Afrika moet eie infrastruktuur finansier
Die vasteland staar verskeie uitdagings in die gesig wat betref die ontwikkeling van infrastruktuur en hoe om dit te versnel.
Estelle de Bruyn - Daar is 'n ernstige behoefte vir Afrikalande om meer geld te spaar ten einde self infrastruktuurontwikkeling te finansier.
So sê die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) se uitvoerende hoof van kliëntedekking, mnr. Mohan Vivekanandan. Hy was tydens 'n media-ontbyt as deel van die week lange byeenkoms van die Program vir Infrastruktuurontwikkeling in Afrika (Pida) verlede Dinsdag op Swakopmund aan die woord. Volgens hom moet die feit dat Europese skenkers Afrika se ontwikkelingsprojekte finansier op die gebiede van spoorlyne, lugvaart en die opwekking van energie, hersien word.
Ander uitdagings wat hy geïdentifiseer het, is die vermoë van Afrikalande om met projekte vorendag te kom wat banke vir finansiering sal goedkeur. Vivekanandan sê die huidige situasie laat min beweegruimte vir beleggings deur banke en skenkers.
Vivekanandan sê in gevalle waar projekte nie bankgoedkeuring kry nie, word dit deur vennootskappe tussen die staat en private sektor gefinansier. Sodanige projekte is egter in die algemeen klein en skep min werkgeleenthede.
Tydens die opening van die byeenkoms het die minister van werke en vervoer, mnr. Alpheus !Naruseb, 'n toespraak gelewer.
Hy het gesê Pida is deur die Afrika-unie (AU) se kommissie, die Nuwe Vennootskap vir Ontwikkeling in Afrika (Nepad) se agentskap vir beplanning en koördinering, die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB), die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika (Uneca) en streeksekonomiese gemeenskappe ontwikkel om ekonomiese integrasie in die streek te bevorder deur Afrika se infrastruktuurgaping te oorbrug.
Pida is daarop gemik om die totstandkoming van streek- en kontinentale infrastruktuurprojekte in vervoer, energie, inligting en kommunikasietegnologie, asook oorgrens-water te versnel.
Pida is in Januarie 2012 deur AU-staatshoofde en regerings aanvaar.
Dit het ten doel om ekonomiese en maatskaplike integrasie te fasiliteer deur die skep van kontinentale en streekmarkte. Dit moet ook lande bystaan om vooruitskattings van behoeftes in infrastruktuurdienste te doen en mededingendheid aanmoedig. Dit kan gedoen word deur doeltreffendheid te verbeter, ekonomiese groei te versnel, integrasie met die wêreldekonomie te fasiliteer, lewensomstandighede te verbeter en intra-Afrika-handel te bevorder.
Die hoofbestuurder van Nepad se agentskap vir beplanning en koördinasie, dr. Ibrahim Mayaki, het by die geleentheid gewys op wat beplan word.
Nepad het vanjaar die sogenaamde Vyf Persent Agenda van stapel gestuur. Die veldtog is daarop gemik om beleggings in Afrika se infrastruktuur deur bate-eienaars op die vasteland van die lae 1,5%-basis tot 5% te verhoog.
Hy sê die feit dat Afrika as 'n riskante beleggingsbestemming beskou word, is 'n persepsie en nie 'n werklikheid nie.
Mayaki wil ook hê die fokus op kragopwekking moet na 'n stelsel van 'n kragpoel vir die streek deur strategiese transmissieprojekte verskuif word.
“In die eerste vyf jaar ná die aanvaarding van Pida, het ons op kragopwekkingsprogramme gefokus. Betekenisvolle vordering is in die tyd gemaak. Sommige lande soos Suid-Afrika, Ghana en Ethiopië het die gaping tussen opwekking en verbruik verklein, en het nou 'n surplus kapasiteit vir kragopwekking.”
Daar word ook na projekte vir die fasilitering van lugvervoer en 'n enkele Afrika lugvervoermark gekyk.
Mayaki sê 80% van lugvervoer in Afrika word deur nie-Afrika-lugrederye gedra.
“Die vasteland is die tuiste van meer as 17% van die wêreldbevolking, maar ons lugrederye vervoer minder as 3% van globale lugverkeer.”
Die vrye beweging in die lug teen bekostigbare vervoerpryse moet volgens hom bevorder word.
Namibië se permanente sekretaris van werke en vervoer, mnr. Willem Goeiemann, sê daar is tans geen direkte Pida-projekte in Namibië nie. Hy het egter op die nuwe vraghouer-eindpuntgebou onder konstruksie by die hawe van Walvisbaai gewys en sê dit kan Afrika tot voordeel strek.
Pida-projekte wat in die vooruitsig gestel word, is die verlenging van die spoorlyn na Katima Mulilo en die Baynes hidroëlektriese projek wat in vennootskap met Angola aangepak word.
– Eie berig/Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie