Afrika moet beter op droogte voorberei
Landbou moet die fokusgebied wees
Elvira Hattingh - “Korttermyningryping tydens droogtes behandel net die simptome van ’n groter probleem. Dit is tyd vir ’n paradigma-skuif in Afrika sodat ons proaktief kan wees en van ongekoördineerde, nie-omvattende droogtereaksies kan wegbeweeg.”
Dr. Daniel Tsegai van die Verenigde Nasies (VN) se konvensie om verwoestyning te bekamp, sê Afrika se vooruitgang word deur droogtes ondermyn, maar dat oplossings hiervoor bestaan en dat ’n “kontinentale poging” nodig is om die probleem te takel.
Hy het tydens die opening van die Afrika Droogtekonferensie Maandag gesê droogte moet as ’n verbintenis tussen sektore binne ’n ekonomie en verskeie lande dien.
“Dit het tyd geword vir Afrikane om beter op droogtes voor te berei. Ons toekoms word bepaal deur hoe ver ons bereid is om te gaan om te oorleef. As ons niks doen nie, sal ons die bittere nagevolge tydens die droogtes van die toekoms dra,” het Tsegai gesê.
Volgens hom is daar enkele Afrika-lande wat reeds vordering maak met droogteplanne, wat die fokus op die vermindering van risiko’s en voorbereidheid plaas.
“Die meerderheid Afrika-lande gaan egter net voort soos altyd.”
Volgens hom moet meer lande daarop fokus om hul vroeë waarskuwingstelsels vir droogtes te versterk en onder meer ook langtermynprojekte aanpak – soos die ontwikkeling van besproeiingstelsels vir die kweek van gewasse.
“Afrika-lande moet hul bronne van water begin meet en monitor en water hergebruik.
“Ons moet ondersoek hoe meer droogtebestande gewasse gekweek kan word en versekeringskemas vir gewasse uitbrei.”
Hy het gesê Namibië het vanjaar die swakste oes in die afgelope 80 jaar gehad. Terselfdertyd het die huidige droogte Afrika-lande van “Ethiopië tot Zimbabwe” kruppel gelaat en tot 36 miljoen Afrikane geraak.
Elke land moet sy nasionale droogtebeleid ontwikkel en toepas en ook in tye van droogte met ander lande saamwerk.
“Ons weet dat droogtes al meer gereeld en hewiger sal word.
Wetenskaplikes sê in die vroeë 1970’s het sowat 10% tot 15% van die wêreld onder droogtes deurgeloop. Dié syfer het nou tot meer as 30% gestyg,” het Tsegai gesê. Hy sê dié syfer sal na verwagting in die toekoms verder versleg en arm en kwesbare mense sal die slegste daaraan toe wees.
Terselfdertyd het me. Tumusiime Peace, die Afrika-unie (AU) se kommissaris vir maatskaplike aangeleenthede, landelike ekonomie en landbou, ook gesê droogte het een van die fundamentele bedreigings vir Afrika se volhoubare ontwikkeling geword.
“Die ekonomiese en menslike koste verbonde aan droogtes is groot.
“Ons kan nie langer op reaktiewe strategieë staatmaak wat dikwels te laat en met ’n minimale impak kom nie. Ons kan nie toelaat dat elke droogte in ’n katastrofe ontaard of ons miljoene kos nie,” het sy gesê.
“Daar kán vir droogtes beplan word. Afrika moet wegbeweeg van krisis- en rampbestuur en pogings ter versagting as dit by droogtes kom. Die toekoms sal ernstige politieke toewyding vereis, asook proaktiewe droogtebestuursbeleide en die instelling van vroeë waarskuwingstelsels.”
Die impak van droogte raak die meeste mense in landelike gebiede.
Mnr. Babagana Ahmadu van die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het gesê hulle is gereed om Afrika te help met die ontwikkeling van droogteplanne.
“Volgens hom kan geen droogtebestuurstrategie suksesvol wees as die landbousektor nie as kern daarvan staan nie.
“Sowat 60% van Afrikane suid van die Sahara is direk van landbou afhanklik. Hulle maak op reën staat om gewasse te verbou, iets wat hulle die kwesbaarste teenoor droogte maak.”
Me. Kiki Gbeho, die VN-koördineerder vir Namibië, het gesê die onlangse El Niño-weerverskynsel het wêreldwyd 60 miljoen mense geraak – die meeste ooit. Volgens haar word nie genoeg geld bestee om die impak van natuurlike rampe te bekamp nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie