Agra kroon speenkalfkampioene

Mnr. Frans Lottering van Gobabis is vanjaar as die wenner van Agra se Speenkalfkampioenskap aangewys, terwyl mnr. F.J van Zyl die prys verower het vir die beste veilingspunte vir die seisoen.

Mnr. Chris Labuschagne dra die kroon in die kategorie vir die meeste diere gekoop, terwyl mnr. Pieter Ehlers eerste is in die kategorie vir die hoogste gemiddelde koopprys wat betaal is.

Agra se Speenkalfkampioenskapreeks het verlede Donderdag afgesluit met 'n galageleentheid wat by die Arebbusch Travel Lodge in Windhoek aangebied en waartydens die wenners vir die afgelope seisoen aangewys is.

Mariental se mnr. André Carlile was die wenner in die voerkraal-kategorie in die Suide, terwyl dié gebied se wenner in die kategorie vir veldpotensiaal Samehaling se mnr. Pieter van Schalkwyk is. Mariental se Nghilunda Farming het die prys vir die beste verse in dié streek verower.

In die Noorde dra mnr. Hardus Breedt van Grootfontein die kroon in die voerkraal-kategorie, terwyl die kategorie vir veldpotensiaal deur mnr. Japie Jacobs – ook van Grootfontein – verower is. In dié gebied het mnr. W.S. Kahiha die prys vir die beste verse gewen.

In die sentrale gebied het Lottering in beide die kategorieë vir beste voerkraal en beste verse koning gekraai, terwyl Windhoek se me. Mika Woker Wilkens die kategorie vir veldpotensiaal ingepalm het.

“Ná een van die kwaaiste droogtes in onlangse geskiedenis, herbou Namibiese boere egter hul kuddes. Dit beïnvloed veegetalle by veilings met die aanbod vir vee wat dan laer is.

“Iets wat wel verwelkom is, is die feit dat speenkalwers gemiddeld 20 kg swaarder as in 2019 was, terwyl daar ook 'n sowat 30% verhoging in pryse was, as dit met verlede seisoen vergelyk word,” het mnr. Piet Stoman, Agra se handelsmerk- en kommuni­kasiebestuurder, in 'n mediaverklaring gesê.

Vanjaar was dit die negende jaar dat Agra dié jaarlikse veilingsreeks aangebied het en die maatskappy sê dit was weer eens 'n reusesukses.

Die doel van die kompetisie is om die standaarde van lewende hawe te verbeter, terwyl dit terselfdertyd 'n waardevolle geleentheid vir plaaslike produsente bied om hul vee aan Suid-Afrika – vir die Kersseisoen – te bemark.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!