Afrika-varkpes eis 48 varke in Omusati
Afrika-varkpes eis 48 varke in Omusati

Afrika-varkpes eis 48 varke in Omusati

’n Verbod geld voortaan op die in- en uitbeweging van varke en varkvleisprodukte vir die Omusatistreek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Afrika-varkpes (AVP) het onlangs in Omusati uitgebreek en reeds sowat 48 varke in dié streek gedood.

Volgens dr. Albertina Shilongo, veeartsenyhoof by die ministerie van landbou, water en grondhervorming, raak die uitbreking 23 nedersettings in vyf kiesafdelings in die streek, wat insluit Tsandi, Outapi, Ogongo, Anamulenge en Okalongo.

Shilongo sê die uitbreking duur steeds voort en sowat 200 varke is in gevaar. “Die getal siek en dooie varke kan in enige stadium verhoog,” het sy in ’n kennisgewing van die direktoraat van veeartsenydienste gesê.

Shilongo sê boere in die streek het onverwagse vrektes by die Outapi-staatsveeartskantore aangemeld, waarna die veeartse op 24 April begin ondersoek instel het.

Hul diagnose van varkpes is op 25 April deur toetse in die sentrale veeartseny-laboratorium bevestig.

“Die ondersoek duur steeds voort, maar dit blyk dat die uitbreking reeds in die tweede week van Maart begin het. Ons ondersoek steeds die siekte om vas te stel wat die omvang van die uitbreking is en wat die moontlike bron van infeksie is,” het Shilongo gesê.

Sy sê varkpes is ’n hoogs oordraaglike virussiekte in mak en wilde varkspesies. Dit is endemies in Afrika, asook in Namibië.

Dit word gekenmerk daaraan dat varke erg siek raak, met ’n hoë sterftesyfer onder mak varke van tot 100%.

Die virus versprei deur direkte kontak tussen siek en gesonde varke, of as varke afvalprodukte eet wat vleis of bloed bevat wat met die virus besmet is, of van die uitskeidings van siek of dooie varke. Die virus bly aktief en aansteeklik vir drie tot ses maande in ongekookte varkprodukte.

Shilongo sê die mees algemene simptome onder besmette varke sluit in hoë koors, depressie, anoreksie, bloeding onder die vel wat hul ore, maag en bene rooi kan laat vertoon, aborsie onder dragtige sôe, maagwerk en vrektes binne dae nadat hulle siek geraak het.

“Tot dusver bestaan geen behandeling of goedgekeurde inenting teen die virus nie,” sê Shilongo.

Om te keer dat die virus verder versprei, is ’n verbod op die beweging van varke asook varkvleisprodukte in en uit die Omusati-streek ingestel.

Varkboere word ook aangeraai om seker te maak hul varke kom nie in kontak met wilde varke nie, dat besoekers nie in kontak met die varke kom nie, om nie nuwe varke tydens die uitbreking in varkhokke in te bring nie en om seker te maak varke eet nie besmette kos nie.

Verder word bosluisbeheer voorgestel, asook die gereelde skoonmaak van varkhokke.

Varke wat van die varkpes gevrek het, moenie deur mense en ander diere geëet word nie, terwyl boere siek varke by hul naaste staatsveeartsenykantoor moet aanmeld. Dooie varke se karkasse moet onder die toesig van veeartsenydienste vernietig word.

Varkpes het die laaste keer in 2009 in die Omusati-streek uitgebreek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!