Afrika-swerftog bring Ann Jangle na Namibië

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Die storie van Ann Jangle se musiekloopbaan is allesbehalwe vervelig.

In 2012 is haar debuutalbum Acoustic Archive uitgereik. Haar musiek het ’n akoestiese klank, diep gewortel in die blues. Ann se liefde vir donker, ondergrondse klanke en vreemde musiekgenres het haar uitgedaag om haar eie styl te skep.

Haar tweede album, Kicking Sawdust, is in 2015 bekend gestel, met ’n sterker klank as ooit vantevore.

Met ’n donker “folk”, Gypsy-SKA-ondertoon, het Ann se passie om te eksperimenteer haar resep vir sukses geword.

Sedert sy haar loopbaan as voltydse musikant in 2001 begin het, was Ann uitsluitlik in Kaapstad, maar in 2005 het Ann na Berlyn verhuis, waar sy oor twee jaar in 17 lande oraloor Europa opgetree het. Sy het voortdurend getoer, in strate en metro’s gewoeker, in feeste en teaters, huisvertonings en klubs opgetree.

Een jaar, 17 lande en twee uitmergelende toere later, het Ann opgetree by die Afrika Tage Festival in Wene, Oostenryk, waar sy vir Nneka, ’n bekende vroulike reggae-kunstenaar uit Nigerië, geopen het.

Die verlange na ’n warmer klimaat en ’n diepe begeerte om ’n verskil in die wêreld te maak, het Ann teruggeneem na Suid-Afrika en terug na die ateljee om haar eerste solo-album, African Dream Parade, op te neem. Dié album het ’n “meer dromerige” klank met Afrika-invloede gehad, wat sy saam met haar op die pad geneem het om haar grootste toer nóg aan te pak.

AFRICAN DREAM PARADE

Ann en haar klankman en goeie vriend, Mike Hunter, het ongeveer 22 000 km dwarsoor Suider-Afrika gereis, meer as 100 optredes gehad, meer as drie ton honde- en kattekos vir organisasies in die streek ingesamel en haar laaste show by die STRAB-fees in Mosambiek gehad.

Dit was voordat sy vrou-alleen op ’n fiets van die Ramotswa-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana gery het om bewustheid te skep vir bedreigde natuurlewe en om gemeenskappe op te hef deur middel van musiek. Sy het ná sewe maande in Kenia aangekom, waar sy by die 2019/2020-Kilifi Nuwejaarsfees opgetree het.

Ann het in Februarie 2020 weer in Kaapstad aangekom en haar nuwe reeks musiekoptredes genaamd “Conscious Concerts” bekend gestel.

HAAR STORIE, IN HAAR WOORDE

Hulle sê mense kom vir ’n rede oor jou pad. Nadat ek ’n man ontmoet het wat op ’n fiets na Marokko gery het om bewustheid te skep vir bedreigde donkies, het ek meer en meer mal, avontuurlustige siele begin ontmoet.

Hulle was individue wat die norme uitdaag, maar tog onder die radar bly omdat hulle ’n lewe wil lei buite dít wat die samelewing voorskryf.

Ek het besluit om self ’n epiese reis aan te pak, met die fokus daarop om terug te gee.

Ek was 32 jaar oud en enkellopend, met geen kinders nie, behalwe vir my twee honde Kevin en Kezzy. Ek is oorgeneem deur ’n ongelooflike gevoel van bevryding, met al die tyd in die wêreld, aangevuur deur ’n begeerte om terug te gee.

Dít is vir my maklik om in ’n landelike omgewing te woon en werk, want ek het al soveel keer deur my lewe só geleef. Die idee van ’n “normale” huis in die suburbs, is vir my amper vreemd.

Dit het alles begin toe ek in graad 11 was. Ek het ongelooflike maatskaplike werkers ontmoet wat op pad was na Mosambiek om projekte daar te begin.

Hoewel ek nog nie klaar was met skool nie, het ek in elk geval besluit om saam te gaan. Ná baie gesoebat het my ouers my uiteindelik toegelaat om te gaan. Ek het my laaste jaar deur die pos gedoen. Ek het met lof geslaag in vakke wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie, danksy ’n lantern (ons het later ’n kragopwekker gekry) en ’n muskietnet onder ’n paar reusebome in die middel van Mosambiek.

Dít alles terwyl ek klasse in selfonderhoudende lewensonderrig, programme vir vigsbewusmaking en Engels- en kinderkerk aangebied het en vrywilligerswerk gedoen het by ’n kinderhuis, waar ek genoeg Portugees opgetel het om oor die weg te kom.

Die skokkende deel hiervan is, my eerste ervaring van gemeenskapsliefde en -betrokkenheid is ontketen deur ’n boosheid genaamd “heroïenverslawing” waarvan ek deur die ouderdomme van 15 tot ongeveer 19 desperaat probeer ontslae raak het.

Ek het met dwelms deurmekaar geraak terwyl ander meisies my ouderdom nugter skoolgegaan het. Ek was nog altyd baie aangetrokke tot rebelse mense. Ek dink dis omdat ek as kind baie konserwatief grootgemaak is en gedwing is om te konformeer.

Ek het net iets nodig gehad om die geraas in my kop, in my hart en rondom my te verdoof.

Dit was ’n nagmerrie om te oorkom. Die oomblik toe ek ’n kans gehad het om uit die depressiewe helse gat van huishoudelike drama en dwelmverslawing te ontsnap, het ek die geleentheid met albei hande aangegryp.

Ek het sedertdien nog nooit weer aan die goed geraak nie. Dis reeds meer as ’n dekade. Dit het egter ’n avontuurlus in my siel aangewakker, en die reisgogga het gebyt. Dit het my ook gewys dat ek ’n ongelooflike wilskrag het. Hierdie blyk my grootste karaktereienskap te wees, want ek weier tot vandag toe om “nee” vir ’n antwoord te aanvaar en ek het nou ’n hele nuwe stel oorlewingsvaardighede geleer.

Ek het in Mosambiek gewoon sonder warm water en dít wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar – soos die waarskynlikheid om nie in jou agterplaas deur ’n seekoei opgevreet te word nie. Maar ek was dol daaroor!

Ek het verlief geraak op Afrika en haar mense. Die slegste tyd van my lewe het die grense gebreek tussen my en die jeug, vir wie ek later sou help.

Van daar was dit baie jare van baie verskillende projekte. Ek het saam met ’n vriendin Musina toe getrek, waar ons in Zimbabwe met voedingsprojekte begin het.

Ek het toe langs die Suid-Afrikaanse kuslyn gereis en T-hemde en juweliersware soos ’n regte “hippie” verkoop.

Ek het op ’n reis terug van Transkei begin sing toe ek by ’n klein musiekonderneming begin werk het, waar ek die kroeg en kombuis bestuur het. Die plek het ’n klein verhoog met lewendige musiekoptredes gehad en het my wêreld heeltemal verander.

My plan was om by hierdie klein plaasteater te werk om genoeg geld te spaar om na die Kibbutz in Israel te gaan, maar deur een of ander “Goddelike ingryping”, of wat ook al jy dit wil noem, het my planne laat verander.

Ek het besef ek kan genoeg geld maak met musiek om my reiskoste te dek. Musiek het my beste vriend geword. Dit was ’n platform vir my om my storie te vertel.

Ek het ’n band begin en my liefde vir hierdie genesende kunsvorm, het vinnig ’n besigheid geword. Ná baie jare se optredes in en om Suid-Afrika het ek na Europa verhuis en vir drie jaar daar opgetree. My laaste toer daarheen bestaan uit 30 optredes in 31 dae in meer as 11 lande. Van treinstasies tot bushaltes tot by groot feeste (by die grootste een was tot 30 000 mense).

Ons het op die beroemde Reeper Bahn-fees in Hamburg gespeel, en in klein teaters en kroeë in van Slowenië tot Tsjeggië, waar niemand ná 22:00 ’n woord Engels kon praat nie. Ons het op meer as honderd rusbanke geslaap. Van vyfsterhotelle tot Duitse dakwoonstelle. Dit was die gekste tyd van my lewe.

Ek het nie regtig van groot skares of mainstream musiek gehou nie en het verlief geraak op kleiner shows waar mense en ek stil kon praat oor die boodskap agter my liedjies.

Op die ouderdom van 30 het ek na Afrika begin terugverlang. Ek het teruggekeer na Suid-Afrika in die hoop om my te vestig soos ’n “normale” persoon van my ouderdom. Maar wat de hel is normaal?

So, ek wou bitter graag verander. Diep in my hart het ek geweet my gedrag stem nie ooreen met die beeld wat ek in my kop van myself gehad het en die lewe wat ek wou lei nie.

Die volgende stappe wat ek geneem het, was van die moeilikste dinge wat ek ooit gedink het ek sou moes doen, maar het met ’n verrassende gemak gekom.

Dit was die beste en belangrikste besluite wat ek geneem het, wat my uiteindelik sou losmaak van alles wat aan my identiteit gekoppel was as Ann Jangle, die partytjiedier-musikant.

In Augustus 2017, die jaar wat ek uit Europa teruggekeer het en die jaar van my grootste poging om “rustig te raak”, het ek een oggend wakker geword, in my kar geklim en vir Kevin gaan aanneem.

Ek het hom nie gekies nie; hy het mý gekies. Hy was eerlikwaar een van die vreemdste brakke wat ek nóg gesien het, maar hierdie pavement special het my gekies en gered.

Kevin het my lus gemaak vir vroegoggend-stapsessies, bergwandelinge, om te swem in riviere waarvan ek nie eens geweet het nie, wat ’n “partytjiepatroon” waarin ek teruggeval het stadig maar seker uitgeskakel het.

Om ’n hond te kry, is ’n uitstekende manier om jouself iewers te vestig, maar Kevin het die teenoorgestelde effek op my gehad. Ek is ’n reisiger. Hy het my gehelp om getrou aan myself te bly en my ’n rede gegee vir die grootste avontuur in my lewe: die African Dream Parade-toer. Kevin was my rede om terug te gee. Ek moes die wêreld vertel dat ons genees kan word van enige seer, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie, en dat ons moes leer om onsself en diere te respekteer.

Sedert die begin van dié toer in Julie 2018, het ek ongeveer 22 000 km dwarsoor Suid-Afrika gery, meer as 60 keer opgetree, by skole gepraat, drie ton hondekos en komberse ingesamel en aan drie verskillende skuilings geskenk. Ek het diere in Zoeloeland help steriliseer, hondehokke in Graskop en Mpumalanga gebou, my eerste koei gemelk, hutte in die Oos-Kaap help bou, in dié hutte geslaap saam met Xhosa-gesinne, 22 uur op die kuslyn van die Wilde Kus geloop en in elke provinsie in Suid-Afrika opgetree.

Al die geld wat ek in die eerste paar maande met my optredes verdien het, het ek bestee aan Bravecto-, bosluis- & vlooimiddel- en ontwurmings- medisyne vir rondloperhonde in landelike gebiede om hulle ’n klein kans op oorlewing te gee. Ek is deur ’n boerboel gebyt, terwyl ek my lewe daaraan gewy het om hulle te red. Die ironie.

Ek het my lewe onder ’n mikroskoop geplaas, my hart laat breek, die gelukkigste oomblikke van my lewe beleef, trane van vreugde gehuil en angswekkende toestand beleef. Ek het harder gebid as wat ek ooit in my lewe gebid het, en ek het ’n paar dinge gesien wat my laat twyfel het of daar iets spiritueel is.

Dít alles om bewustheid te skep vir diere, wat weer direkte bewustheid skep van die self, selfrespek, selfliefde, selfbeskikking om mense na ’n plek te bring waar hulle hulself wil verbeter, die ruimte rondom hulle wil verbeter, ál die pad tot in Kenia.

Ek is in 2019 op ’n fiets deur Malawi. Met een sak klere, twee honde, een voertuig, ’n kitaar en geen plek om my huis te noem nie, was dinge soms uitdagend, maar ek het die vreugde van ’n minimalistiese leefstyl ervaar. Ek bevind myself soms die natuur, heeltemal alleen, maar nooit eensaam nie, en ek wonder hoe ek ooit anders sal kan leef.

AFRICAN DREAM ODYSSEY-TOER

Nadat sy alleen op ’n fiets van Suid-Afrika na Kenia gery het vir bedreigde wildspesies, het sy op die gemeenskap van Tanzanië verlief geraak.

Ann, haar kêrel en hul twee honde verhuis nou na Bagamoyo, 62 km noord van Dar es Salaam aan die kus van Tanzanië, in hul 4x4 “huis op wiele” om voort te bou op dít wat African Dream Parade bereik het.

Ann gaan weer ’n draai maak by die diereorganisasies en skole wat sy per fiets besoek het. Haar dokumentêr, Ann Jangle – African Dream Parade Documentary, kan op YouTube gekyk word, en word tans op People’s Weather op DStv- en TV-kanale oor Kanada, Australië en Brasilië vertoon.

Vanaf Tanzanië sal Ann saam met haar lewensmaat Mark Hartly, ofte wel DJ Space Cowboy, ’n Oos-Afrika fietstoer na Egipte onderneem ter bewusmaking van dierewelsyn en die opheffing van gemeenskappe deur middel van musiek.

Die hoofdoel is om die gemeenskap te bemagtig deur die Conscious Concerts-inisiatief, waar Ann kragte saamspan met plaaslike kunstenaars en praatjies en musieklesse aanbied as ’n middel vir mense om hulself te bemagtig, en terselfdertyd om blootstelling te bied vir die talentvolles wat nie raakgesien word nie tydens die verfilming van haar tweede dokumentêr, African Dream Odyssey.

Sy is nou vir haar tweede keer in Namibië, hoewel sy voel “die eerste keer tel nie regtig nie”. Sy het destyds twee dae in Windhoek deurgebring en saam met haar jarelange vriend en “sielsbroer”, die bekende plaaslike blues-sanger Riaan Smit, by die Warehouse-teater opgetree.

“Geen plek was te ver nie en geen geld was te min nie.”

Ann en Riaan het verlede naweek by die SKW Brauhaus opgetree.

“Ons is ontvang met oop hande en warm harte. Die gees was volop. Ek was stomgeslaan deur almal se liefde vir my musiek. Ek is lief vir Namibië!” het sy ná die show gesê.

Hulle tree weer môreaand en op Vrydag 28 Mei by Sound Garden in Swakopmund op.

Kyk hier na haar dokumentêr: https://q.my.na/PSJF

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!