Afrika praat oseaan-ekonomie

Die Afrika-unie het ’n tweedag-slypskool dié week vir verteenwoordigers van 54 Afrikalande in Windhoek aangebied.
Augetto Graig
Augetto Graig

’n Tweedag-slypskool wat dié week in Windhoek aangebied is, het die ontwikkeling van ekonomiese aktiwiteite wat voortspruit uit oseane, die sogenaamde Blou Ekonomie, op die Afrikavasteland onder die loep gebring.

Die Afrika-unie (AU) se kommissaris verantwoordelik vir die ontwikkeling van Blou Ekonomie op die vasteland, ambassadeur Josefa Sacko, het Dinsdag die slypskool geopen.

Volgens mnr. Ipeinge Mundjulu, die nasionale projekkoördineerder vir die bevordering van ’n oseaan-gegronde ekonomie in Namibië, het verteenwoordigers van 54 Afrikalande aan die geleentheid deelgeneem.

Sacko sê oseaan-ekonomie sluit gevestigde nywerhede soos visserye, seekos, toerisme, maritieme vervoer en skeepvaart in, asook opkomende en industriële revolusiebedrywighede soos mariene biotegnologie, mariene robotika, bloukoolstof-finansiering en hernubare mariene en waterenergie.

“Die see verteenwoordig die finale grens vir eksplorasie en vir innovasie,” sê sy.

“Die Blou Ekonomie verteenwoordig ’n nuwe grens vir die ontwikkeling van die Afrikavasteland en ’n mylpaal op die pad om die ‘Afrika wat ons wil hê’, te bewaarheid, soos in ons ontwikkelingsbloudruk Agenda 2063 uitgebeeld word,” het sy gesê.

Volgens haar is twee derdes van Afrika, óf langs die kus, óf eilande met beheer oor meer as 13 miljoen vierkante kilometer mariene grondgebied, insluitend 6,5 miljoen van die vastelandsplat.

“Asof dit nie genoeg is nie, word 65% van Afrika deur ’n netwerk van riviere, mere, akwifers en ander varswaterbronne bedek,” sê sy.

“Die Blou Ekonomie poog om hierdie kwesbare akwatiese hulpbronne te beskerm, en om terselfdertyd die volhoubare ontwikkeling van sektore wat van dié hulpbronne afhanklik is, te bevorder,” sê sy.

Die slypskool moet volgens haar insette van deelnemende lande, groeperings in streke, jong mense, vroue, die wetenskaplike gemeenskap en die privaat sektor in ag neem, om prioriteite vir die volgende vyf jaar vas te stel, en om dringende kwessies te identifiseer.

“Hierdie is ons eerste gesprek wat die mense van Afrika betrek sedert ons amptelik die Blou Ekonomies-portefeulje binne die AU se kommissie gevestig het,” sê sy.

“Dis hoekom dit belangrik is om vroue, jong mense, inheemse en kwesbare gemeenskappe te betrek en om ’n inklusiewe Blou Ekonomie te verseker,” sê sy.

Die adjunkminister vir visserye en mariene hulpbronne, me. Sylvia Makgone, het gesê die slypskool bied die geleentheid om Afrika te betrek en samewerkingsgeleenthede te identifiseer om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

Sy sê Namibië spog met 530 000 vierkante kilometer uitsluitlik oseaan-gegronde ekonomiese gebied in die suid Atlantiese Oseaan, wat vis, mariene minerale soos diamante, mariene toerisme en vervoer insluit en ’n poort tot ander buurlande in Suider-Afrika bied.

Die regering wil ’n bestuursraamwerk vir die ekonomiese ontwikkeling van Namibië se oseaan teen volgende jaar begin implementeer en het reeds gevorder met ’n volhoubare beleid wat bespreek word.

Die regering wil spoedig ’n sentrale waarborgbewaarplek vestig met blou verbande, koolstofkrediete en ander innoverende toerusting om geleenthede in Namibië te finansier, sê sy.

Verder is Namibië ’n lidland van die Oseaan-paneel oor volhoubare oseaan-ekonomie, sê sy.

Die ambassadeur van Noorweë, mnr. Bård Hopland, het die belang van die paneel wat deur dié land se vorige eerste minister, me. Erna Solberg, in 2018 gestig is, beklemtoon.

Veertien staatshoofde plus die president van Amerika dien sedert 2 November op die paneel, wat poog om die wêreld se benadering tot oseane te verander.

Wetenskaplike navorsing van meer as 250 kenners dui daarop dat die see ses keer meer voedsel teen 2050 kan lewer as dit volhoubaar bestuur word, sê hy.

Die oseane kan ook kweekhuisgasse teen 2050 met ’n vyfde verminder, sê hy.

“Noorweë verwelkom en ondersteun die poging van die AU en sy lidlande om die voordeel van verskeie sektore van die Blou Ekonomie te realiseer en terselfdertyd om gesonde en produktiewe mariene en akwatiese ekostelsels te verseker,” sê hy.

Spesifiek bied die Afrika Blou Ekonomie Strategie ’n goeie geleentheid vir samewerking, sê hy en, “ons verwelkom ’n nou vennootskap met die AU om hierdie nuwe program te implementeer.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!