Agri-prosessering kan groei bring
Agri-prosessering kan groei bring

Agri-prosessering kan groei bring

Agri-prosessering en plaaslike waardetoevoeging van onverwerkte landbouprodukte kan werkgeleenthede en dividende vir die bedryf beteken.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibië sal sy eie mense kan voed indien daar op sleutelgrane besluit word om plaaslik te kweek, voerkrale naby groenskemaprojekte begin word, die dieregesondheidsinfrastruktuur in die Noorde verbeter word en mense die nodige opleiding in landbou kry.

Verder moet regeringsbeleide op alle vlakke in die voedselproduksie en –prosesseringsbedryf by mekaar aansluit en by dieselfde doel uitkom.

Tydens die afgelope Bank of Namibia (BoN) se 18de jaarlikse simposium op 21 September het die voormalige adjunkminister van landbou, water en bosbou, mnr. Paul Smit, ’n oorsig gegee oor plaaslike landbouproduksie en industrialisering. Hy het saam met die kundiges dr. Bernie Zaaruka en me. Charlotte Tjeriko aan die voorlegging gewerk oor hoe Namibië sy landbousektor ter wille van voedselsekerheid kan versterk.

Volgens hom is inkomstesekerheid ’n voorvereiste vir voedselsekerheid.

“Die voorvereiste vir inkomstesekerheid is weer om sekerheid van jou werk te hê. Dit beteken besighede moet sekerheid van voortbestaan hê. Die voorvereiste hiervoor is weer sekerheid van eienaarskap.

“Dit is die realiteit en daarsonder vloei kapitaal weg. Dit is een van ons grootste uitdagings – ook as dit by groenskemaprojekte kom. As mense nie eienaarskap van die grond het nie, sien ek nie hoe ons suksesvolle boere vir die toekoms gaan vestig nie,” het hy gesê.

“Sekerheid van eienaarskap vloei voort uit politieke sekerheid. Dit beteken ondersteunende beleide moet bestaan wat als om dieselfde doel werk.”

LANDBOU EN KLIMAAT

Die landbousektor het negatiewe groei getoon weens die droogtes van die afgelope vier jaar. Dit het gelei tot ’n swakker beskikbaarheid en hoër koste van voer vir vee.

“Plaaslike landbouproduksie is uiters sensitief vir klimaatstoestande en droogtes ly tot groot veeverliese en verlaag gewasproduksie,” het Smit tydens die geleentheid gesê.

“Namibië kan nie genoeg kos vir sy eie mense produseer nie en ons moet dus invoer. Ons vervaardig sowat 40% van ons kos plaaslik, maar moet meer as 60% invoer – wat ons blootstel aan eksterne prysverhogings.

“Die behoefte aan verbeterde landbouproduksie is noodsaaklik en word positief met laer voedselpryse, die eet van meer voedsame kos en verbeterde kapitaalvloei vanuit die landbousektor verbind.”

Volgens Smit het Namibië ’n telling van 31,4 op die globale hongerindeks. Die indeks gaan tot 100 – hoe hoër die telling, hoe hongerder die volk. Terselfdertyd is tot 70% van Namibiërs direk of indirek afhanklik van landbou vir ’n bestaan, en is hierdie dus ’n sleutelsektor om onder meer ekonomiese transformasie te bewerkstellig.

“Na raming het 27,8% van Namibiërs geen voedselsekerheid nie. Die Namibiese regering bied jaarliks steun in die vorm van kos aan sowat 300 000 Namibiërs. Die getal neem in droogtetye toe,” het Smit gesê.

BUITELANDSE VERDIENSTE

“Afgesien van vleisproduksie produseer alle ander landbousektore minder as wat ons gebruik en maak ons op invoere staat.

“Die landbousektor het egter die potensiaal om tot ons buitelandse verdienste by te dra. In 2016 het Namibië lewendehawe en gewasse ter waarde van N$1,7 miljard uitgevoer – dit is sowat 2,8% van die inkomste wat uit alle uitvoere gemaak is,” het hy gesê.

“Tuinbouprodukte speel ’n groeiende rol in uitvoere en daarom het die regering nog 27 000 ha vir die kweek hiervan geïdentifiseer, waarvan 11 000 reeds onder produksie is.

“Tussen 2003 en 2008 het die algehele waarde van wildsvleisuitvoere verdriedubbel, van minder as N$11 miljoen na N$31 miljoen. In terme van volume is Suid-Afrika ons hoof- wildsvleishandelaar.

“Sedert 2014 is daar egter geen fasiliteit wat wildsvleis oorsee uitvoer nie en is uitvoere beperk tot klein hoeveelhede geprosesseerde produkte wat na Suid-Afrika gaan. Die uitvoer van wildsvleis het in 2014 na 86 ton en weer in 2015 na 38 ton geval,” het Smit gesê.

Volgens die verslag is Namibië se kommersiële boere hoofsaaklik by veeboerdery betrokke, maar word die sektor deur die wildsvleisbedryf bedreig.

“Verbruikers, wat al meer gesondheidsbewus raak, wil eerder wildsvleis eet en dit plaas die tradisionele veebedryf onder druk. Die ooraanbod van wildsvleis, veral in die jagseisoen, maak dat boere besigheid verloor. Boonop is wildsvleis goedkoper as beesvleis.”

VLEISBEDRYF

Smit het gesê beesvleis is die grootste boerdery-aktiwiteit in Namibië, gevolg deur skaap- en bokboerderye en dan varkboerderye.

“Die meeste beeste wat bemark word, word op die hoef na Suid-Afrika uitgevoer. ’n Afwaartse neiging is te bespeur in die aantal kleinvee wat die afgelope 10 jaar bemark is. Dit kan weens droogtes wees, maar ook moontlik weens die kleinveebemarkingskema.”

Smit sê Namibië het die potensiaal om veekos plaaslik te produseer en dat groenskemaprojekte die sleutel tot die vestiging van voerkrale is.

“Daar is tans net een werkende voerkraal in die land – Meatco se Okapuka. ’n Voerkraal kan egter nie in isolasie werk nie – dit moet deel van ’n waardeketting vorm. Tans is dit duur om ’n voerkraal te bestuur, want alle voer moet ingevoer word.”

AGRI-PROSESSERING

“Ten spyte daarvan dat die landbousektor en agri-prosessering die potensiaal het om baie werkgeleenthede te skep en inkomste, asook voedselsekerheid te verbeter, moet dit uitdagings in die gesig staar soos droogte, hoë insetkoste en die onwilligheid van plaaslike handelaars om Namibiese produkte aan te bied.

“In 2016 het dié sektor sowat 5% tot die BBP bygedra,” het Smit gesê.

Die agri-prosesseringsektor toon egter bestendige groei in die meeste subsektors, met die maal van graanprodukte wat die beste vaar.

Volgens Smit krimp die vleis- en vleisverwerkingsektor en dit word hoofsaaklik aan droogte toegeskryf.

“Vleis word meestal in sy onverwerkte vorm uitgevoer, wat ’n verlies aan plaaslike werkskepping beteken. Sekondêre en tersiêre waardetoevoeging vind buite ons grense plaas en dit is dieselfde as om plaaslike werkgeleenthede asook die dividende van waardetoevoeging uit te voer.

“Soveel as 80% van ons plaaslike produksie word onverwerk uitgevoer,” het hy gesê.

“Namibië het ook ’n groot vraag na hoendervleis en –produkte, wat beteken die potensiaal bestaan vir die sektor om te groei. Die suiwelbedryf is goed ontwikkel en dien plaaslike asook uitvoermarkte. ’n Toename in die produksie van melk kan gesien word - van 19,5 miljoen liter in 2007 tot 24,2 miljoen liter in 2016.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!