Afgesette Doornboom-gesinne nou padswerwers
'n Samaritaan het die geraaktes grond aangebied, maar hulle beskou dit as hul laaste uitweg.
Catherine Sasman - Die 27 huisgesinne wat van eenheid B op die plaas Doornboom, nr. 316, in die Hardapstreek verwyder is, bevind hulle uitgelewer en sonder water in die padreserwe langs die D1282-distrikspad.
Uitsettingskennisgewings is in November verlede jaar aan hulle oorhandig, waarna hulle op 4 Junie van die plaas verwyder is en met hul vee en huisraad langs die distrikspad afgelaai is.
Volgens inligting is die boere van aangrensende plase baie ongelukkig oor die omstandighede en die groep huisloses het intussen opdrag van die Paaieowerheid (RA) gekry om hul vee uit die padreserwe te verwyder.
"Waarheen moet ons gaan?" wil hul woordvoerder, mnr. Willem Katuna, weet.
Hy sê sedert hulle van die plaas af verwyder is, kon hulle daarin slaag om steeds water op Doornboom te tap.
Intussen het 'n buurman, deur wie se plaas hulle moes beweeg om water te gaan haal, die hekke gesluit en kan hulle nie meer op Doornboom uitkom nie.
Die groep was aan die einde van Mei in gesprek met die kantoor van die Hardap-goewerneur, me. Esme Isaack, en het ook met die streekraadslid, mnr. Edward Wambo, vergader. Isaack het hom opdrag gegee om na hul lot om te sien.
Katuna sê nóg die goewerneur se kantoor nóg die streekraad het tot dusver met 'n oplossing na vore gekom.
Die groep was ook veronderstel om op 18 Junie met beamptes van die kantoor van die eerste minister te vergader, maar dit het nie gebeur nie.
Volgens Katuna het Wambo gesê hulle moenie onrealistiese verwagtinge koester nie en net 'n handjie vol sal waarskynlik gehelp kan word.
Wambo wou by navraag nie hierop kommentaar lewer nie.
Me. Victoria Kauluma het al 27 huisgesinne in Mei gratis lappies grond op haar plaas Lahnstein nr. 193, van 20 000 ha, aangebied.
Katuna sê hulle het egter nie vervoer om daar uit te kom nie. Hoewel die groep haar aanbod aanvaar het, sê Katuna nou hulle beskou dit as ’n laaste uitweg.
Verteenwoordigers van die geraakte gesinne wil hulle nou tot die goewerneur van die Khomasstreek, me. Laura Mcleod-Katjirua, wend in die hoop om iewers in dié streek hervestig te word.
AGTERGROND
Die groep het volgens Katuna in April 2016 hul intrek op Doornboom geneem nadat hulle deur die voormalige minister van grondhervorming, mnr. Alpheus !Naruseb, aangeraai is om plase wat onbewoon is, te betrek en vir hervestiging aansoek te doen. Hy het hulle glo ook aangemoedig om boere met meer as een plaas te versoek om hul grond vir die regering aan te bied.
Katuna sê kort nadat hulle hul intrek op dié regeringsplaas van 4 000 ha geneem het, is dit vir hervestiging geadverteer en aan die begunstigde, mnr. Hermann !Garus-Oab, toegeken.
"Die plaas is geadverteer terwyl ons daar gewoon het. Ek wil hê diegene wat aan ons beloftes gemaak het, moet opstaan en verantwoordelikheid daarvoor neem," sê hy.
'n Regeringsamptenaar wat by die uitsettingsproses betrokke was, maar verkies om anoniem te bly, meen die regering kon meer toegeeflik gewees het en 'n verblyfsooreenkoms vir die 27 gesinne met die nuwe hervestigingsboer aangegaan het.
Katuna sê hulle probeer as 'n groep sedert 2014 al om vir hervestiging in aanmerking te kom, sonder sukses.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie