Afrika se winde van verandering waai te stadig
Afrika se winde van verandering waai te stadig

Afrika se winde van verandering waai te stadig

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Verlede week was 'n interessante en geskiedkundige week op politieke front toe die Suid-Afrikaanse oudpresident Jacob Zuma uiteindelik bedank het.

Ek was met vakansie in Suid-Afrika toe Cyril Ramaphosa en die ANC se NUK met Zuma onderhandel het, en 'n opwindende atmosfeer het geheers terwyl almal op die groot nuus gewag het.

Die atmosfeer in Kaapstad het elektries geraak toe die bliksemstrale verlede Dinsdagaand met gepaardgaande donderweer oor Tafelberg slaan en reën lafenis in die ergste droogte in dekades vir die Kaap bring. Die Kaap was weer Hollands en almal het net gewag dat Zuma se doppie geklink word.

Toe my vlug Woensdagaand laat uit die Kaap land en ek by die huis kom, gryp ek my selfoon om te kyk of daar al enige verwikkelinge oor Zuma is. Dit was lekker om 'n nat Kaapstad te verlaat en na 'n groener Windhoek huis toe te kom.

Net voor ek gaan slaap, loer ek weer nuuskierig na die nuus. Zuma het uiteindelik bedank! Ek gaan slaap met 'n glimlag op my gesig.

Ramaphosa is die Donderdag as Suid-Afrika se nuwe president ingehuldig en sy staatsrede Vrydag is wyd verwelkom en geloof. Ramaphosa moes al lankal Suid-Afrika se staatshoof gewees het. Hy was juis Nelson Mandela se keuse as sy adjunk.

Vir my is dit verblydend dat die winde van verandering oor die politieke landskap van Afrika waai. Dit is lankal tyd dat die korruptes waai. Dit het net lank gevat om van Zuma en oudpresident Robert Mugabe van Zimbabwe ontslae te raak. Té lank. Zimbabwe en Suid-Afrika se ekonomieë moes eers lamgelê word voor hulle die trekpas gekry het.

Dit vat te lank om die Guptas vas te vat wat Suid-Afrika se staatskoffers leeggedra het. Dit vat heeltemal te lank in Afrika om skelms agter tralies te kry.

Waar op aarde is Marcus Jooste van Steinhoff? Hy kan ook nie opgespoor word nie. Waar is die Guptas wat verlede week in die hof in Bloemfontein moes verskyn en nou voortvlugtend is? Waarom is die Guptas nie in hegtenis geneem toe die Valke verlede week 'n klopjag op hul huis in Saxonworld uitgevoer het nie?

Waar is Zuma se seun Duduzane wat kop in een mus met die Guptas is? Dán gaan Duduzane vervolg word, dán nie meer nie. Suid-Afrika se Nasionale Vervolgingsgesag speel woer-woer.

Volgens vroeëre berigte was die Guptas in Lesotho, dan is hulle kamma steeds in Suid-Afrika. Later is berig Duduzane en Ajay Gupta is lankal in Dubai en sy broers in Indië. Boonop het Suid-Afrika nie 'n uitruilooreenkoms met die Verenigde Arabiese Emirate nie. Hoekom weet die owerhede nie waar hulle nou eintlik is nie?

My groot vraag: Wanneer word Jacob Zuma eendag in hegtenis geneem en voor die hof gedaag? Of was dit deel van sy ooreenkoms om nie vervolg te word as hy instem om te bedank nie? Niemand weet nie.

In Afrika vat dit heeltemal te lank om skurke aan die pen te laat ry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!