Afrigter bedank: NRU het ander siening
Afrigter bedank: NRU het ander siening

Afrigter bedank: NRU het ander siening

Die NRU-president is persoonlik teleurgesteld dat die verhouding met die afrigter vir wie hy hom so sterk beywer het, skipbreuk gely het.
Andrew Poolman
Andrew Poolman

Die Namibië Rugby-unie (NRU) se president, mnr. Corrie Mensah, het ’n geheel verskillende siening van die omstandighede rondom die bedanking van mnr. Johan Diergaardt as hoofafrigter van die nasionale span.

Nadat Diergaardt in gister se koerantuitgawe ’n lys redes vir sy besluit uiteengesit het, het Mensah daarop gewys dat in die afrigter se bedankingsbrief net ’n enkele hoofrede aangevoer is.

Diergaardt se November-vergoeding was oënskynlik die hoofkwessie, toe hy ’n verminderde betaling ontvang het terwyl hy ’n aantal oefensessies misgeloop het vanweë hospitalisasie vir ’n knievervangingsoperasie.

In die prokureursbrief waarin Diergaardt sy bedanking oorgedra het, word glo aangevoer dat die NRU geen regsgronde het om onbetaalde verlofdae van die afrigter se vergoeding af te trek nie.

In sy verweer sê Mensah dat Diergaardt in die opstel van sy kontrak daarop aangedring het dat hy, vanweë sy eie sakebelange, nie as ’n werknemer bestempel moet word nie, maar as ’n diensverskaffer.

“Op grond hiervan is hy nie soos ’n werknemer onder die arbeidswet op siekverlof of gewone verlofdae geregtig nie. ’n Vertrouensbreuk sou wees indien die NRU die beginsels van die kontrakooreenkoms verbreek het, maar die administratiewe funksie is korrek volgens sy kontrak uitgevoer.

“Om menslikheidsredes sou ons uiteraard oop gewees het om die saak te bespreek, maar sy benadering om ’n prokureursbrief aan ons te rig en op die volle betaling aan te dring, het nie veel ruimte hiervoor gelaat nie.

“Op ’n persoonlike vlak is dit ook teleurstellend. Ekself en die NRU-raad het baie kritiek in rugbykringe verduur vir die feit dat Johan Diergaardt ons voorkeurkandidaat was om ná Phil Davies se vertrek oor te neem.”

Mensah sê die hoofafrigter het ingestem om as “waarnemend” te dien tot tyd en wyl Namibië se hoëprestasietoelaag van Wêreldrugby goedgekeur en van krag word.

“Die voortslepende Covid-10-pandemie het Wêreldrugby se begrotingsproses vir die vierjaarsiklus tot 2023 vertraag. Tot nou was ons net aan ’n tussentydse noodbegroting onderhewig.”

ANDER BESWARE

Hoewel Mensah vermoed dat Diergaardt se ander gelyste besware net bykomende motivering was om die afrigter se bedanking te regverdig, het hy nietemin punt vir punt ook hierop gereageer.

Diergaardt het sy ontevredenheid laat blyk dat hy aanvanklik toegelaat is om sy hulpafrigters aan te wys, voordat die NRU later beslis het dat hulle om dié poste moet aansoek doen.

Mensah sê: “Hierdie personeel word deur die NRU betaal, nie deur Diergaardt nie. Die NRU-raad moet dus aanstellings bekragtig.

“Die afrigter se benoemings sal uiteraard voorkeur kry en ons het nie in beginsel ’n beswaar teen enige van die individue nie. Die proses moet egter deursigtig en regverdigbaar wees wanneer dit buite die strategiese plan geskied.

“Diergaardt se eie aanstellingsproses was deursigtig. Hoewel hy die raad se voorkeurkandidaat was, het hy uiteindelik op die kriterialys net ’n enkele punt beter as die volgende beste kandidaat gevaar.”

• Sover Diergaardt se besware oor spelers se welsyn betref, sê Mensah: “Ek glo nie dat die NRU in enige stadium van sy bestaan die vlak van bystand aan nasionale groeplede buite die kompetisieseisoen gelewer het soos wat tans die geval is nie.

“Ná lang onderhandeling met Wêreldrugby het ons toestemming gekry om inkomste wat ons uit ’n gunstige valuta-transaksie verdien het, as bystand van N$1 000 per maand, vir drie maande, aan die spelers uit te betaal.

“Die proses om die nasionale oefengroep saam te stel en hul oefenbywoning te monitor, was in Diergaardt se hande, maar het ook gesloer. Geen proewe kon gehou word nie en spelers is dus half uit die bloute opgeroep.

“Die goedgekeurde groep wat vir bystand kwalifiseer, is eers twee weke gelede gefinaliseer. Ons moes intussen ook kwotasies kry vir verskaffers van die daaglikse etes aan die spelers.”

Mensah sê hy vind dit vreemd dat Diergaardt sterk oor die spelers se bywoning van ’n kommersiële gimnasium voel, terwyl die NRU hoëprestasiesentrum se geriewe goed genoeg vir die 2019 Wêreldbekerspan was.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!