Afsprake met die sterre
Afsprake met die sterre

Afsprake met die sterre

'n Skouspel van verskietende sterre, meteoorreën en gedeeltelike sonsverduistering word in die komende maande verwag.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl Namibiërs moontlik 'n laaste paar verskietende sterre sal kan sien ná die Orionides-meteoorreën wat laat Oktober sy piek bereik het, is daar in die komende maande meer geleenthede in die sterreruim wat nie gemis moet word nie.

'n Hoogtepunt is waar­skynlik die Geminides-meteoorreën gedurende Desember, wat op 13 Desember om 22:52 sy piek in die Suidelike Halfrond sal bereik en tot 120 verskietende sterre per uur kan lewer.

Anders as die meeste ander sterrereëns, word hierdie een nie deur 'n komeet veroorsaak nie, maar eerder 'n asteroïed, die 3200 Phaethon, wat sowat 1,4 jaar neem om rondom die son te wentel.

Net die volgende dag, op 14 Desember, sal daar vanaf Namibië 'n gedeeltelike sonsverduistering sigbaar wees. Dit sal vanaf 18:58 tot 19:30 – sowat 33 minute – duur.

In gebiede soos Chili en sommige dele van Argentinië sal die son heeltemal verduister wees.

Eerste op die kalender, op 31 Oktober, is daar egter 'n blou maan – so genoem omdat dit die tweede vol maan sal wees om in dieselfde maand te verskyn.

Daardie aand bereik die planeet Uranus ook opposisie, wat beteken dit bereik sy naaste punt aan die aarde, terwyl dit ten volle deur die son verlig word. Dit sal helderder as enige ander tyd in die jaar wees en heel nag sigbaar wees.

Tog is die planeet so ver van die aarde af geleë dat dit deur die meeste tele­skope slegs as 'n blougroen kolletjie sal vertoon.

Vanjaar is 6 November egter besonders omdat beide die Noordelike en Suidelike Taurides-meteoorreën rondom dié tydperk 'n hoogtepunt sal bereik. Die sterrereën – wat in der waarheid gedurende Oktober tot Desember duur, lewer egter net sowat vyf tot tien meteore per uur.

Wat dié Taurides-sterre­reën gewild maak, is dat dit dikwels meer geneig is om helder “vuur­balle” te veroorsaak. Tog sal die maan, wat dan bykans vol sal wees, baie hiervan verdof.

Die Suidelike Taurides-meteoorreën word veroorsaak deur puin wat deur Comet 2P Encke agtergelaat is, terwyl die noordelike een veroorsaak word deur stof wat deur Asteroïed 2004 TG10 agtergelaat is.

Die verskietende sterre sal vanaf die rigting van die Taurus-sterrebeeld kom, maar behoort oraloor die naghemel gesien te kan word.

Die Leonides-meteoorreën gedurende November, wat sy hoogtepunt tussen die 17de en 18de sal bereik, lewer gewoonlik gemiddeld 15 verskietende sterre per uur. Vanjaar sal toestande ideaal wees vir dié sterrereën, omdat die maan vroeg sal sak en die naghemel donker sal laat. Verskietende sterre sal vanaf die Leo-sterrebeeld hul verskyning maak.

Hierdie is uniek omdat dit sowat elke 33 jaar 'n piek bereik waartydens letterlik honderde meteore per uur gesien kan word. Dié meteoorreën het in 2001 die laaste keer só 'n piek bereik.

Die Leonides-meteoorreën word veroorsaak deur stof wat deur die komeet Tempel-Tuttle agtergelaat is en in 1865 ontdek is.

- [email protected]

Bronne: www.seasky.org, nasa.gov en www.timeanddate.com/astronomy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!