Afrika se Fotograaf van die Jaar aangewys
Afrika se Fotograaf van die Jaar aangewys

Afrika se Fotograaf van die Jaar aangewys

Yandi Du Plessis
Die Johannesburgse fotograaf en grafiese ontwerper Hanli Smit het nie net vroeër vandeesweek twee Africa Photo Awards-kategorieë gewen nie, sy is ook as die fotograaf van die jaar aangewys.

Vanjaar is inskrywings vir dié fotokunskompetisie van oral uit Afrika ontvang, insluitend Madagaskar, Ethiopië, Mosambiek, Angola, Sierra Leone en Botswana.

Smit is as fotograaf van die jaar aangewys vir haar foto getiteld Homage to Tretchikoff. Sy is ook die wenner in die modekategorie vir haar fotokunswerk Avant-Garde-Fashion-The-New-Normal, asook in die portretafdeling waarvoor sy Homage to Tretchikoff ingeskryf het. Dié foto is geïnspireer deur die dikwels omstrede Suid-Afrikaanse kunstenaar Wladimir Tretchikoff (1913-2006), bekend as die koning van kitsch.

Sy beplan haar foto’s deeglik, maar glo die verandering van ’n swart na ’n pers agtergrond het die deurslag gegee.

“Die wonderlike glinsterende goue lap het gevra om gebruik te word. Ek besef toe op die kleurwiel is goud se teenoorgestelde kleur pers. Die pers agtergrondpaneel is geskenk deur ’n kunstenaarsvriend. Die resultaat het my dadelik herinner aan die koning van kitsch se bekende pers vrou, wat in baie middelklashuise gehang het in die jare 1960 en 1970,” vertel Smit, wat op Vanderbijlpark grootgeword het en aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer het.

Sy het grafiese kuns aan die destydse Technikon Pretoria bestudeer.

“As ’n kunstenaar geniet ek die kamera, omdat dit amper enigiets moontlik maak wat in my kop opkom. Dit is ook baie skoner as olieverf, hoewel ek baie lief is vir skilder.”

Sy het toevallig begin foto’s neem, en wens dat sy dit veel vroeër as ’n loopbaan aangepak het, vertel Smit, wat aanvanklik ook haar eie digitale drukkunswinkel bestuur het.

“As kliënte met swak foto’s vir projekte opdaag, het ek begin aanbied om dit oor te neem sodat die drukwerk nie swak vertoon nie. Só het ek begin foto’s neem.”

Oor die jare het sy ’n passie vir portret- en modefotografie ontwikkel en dit, asook die afneem van juweliersware, haar hooffokus gemaak. Haar kunssinnigheid strek veel verder. Smit stileer self al haar foto’s, skep die kostuums of klere en maak dikwels self die rekwisiete en grimeer self haar modelle.

“Ek het ’n hoër sertifikaat in modeontwerp en ek maak graag my eie bykomstighede en uitrustings.”

Sy werk tans as ’n grafiese ontwerper en fotograaf.

Die wenners in die nege kategorieë is:

Abstrak: Dieter Rowe Setz, Three Times the Sin;

Konseptueel: Margherita Introna, The Game of Solitaire;

Redaksioneel: Frank Trimbos, Metalheads of Botswana;

Mode: Hanli Smit, Avant-Garde-Fashion-The-New-Normal;

Visuele kuns: Charlaine Gerber, Such a Long Fall, Washed Out to Sea;

Landskap: Leon Pelser, Shembe-on-farm;

Portret: Hanli Smit, Homage to Tretchikoff;

Troue: JCclick Photography, Dreams Have No Boundaries;

Wildlewe: Hein Waschefort, Green Fly.

Benewens ’n kamera en kameratoerusting van die borg Fujifilm, reis Smit volgende jaar na die Paris Photo-tentoonstelling in Parys, Frankryk. Die prys sluit haar vlugte en verblyf in.

Die pryse is oorhandig by die Keyes Art Mile in Johannesburg. Onder die beoordelaars was onder andere die Suid-Afrikaanse fotograaf en sameroeper van die pryse, Dennis da Silva, Gurcharan Roopra (Kenia) en Héla Ammar (Tunisië).

Besoek die webblad www.africaphotoawards.co.za/2020-winners/ om die ander wenfoto’s te besigtig.

Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!