Afrika saam teen Covid-19
Afrika saam teen Covid-19

Afrika saam teen Covid-19

Afrikalande span saam om veral vlugtelinge teen die coronavirus te beskerm.
Augetto Graig
Augetto Graig – Op Afrika-dag 2020 is die tema gesondheidsveiligheid in die konteks van die coronavirus, sê die adjunkpremier en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah.

Sy het gister by die Covid-19 kommunikasiesentrum (CCC) verklaar dat 2020 die Afrika Unie se jaar is om die gewere stil te maak ten bate van ontwikkeling op die vasteland.

Een spesifieke middelpunt waarop die betrokke regerings se gekoördineerde beleide fokus, is die kwessie van vlugtelinge. Opleiding vir vlugtelinge oor hoe om hulself teen infektering te beskerm, is danksy die Afrika-sentrum vir strategiese studies en die Verenigde Nasies (VN) ontwikkel en versprei.

Meer as honderd maatreëls is deur die verskeie Afrika-regerings aangeneem, wette is geskryf en regulasies ingestel tot 'n mate dat indien vlugtelinge aan die spesifieke maatreëls in die lande wat hulle huisves kan voldoen, kan hulle veilig bly teen die pandemie, sê sy.

Nandi-Ndaitwah, wat self tevore 'n vlugteling was, sê sy weet hoe geïsoleerd die lewe in 'n vlugtelingkamp kan wees. Sy het tot nou nog geen verslag ontvang van 'n vlugtelingkamp in Afrika waar Covid-19 uitgebreek het nie.



KRUIEPRODUK

Met betrekking tot Covid Organics, 'n kruieproduk wat deur Madagaskar as hulpmiddel teen die coronavirus-uitbreking bevorder word, sê Nandi-Ndaitwah die vasteland is trots op dié ontwikkeling en ondersteun dit. “Sommige lande het reeds (van die produk) ontvang,” sê sy.

“Sekere lande is versigtig, maar Afrika sê nie noodwendig nee vir Covid Organics nie. Afrika wag nie op Europa nie. Afrika werk as 'n span,” sê sy.

By die Afrika-siektebeheersentrum in Addis Abeba het werk reeds begin met vervaardiging en navorsing vir 'n beter begrip van die kruieproduk, sê sy.

“Daar is lewe ná Covid-19,” sê Nandi-Ndaitwah.

Sy het die Afrika Unie se Agenda 2063 uitgewys as 'n platform waar veral jong mense in reaksie op die pandemie kan deelneem.

• By dieselfde geleentheid het Suid-Afrika se hoë kommissaris in Namibië, mnr. Archie Whitehead, uitgebrei oor sy land se president Cyril Ramaphosa se voorsitterskap van die Afrika Unie. Hy sê ingrypende inisiatiewe is reeds in reaksie op Covid-19 geneem.

“So byvoorbeeld is die verligtingsfond geskep en met US$6 miljoen ingesamel, doen ons 'n beroep ons op groter bydraes. Hierdie siekte verg baie dissipline van landsburgers, anders sal daar ernstige nagevolge wees, insluitend dood.

“Dit kan beteken 20 miljoen in Afrika sit sonder werk. Mense wat reeds swaarkry in toestande van armoede en agteruitgang, sal nóg swaarder kry. Ons sien dit reeds in Suid-Afrika, met lang rye by sopkombuise en die verergering van armoede,” sê hy.

Hy sê Ramaphosa beywer hom vir die opskorting van sanksies teen Zimbabwe en die verligting van skuld vir Afrika-lande, om meer finansiële beweegruimte te kry sodat lande soos Soedan en Zimbabwe met die pandemie kan worstel.

“Die belangrike kwessie is solidariteit tussen Afrika-lande. In Suider-Afrika is ons so interafhanklik dat as een struikel, val almal,” sê hy.

“Terwyl die siekte in enige Afrika-land vastrapplek kry, ondermyn dit die doelwit van 'n Afrika waar ons gesamentlike besluite soos ons Afrika-vryhandelsgebied kan toepas.”- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!