Afrika se voedselsekuriteit in gedrang
Afrika se voedselsekuriteit in gedrang

Afrika se voedselsekuriteit in gedrang

Streek suid van die Sahara boer agteruit
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher – Die huidige politieke ontstuimigheid in Zimbabwe skyn die soeklig opnuut op die impak van sulke konflikte op die betrokke lande se voedselsekuriteit.

Die jongste inligting gee ’n sterk aanduiding van agteruitgang in Afrika. Baie redes word geopper vir dié toedrag van sake. Wat beduidend is, is die verband tussen voedselonsekerheid en politieke konflik; ’n aspek wat verswaar word waar die weer en klimaat nie saamspeel nie. Die uitdaging is dus nie net genoegsame voeding nie, maar die daarstel van veerkragtigheid vir beter voedingstrategieë en vrede.

’n Onlangse verslag van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) oor voedselsekuriteit en voeding wanneer konflik woed, wys vervolgens op hoe Afrika gegly het in terme van voldoende voedsel vir sy bevolking. In Afrika suid van die Sahara het die aantal mense sonder voedselsekuriteit van 28,1% van die bevolking in 2000 afgeneem tot 20,6% in 2010, maar toegeneem tot 22,7% in 2016. Die meer mense in die substreek beteken meer mense sonder voedselsekuriteit – dit het toegeneem van 178,4 miljoen tot 224,3 miljoen met Oos-Afrika wat die swaarste getref is. Daar was 137,4 miljoen mense sonder voedselsekuriteit.

Die voorkoms van voedselonsekerheid vir die periode 2014-2016 was 7% van die bevolking en net matig hoër as in die voorafgaande periode. In Namibië het die voorkoms skerp gedaal van ’n hoë 38% in die jare 2009-2011 tot net meer as 29% in die 2014-2016-periode.

Suid-Afrika

Suid-Afrika het ’n styging ervaar vir dieselfde tydperke. Wat egter kommerwekkend is, is die feit dat die aantal mense wat in 2016 erge voedselonsekerheid ervaar het (die persentasie van die bevolking waar ten minste een lid van die huishouding erge voedselonsekerheid ervaar as persentasie van die totaal), was ’n hoë 31% versus die 9,3% vir die wêreld in die geheel. Dit beteken dat bykans 46% van alle mense of ’n geraamde 316 miljoen wat globaal voedselonseker was in 2016, in Afrika suid van die Sahara woon.

Voedselsekuriteit geniet voorkeuraandag op die agendas betrokke by ontwikkeling en die uitwissing van honger. Die maatskappy DuPont het ’n geruime tyd gelede reeds ’n voedselsekuriteitsindeks ontwikkel. Die drie pilare van voedselsekuriteit, naamlik bekostigbaarheid, beskikbaarheid en kwaliteit en veiligheid word vir 113 lande ontleed aan die hand van 28 aanwysers. Nie alle Afrikalande neem deel aan die ontledings nie, maar 28 (Namibië neem nie deel nie) doen wel.

In die jongste verslag is ’n vierde dimensie bygevoeg, naamlik die natuurlike hulpbronne en veerkragtigheid wat ’n land se blootstelling aan die impak van die natuur en klimaat meet. Die vatbaarheid van sulke risiko’s en hoe lande aanpas by die risiko’s word verreken in terme van die impak op voedselsekuriteit.

’n Interaktiewe indeks is bereken vir elke deelnemende land. Interland- en interstreekontledings is ook nou moontlik. Die toenemende akkuraatheid van hierdie indeks behoort toepassing te vind in terme van ontwikkelingstrategieë soos die nasionale ontwikkelingsplan.

Die September 2017-indeks plaas Suid-Afrika 44ste uit die 113 lande met 64 uit 100 (0,2% verbetering), maar 50ste wat bekostigbaarheid betref, 37ste vir beskikbaarheid en 53ste vir kwaliteit en veiligheid.

In terme van die natuurlike hulpbronontleding het Suid-Afrika sleg uitgesak en beklee hy die 76ste plek. Afrikalande wat Suid-Afrika klop, is Uganda (22ste), Malawi (25ste) en die Ivoorkus (26ste).

Afrika suid van die Sahara is tans ’n bron van kommer omdat vordering met die bekamping van honger verlangsaam. Vir die leek lyk dit of die mandjie van veronderstelde beleidsondersteuning glad nie voldoende werk nie – van beplanning tot uitvoering. Die Malabo-verklaring stel duidelike doelwitte ten opsigte van ’n vooruitstrewende Afrika gelei deur ’n veranderde landbou, maar konflik- en klimaatsversteurings is ’n blok aan die wiel.

Lande in Afrika suid van die Sahara lewer nietemin bewys van hoe landbou wel kan bydra tot broodnodige ekonomiese groei en selfs versnelde groei. Daar is ongelukkig ook voorbeelde van lande waar ekonomiese groei nie voedingsprobleme doeltreffend takel nie.

’n Kommerwekkende ontwikkeling is die toename van vetsug onder volwassenes en kinders met die gepaardgaande gesondheidsuitdagings en Afrika suid van die Sahara is vinnig besig om beleidsperke te oorskrei.

Vetsug en oorgewig is eenvoudig wanneer energie-inname energie-uitsette oorskry. Wêreldwyd lei 12,7% van die bevolking, of nagenoeg 641 miljoen volwassenes, daaronder.

In Suid-Afrika is dit 25,7% van die bevolking, met veral kommerwekkende stygings onder volwasse vroue. Daar is dus enorme uitdagings in dié substreek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!