Aflosse maak Funduro gewild
Aflosse maak Funduro gewild

Aflosse maak Funduro gewild

Organiseerders hoop dat die momentum van inskrywings vir die res van die seisoen behou word.
Met verwagtinge van omtrent honderd inskrywings, was die organiseerders van die geskiedkundige eerste Namibiese Funduro meegevoer deur die ondersteuning van sowel motorfietsryers as toeskouers.

Naby aan 120 inskrywings is ontvang en die eerste resies se wegspring was Saterdagoggend net ná tienuur op die plaas Otjihase.

Die motorfietse het gewissel van klein 50cc Yamaha's, tot 'n verskeidenheid MX en Enduro-motorfietse en 'n magtige BMW 1200cc HP2 Adventure.

Die resies se formaat was 'n aflos tussen spanne wat lukraak uit 'n hoed saamgestel is tydens die ryers se vooraf ontmoeting vir instruksies.

Ryers het twee-twee weggespring met tussenposes van 30 sekondes, wat verseker het dat almal gou in mekaar se stof gery het.

Ná die eerste baanrondte moes elke span se eerste jaer die armbande waarmee hul tydhouding geregistreer is, aan die volgende spanmaat oorgee.

Die kuipe was 'n miernes toe die eerste 37 spanne ná 'n baie vinnige eerste rondte ingekom het, met Marcel Henle wat vooraan die pas aangegee het.

Die belangrikste faktor in die aflos was egter ewe veel hoe elke span 'n deurlopende hoë tempo sou handhaaf. In die tweede rondte was Karl Heinz Erni die vinnigste om die baan om sy span terug in die wedren te bring.

In die derde rondte was Mark Roesner die vinnigste, wat die finale uitslag van die eerste resies soos volg te staan gebring het:

1 Heiko Stranghöner, Ronnie Adams, Derrick Clark.

2 Teddy Kausch, Karl Heinz Erni, Andre Steinfurth.

3 Marcel Henle, Axel Foerster, Mark Roesner.

Resies nommer 2 het net ná 13:30 weggespring. Hierdie keer was die volgorde omgekeerd, met die stadiger ryers in die beginskof van die aflos en die vinniger jaers wat sake sou afsluit.

Die wenspan van resies 1 was weer van die begin af aan die voorpunt en het die voortou enduit behou. Ongelukkig het Karl Heinz Erni geval, wat meegebring het dat die vorige resies se tweedebestes nie kon klaarmaak nie. Hy het spoedig aandag van die mediese reaksiespan gekry.

Uitslae van die tweede resies was soos volg:

1 Heiko Stranghöner, Ronnie Adams, Kai Hennes (plaasvervanger vir Derrick Clark)

2 Marcel Henle, Axel Foerster, Mark Roesner

3 Olaf Pack, Johan Meyer, Francois Steyn

In geheel is die dag as 'n sukses beskryf. Die groot getal inskrywings was 'n welkome verskynsel en almal het die konsep terdeë geniet.

Die volgende byeenkoms is op 17 Maart op die plaas Omakawara in die Witvlei omgewing. Die resies sal as “The Valley of a Thousand Turns” bekend staan vanweë die kronkelende aard van die resiesbaan.

Omakawara is tradisioneel een van die gewildste byeenkomste op die kalender en die organiseerders kry gereeld meer as 90 inskrywings. Die baan is nie besonder tegnies nie en behoort dus ook pret te wees vir enige ryers wat die Funduro geniet het en steeds betrokke by die sport wil bly.

Vir meer inligting kan gerus 'n oog op www.namibianenduro.com of die Facebook-blad Namibian Enduro Club gehou word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer