Afrika reg vir coronavirus
Afrika reg vir coronavirus

Afrika reg vir coronavirus

Finansiering vir 'n ­Namibiese reaksieplan is goedgekeur.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Afgesien van 'n vals alarm is nog geen ander moontlike gevalle van die coronavirus (covid-19) in Namibië aangemeld nie.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het by monde van sy uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, beklemtoon die Namibiese regering tree “doelgerig” in reaksie tot die wêreldwye bedreiging op. Hy het verwys na konsultasies met die eerste minister en die kabinet, en na gevolglike riglyne wat uitgereik is om te verseker die land is op enige uitbreking van die siekte voorbereid.

Die ministerie volg ook die riglyne van die Wêreldgesondheids­organisasie (WHO) aan lidlande met ­betrekking tot die ontruiming of repatria­sie van hul ­landgenote uit China.

Tans is daar 500 Nami­biërs in China wat die ondersteuning van die Namibiese ­ambassade en Chinese owerhede ontvang.

Nangombe het beklemtoon daar is geen planne om die 500 Namibiërs uit China te ontruim nie.

“So 'n stap kan ons mense tydens die proses aan die risiko van infektering blootstel,” het hy gesê.



VELDHOSPITAAL

Met verwysing na beheermaatreëls in opdrag van die WHO het hy gesê die multisektorale ­nasionale noodgesondheidskomitee (NHEMC) vergader twee keer per week om die situa­sie te monitor.

'n Kostebepaling vir die reaksieplan is ontwikkel en aan die kabinet voorgelê, wat finansiering hiervoor toegestaan het.

Skandeerders om hoë koors en liggaamstemperatuur op te tel, is by sleutelgrensposte soos die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, die Walvisbaaise lughawe en ook die Oshikango-grenspos aangebring.

'n Militêre veldhospitaal is ook op Hosea Kutako opgerig om moontlike gevalle van die virus te isoleer.

Volgens Nangombe het die regering in samewerking met sleutelrolspelers 'n nasionale opleidingsprogram oor covid-19 aangebied. Deelnemers aan die program is in die streke besig om gesondheidswerkers en rol­spelers in voorbereiding op moontlike gevalle op te lei.

Die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) is tans ook besig met voorbereidings om plaaslik vir covid-19 te toets.

“Die NIP het van die reaksiemiddels ontvang, maar wag nog binne die volgende twee weke vir een kritieke middel. Hopelik sal toetse teen middel Maart plaaslik gedoen kan word,” het Nangombe gesê.

Namibië was ook deel van die Afrika-unie se noodvergadering vir gesondheidsministers in Addis Abeba in Ethiopië wat deur meer as 42 lidlande bygewoon is.

Tydens die vergadering is kennis en die jongste inligting oor die ontwikkeling van 'n entstof teen covid-19 gedeel.

'n Algemene strategie vir die vasteland om beter voorbereid te wees en teen die moontlike verspreiding van die virus in Afrika op te tree, asook 'n algemene benadering tot die monitor en beperking van beweging van veral Afrika-studente en ander wat uit China na die vasteland wil terugkeer, is ook bespreek.

Die lidlande het na afloop van die vergadering die Afrikataakspan vir die Novel Corona­virus (AFTCOR) as 'n kontinentale platform gestig om pogings oraloor die vaste­land beter te koördineer om die virus hok te slaan en te monitor.



WEEKLIKSE OPROEPE

Volgens Nangombe neem Namibië ook deel aan weeklikse telefoonoproepe wat deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) sowel as die sentrums vir siektebeheer in Afrika gemaak word om lande in die streek op hoogte van enige nuwe verwikkelinge te hou.

Hy het Namibiërs gemaan om steeds streng by voorkomingsmaatreëls te hou om hulself te beskerm.

Dit sluit die ­gereelde was van hande met seep en water in en om noue kontak met mense met sekere simptome te vermy.

Volgens Nangombe beveel die WHO tans nie enige beperkings op reis of handel met China aan nie. Namibiërs word aanbeveel om nie nou na die land te reis nie.

Die covid-19-uitbreking is op 9 Januarie vanjaar in Wuhan, die hoofstad van die Hubei-provinsie in China, bevestig toe 'n reeks gevalle van longontsteking met 'n onbekende oorsaak aangemeld is. Die siekte word deur koors, hoes en moeilike asemhaling gekenmerk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!