Agenda 2063: Padkaart vorentoe vir Afrika
Agenda 2063: Padkaart vorentoe vir Afrika

Agenda 2063: Padkaart vorentoe vir Afrika

Estelle de Bruyn
In 2013, 50 jaar nadat die eerste 33 onafhanklike Afrikalande in Addis Abeba vergader het om die Organisasie van Afrika-eenheid (OAE) te stig, deesdae bekend as die Afrika-unie, is besluit om met ‘n aksieplan vir die volgende 50 jaar vorendag te kom.
By die geleentheid het die politieke leierskap kennis geneem van die prestasies van die verlede en ook die uitdagings wat voorlê. Gevolglik is ooreengekom op ‘n Pan-Afrika-visie van ‘n “geïntegreerde, vooruitstrewende en vreedsame Afrika, aangedrewe deur sy eie burgery om ‘n dinamiese mag in die globale arena te wees.”
Hierdie aksieplan, bekend as Agenda 2063, is die plan vir strukturele transformasie in Afrika, soos ooreengekom tydens die goue jubileum in Mei 2013.
Die Agenda bestaan uit drie sleuteldokumente naamlik: ‘n Tegniese dokument waarin visie 2063 vervat word asook ‘n omvattende ontleding van sleutelkwessies, prioriteite, teikens en strategieë. Hierbenewens word voorstelle aan die hand gedoen oor hoe om te verseker dat planne realiseer wat implementering, monitering en evaluering insluit.
Die tweede dokument onder die opskrif: Agenda 2063 - Algemene weergawe, sit die agenda in leketaal uiteen sodat dit deur die algemene publiek verstaan kan word.
Die implementeringsplan vir die eerste tien jaar (2013 tot 2023) is die derde dokument en gee ‘n uiteensetting van die onmiddellike prioriteite en moet die verwesenliking van die agenda ‘n hupstoot gee.
Tydens die 2013-spitsberaad is ook ooreengekom op ‘n transformasie-agenda wat onder meer Afrika se identiteit en Renaissance; die stryd teen kolonialisme en die reg tot selfbeskikking van diegene steeds onder koloniale heerskappy; demokratiese staatsbestuur; die bepaling van Afrika se toekoms en Afrika se plek in die wêreld asook agendas vir die integrasie van Afrika; maatskaplike ekonomiese ontwikkeling; vrede en sekuriteit insluit.


Afrika-aspirasies
Van die aspirasies waarna Afrikalande streef, word ook in die dokumente vervat. Dit behels ‘n vooruitstrewende Afrika gegrond op inklusiewe groei en volhoubare ontwikkeling; ‘n geïntegreerde vasteland, polities verenig en gegrond op die ideale van Pan-Afrikanisme; ‘n Afrika waar goeie staatsbestuur, respek vir menseregte, geregtigheid en die regstaat aan die orde van die dag is. Dis ‘n vreedsame en veilige Afrika, ‘n Afrika met ‘n sterk kulturele identiteit, gesamentlike erfenis, waardes en etiek; ‘n Afrika waar ontwikkeling mensgedrewe is en steun op die potensiaal van die mense van Afrika, veral vrouens en die jeug. Dis ’n vasteland waar goed na kinders omgesien word asook Afrika as ‘n sterk, verenigde, lewenskragtige en invloedryke rolspeler en vennoot gesien word.


'n Hupstoot
Van die programme wat ‘n hupstoot aan die verwesenliking van Agenda 2063 moet gee, is ‘n geïntegreerde hoëspoed spoornetwerk; die Groot Inga-dam; ’n enkele lugvaartmark vir Afrika; ‘n Pan-Afrika e-netwerk; die totstandkoming van ‘n virtuele universiteit; vrye beweging van mense en 'n Afrika-paspoort; ‘n kontinentale vryehandelgebied, ‘n beëindiging van konflik teen 2020 (“die stil word van die gewere”)en die ontwikkeling van ‘n strategie op kommoditeite.
Volgens ‘n verklaring deur die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, staar die vasteland bestaande en nuwe bedreigings in die gesig. Dit sluit die geskarrel op soek na hulpbronne om globale uitdagings en demografie die hoof te bied in; onregmatige eksterne invloede, die impak van klimaatverandering en die grootskaalse onwettige uitvloei van Afrika se hulpbronne en kapitaal na die buiteland in.
“Hierdie uitdagings en bedreigings kan egter versag word en in geleenthede omskep word deur kollektiewe strategieë en doeltreffende openbare beleidsreaksies te aanvaar en in werking te stel,” lui die verklaring.
Die wyse waarop uitdagings die hoof gebied word, berus op twee elemente, te wete die bou van kapasiteit en finansiering.
Agenda 2063 moet gefinansier word deur die mobilisering van binnelandse bronne; die omskakeling van hulpbronne in beleggings en toegang tot finansies elders.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!