Advokaat ondervra Bok uit Londen
Rugby
Tinus van Staden – Die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi, wat positief vir verbode middels getoets is, se verhoor op 15 September sal nie uitsluitlik virtueel plaasvind nie, maar hy sal ook uit Londen deur ’n senior advokaat ondervra word.
Dyantyi is in Julie 2019 positief getoets vir die gebruik van die anaboliese steroïede metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033. Sy verhoor sou reeds in Mei plaasgevind het, maar die Covid-19-pandemie het sake vertraag.
Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), het Maandag aan Netwerk24 bevestig Dyantyi word volgende Dinsdag verhoor.
“Hierdie verhoor sal nie heeltemal virtueel plaasvind nie. Getuies sal virtueel getuig en Saids se senior advokaat vir hierdie voorval sal sy ondervraging via Zoom uit Londen doen,” sê Galant.
“Die verhoor se paneel, die atleet se regsverteenwoordigers en die res van die Saids-regspan sal fisiek in ’n konferensiekamer wees.”
Dyantyi staan die bevindinge teen. Hy het in Augustus in ’n onderhoud met Sport24 vir die eerste keer in die media oor sy skuldigbevinding gepraat.
Hy sê hy het sy sosiale media-profiele uitgewis net ná die positiewe toets en het vir twee maande slegs by die huis gebly.
“Ek het my onttrek, want ek het gevoel as daar ’n kans is dat ek sal oorleef, moet ek op my eie wees,” het hy aan Sport24 gesê.
“Toe ek wel uit die huis uit gegaan het, het ek ’n angsaanval gekry en in die hospitaal beland.”
CHILIBOY APPELLEER
Nóg ’n gewese Springbok, die haker Chiliboy Ralepelle, is in Julie vir agt jaar geskors nadat hy skuldig bevind is aan die gebruik van die verbode middel zeranol.
Dit is Ralepelle se derde positiewe geval en tweede skuldigbevinding.
Hy hou egter vol dat hy nie die middel doelbewus ingeneem het nie en het selfs sy Christenskap in sy verweer gebruik as ’n rede waarom hy nie met opset sou verneuk nie.
Ralepelle het appèl aangeteken en verskyn volgens een van sy prokureurs, Hendrik Hugo van ENSafrica, op 13 Oktober voor ’n appèltribunaal.
Ralepelle se regspan appelleer teen sy skuldigbevinding en teen sy straf. Hulle voer onder meer aan die beampte wat vir sy monster verantwoordelik was, het nie aan die voorgeskrewe standaarde van die toetsproses voldoen nie.
Hulle voer ook aan dié beampte het van die waarheid afgewyk in sy getuienis en Ralepelle se weergawe van gebeure moet dus aanvaar word.
Sy regspan meen verder dat die tugpaneel verkeerdelik bevind het dat Ralepelle nie kon bewys dat hy nie die bedoeling gehad het om te verneuk nie.
Hulle sê indien die paneel se besluit op grond van die verdienste van die saak korrek was (wat hulle teenstaan), was die straf verkeerd. Ralepelle moes volgens sy regspan tussen twee en ’n maksimum van vier jaar geskors geword het en nie vir agt jaar nie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie