Agribank: Dis klaarpraat met skuldenaars
Agribank: Dis klaarpraat met skuldenaars

Agribank: Dis klaarpraat met skuldenaars

Die bank waarsku kliënte moenie dink hy sal nie plase terugneem omdat dit deur die staat besit word nie, en dat hy nou gerat is om agterstallige skuld vinniger as vantevore in te vorder.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Twee Otjozondjupa-plase wat deur Agribank gefinansier is, sal vandag op veiling geplaas word in ‘n laaste poging van die bank om agterstallige skuld in te vorder.

Dít volg kort nadat die bank aangekondig het hy sal voorts ‘n “harder” benadering tot die invordering van agterstallige gelde volg.

“Hierdie is ons laaste uitweg. Daar is geen ander opsie oor buiten die opveil van die eiendom nie. Die enigste ding wat die proses kan stop, is as die kliënte die agterstallige bedrae voor die veilingsdatum betaal. Daarsonder sal die proses enduit deurgevoer word,” het die bank se uitvoerende hoof, mnr. Sakaria Nghikembua, gesê.

Nghikembua het bygevoeg die twee veilings sal nie in isolasie plaasvind nie, maar deel van ‘n deurlopende proses wees.

Die bank se bestuurder van bemarking en kommunikasie, mnr. Rino Muranda, wou nie gister aan Republikein sê hoeveel ander plase voorts ingevolge die invorderingsproses ook opgeveil gaan word of hoeveel kliënte tans deur dié skuldinvorderingsproses genader is nie, maar het gesê sowat N$500 miljoen is aan die bank verskuldig.

VINNIGER INVORDERING

Nghikembua het in ‘n nuusverklaring beklemtoon as meer kliënte voortdurend nie daarin slaag om hul skuld terug te betaal nie, sal die bank dieselfde roete volg. Hy het bygevoeg die bank het sy interne strukture gerat om strategieë vir invordering veel vinniger as in die verlede toe te pas. Nuwe regsfirmas vorm ook nou deel van die bank se skuldinvorderingspaneel.

Nghikembua het kliënte versoek om op te tree voor dit te laat is.

“As ‘n kliënt wag tot hulle gelys word of tot ons ‘n hofuitspraak teen hulle het, is dit te laat. Die beste is om hierdie omstandighede te vermy deur reëlings vir terugbetalings te tref en dit na te kom.”

In ‘n nuusverklaring sê die bank hy het oor die afgelope maande versoeke aan kliënte met uitstaande skuld gerig om reëlings vir die betaling daarvan te tref. Ander hét glo reëlings getref, maar dit nie nagekom nie.

“Sommige het geen reëlings getref of betalings gemaak nie, oënskynlik weens die wanbegrip dat Agribank deur die staat besit word en dus nie plase sal terugvat nie. Die bank wil dit op rekord plaas dat dit nie ons doel is om plase op te veil nie – behalwe as daar geen ander uitweg is nie,” lui die verklaring.

VERMY REGSAKSIE

Die bank sê verder hy glo genoegsame tyd is gegee om kliënte bewus te maak van hul verantwoordelikheid om hul skuld terug te betaal of reëlings daarvoor te tref.

Hy sê ook hy sal kliënte wat dié verantwoordelikheid nie nakom nie, voorts op kredietburo’s lys en regsaksie teen hulle neem.

Agribank het kliënte weer eens versoek om hul paaiemente te betaal om te voorkom dat hulle agterstallig raak en om, wanneer hulle reeds agterstallig is, reëlings vir die betaling daarvan te tref om verdere regsaksie te vermy.

“Die volhoubaarheid van die bank is afhanklik van gereelde en genoegsame terugbetalings deur kliënte wat lenings uitgeneem het. In die afwesigheid hiervan kan die bank nie sy mandaat uitvoer nie,” lui die verklaring.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer