar se wêreldkampioenskap is uit vir my, aangesien ek die volle Ysterman in November gaan doen. Afhangend hoe dit in November verloop, sal ek dalk eerder probeer vir nog ’n volle Ysterman om te kwalifiseer vir ’n plek by Cona. Ek dink in ons ouderdomskategorie is daar gewoonlik net een plek beskikbaar,” het De la Rey aan Republikein vertel.
Nadat sy eers in 2013 haar eerste 20 km ondervinding op ’n bergfiets teen die Koperbergpas gehad het, het sy daardie jaar haar eerste Desert Dash in ’n viermanspan gepak. Sy vertel dit is waar die fietsrygogga haar ernstig gebyt het.
“In 2016 het ek die Desert Dash solo gery en was tweede ná Rebecca Robisch, wat ’n gerekende internasionale atleet is. In Januarie 2017 het Brian van Rensburg van PSG aangebied om my te borg! Sjoe ek was behoorlik uit die veld geslaan!
“Sederdien het ek hope byeenkomste met die hulp van PSG gepak en suksesvol voltooi. Vandag is dit vier jaar later en hulle ondersteun my steeds. Ek bedank graag vir Brian en PSG vir hul volgehoue ondersteuning en geloof in my,” het De la Rey afgesluit.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie