Afrigters kan met tannie Ans koppe bymekaar sit

Opleiding
Die Olimpiese en wêreldkampioen en wêreldrekord-naelloper, Wayde van Niekerk, se afrigter tannie Ans Botha sal die genooide motiveringspreker wees by ’n forum vir alle sportafrigters vroeg in volgende maand.

Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) en die Statebondspelevereniging bied op Saterdag 8 September sy tweede nasionale afrigtersforum vir die jaar aan.

“Ons het besef dat platforms soos dié baie belangrik is om ons afrigters ingelig te hou en om ’n interaktiewe kanaal vir die vloei van idees te skep. Die aanbieders sal eerstehandse inligting verskaf om deelnemers op die hoogte van nuwe neigings wêreldwyd te hou,” sê Manuel Carballo en Marja Woortman in die NNOK se uitnodiging wat gister uitgestuur is.

Die slypskool sal informeel wees en sal aan deelnemers die geleentheid bied om met die aanbieders en ander deelnemers idees te wissel.

Die forum word by die Sport Klub Windhoek in, Sean McBridestraat, Olympia aangebied (08:30 tot 19:00). Deelname is gratis, danksy die Olimpiese Solidariteitsbeweging, en sluit middagete en aandete in.

Tannie Ans Botha is verlede jaar as die IAAF se afrigter van die jaar aangewys. Sy sal as motiveringspreker ’n praatjie getiteld “From grass roots to Olympics” aanbied.

Ander sprekers sluit in dr. Elge Drews (chiropraktisyn en homeopaat), Innes Erasmus (fisioterapeut van die Namibiese rugbyspan), Jaco van den Berg (biokinetikus), die verspringafrigter Charley Strohmenger (voeding vir sportprestasie) en Thabo Marotola (Hoops for Hope).

Praktiese, pretgevulde sessies word ook ná die middagete aangebied.

Voornmenede deelnemers word versoek om hul bywoning per e-pos na [email protected] te bevestig. ’n Facebook-blad (NNOC Coaches Committee) word ook gebruik om inligting te deel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer