Afrika midde-in nuwe Koue Oorlog

Afrika, so lyk dit, word een van die belangrikste strydtonele van ’n nuwe Koue Oorlog, dié keer tussen Amerika en China.
Leopold Scholtz - ’n Mens kan die toenemende rol van Afrika as die been waarom honde baklei nie sonder ’n vinnige blik op die verlede verstaan nie.

Afrika word hier gedefinieer as die vasteland suid van die Sahara, aangesien Noord-Afrika in alle belangrike opsigte ’n ander wêrelddeel vorm.

’n Gemeenskaplike draad loop deur die internasionale politieke rol wat Afrika in die geskiedenis gespeel het. Dit is dat dinge mét die vasteland gebeur het; anders as Europa, Asië, die Midde-Ooste of Noord-Amerika het hy nie dinge láát gebeur nie.

Afrika het in die 17de eeu belangriker begin word as steunpunt vir Europese moondhede om die handelsroetes na Oos-Asië te oorheers. Dié wedywering tussen byvoorbeeld Nederland en Brittanje het die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot in die 19de eeu ingrypend beïnvloed.

In die laaste kwart van die 19de eeu het die sogenaamde “Scramble for Africa” plaasgevind toe Brittanje, Duitsland, Frankryk, Italië en Portugal oor mekaar geval het om dele van die vasteland te annekseer. Dié imperialistiese era het, op die keper beskou, betreklik kort geduur, want in die jare 50 van die 20ste eeu het Europa, ernstig deur twee wêreldoorloë verswak, hom byna holderstebolder uit Afrika begin terugtrek.

Die koloniale era is opgevolg deur ’n globale wedywering tussen die twee nuwe magsblokke in die wêreld, die breë Weste (Amerika en Europa) enersyds en die Sowjetunie met sy satellietstate andersyds. Albei kante het kliphard gevry na die guns van die nuwe geslag politieke leiers in die pas onafhanklik geworde Afrikastate.

Baie was op die spel. Nie alleen is Afrika ongelooflik ryk aan natuurlike hulpbronne nie, maar as jy sy geografiese posisie bekyk, is dit dié plek waarmee die twee magsblokke mekaar as’t ware met ’n flankbeweging kon tref.

Wie Afrika beheer het, was in ’n stewige posisie om die teenstander te omvleuel. En dus is miljarde in dié tyd in Afrika ingepomp om welwillendheid te koop.

Die probleem was dat verreweg die meeste van dié geld in die sakke van ’n geslag korrupte politici verdwyn het. Bitter min het die lewe van die arm massas verbeter.

Afrika ekonomies belangrik vir China

Ná die ineenstorting van die Sowjetunie en die einde van die Koue Oorlog was dit die Weste (en die Westerse demokratiese model) wat ’n tyd lank die botoon in Afrika gevoer het.

Maar die laaste dekade of anderhalf het China stilweg sy pad in Afrika begin inboor, sonder fanfare, sonder toesprake of parades, eenvoudig deur allerlei ekonomiese ontwikkelingsprojekte op steeds groter skaal aan te pak.

Wat hier belangrik is, is dat die Chinese – anders as die Weste – nie eis dat Afrika menseregte moet nakom of demokratiese standaarde moet handhaaf nie. Aanvanklik word géén eise hoegenaamd gestel nie.

Allengs word dit egter subtiel duidelik: Dit sal gewaardeer word as Afrika op die internasionale politieke forums China se kant kies. En mettertyd, kan aanvaar word, sal daardie druk, indien nodig, steeds minder subtiel word.

Zambië is ’n goeie voorbeeld. Die land skuld China reeds êrens tussen $6 miljard en $10 miljard, en nou het die Chinese “aangebied” om die land se nasionale energievoorsiener as kompensasie oor te neem.

Afrika bly ekonomies belangrik, veral vir ’n land soos China wie se verstommende ekonomiese ontwikkeling die laaste dekade of twee enorme hulpbronne verg. Afrika, word geskat, bevat 30% van die aarde se koolstof-waterstofreserwes, met inbegrip van allerlei minerale wat essensieel vir die vervaardiging van moderne wapentuig is.

Dit pas in by China se breë buitelandse beleid, wat daarop gemik is om vir homself ’n posisie as supermoondheid – desnoods ten koste van Amerika – uit te kerf. Die land se strydkragte, veral die vloot, is die laaste tyd enorm gemoderniseer, en met sy militêre spierballe het hy eenvoudig 90% van die Suid-Chinese See, tot vlak voor die kuste van Viëtnam, die Filippyne, Borneo en Indonesië geannekseer.

China bou ook sy eerste oorsese maritieme steunpunt, in die strategies belangrike Djibouti, nogal naby ’n Amerikaanse basis. Die kunsmatige eilandereeks wat die land in die Suid-Chinese See bou, beteken dat China die toegang van die Stille Oseaan na die Indiese Oseaan (en dus Afrika) beheers.

Die gepaardgaande basis in Djibouti bewys dat China se belangstelling in die Indiese Oseaan en Afrika duidelik onder meer strategies van aard is.

’n Tweede ‘syroete’

Daarby brei China sy politieke invloedsfeer uit deur die skep van ’n tweede “syroete”, genoem na die handelsroete tussen China en die Romeinse Ryk eeue gelede.

Dié roete word verbind deur nuwe spoorweë, paaie, lug- en maritieme verbindings, en grootskaalse beleggings.

Amerika het maar pas wakker geskrik. In ’n toespraak verlede maand het pres. Donald Trump se nasionale veiligheidsraadgewer, John Bolton, gewys op die wyse waarop China (en in mindere mate ook Rusland) in Afrika indring. Die grootste bedreiging in Afrika, het hy gesê, kom nie uit die geledere van ekstremistiese Moslems of armoede nie, maar van China en Rusland.

Bolton het dus ’n fonds ter waarde van US$60 miljard geskep om China se invloed in Afrika hok te slaan. Maar volgens sommige bronne het China slegs in die jare 2000-’14 ’n volle US$121,6 miljard in Afrika belê.

Belangriker nog: Soos Grant Harris, ’n raadgewer oor Afrika-sake vir pres. Barack Obama, dit gestel het: “Jy kan nie ’n veelfasettige, langtermyn- Chinese strategie beantwoord slegs deur meer beleggings nie. Washington moet begryp dat China in verhoudinge belê, nie slegs in infrastruktuur nie.”

Dat Trump Afrika ’n paar maande gelede as ’n reeks “sh*thole”-lande bestempel het, het ook nie juis gehelp nie.

Die Britse nuusagentskap Reuters het onlangs die ekonomiese data in oënskou geneem en gewys dat China reeds ’n dekade lank Afrika se belangrikste handelsvennoot is. Die gevolgtrekking was dat China in 2019 onder Amerika en Europa se ekonomiese betrokkenheid in Afrika gaan uitseil.

‘Kom ons werk saam in Afrika’

Om sake te vererger, speel die Chinese die spel uiters slim.

Hulle slaan nie met die ystervuis op die tafel of maak minagtende opmerkings oor hul mededingers nie.

Verlede week het pres. Xi Jinping byvoorbeeld ’n boodskap aan Trump gestuur waarin hy voorgestel het dat die twee in Afrika saamwerk, pleks daarvan om mekaar teen te werk. Dit moet ook gesien word teen die agtergrond van die feit dat Xi die dreigende handelsoorlog met Amerika tot ’n sagte einde wil bring.

Nietemin bly die objektiewe teenstellings bestaan. In die konserwatiewe Amerikaanse aanlyn publikasie National Review skryf die historikus Arthur Herman, navorsingsgenoot aan die Hudson-Instituut in Washington: “Honger na ekonomiese voordeel en kontant, het die een Afrikastaat ná die ander hom gewillig in ’n Chinese afhanklike staat omgeskep.”

In Moskou sit die Russe met kwalik bedekte plesier na die situasie en kyk. Tussen Rusland en China is ’n losse strategiese bondgenootskap aan die ontwikkel, en dis logies dat ’n verstandhouding oor invloedsfere in Afrika deel daarvan kan wees.

Afrika was altyd die vasteland waarmee dinge gebeur het, nie die een wat dinge láát gebeur het nie. Ook in die huidige tyd bly dit die geval: Hy is die gras waarop die bakleiende olifante trap. - Netwerk24/The Conversation

* Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer