Agribank verander waardasiebeleid
Agribank verander waardasiebeleid

Agribank verander waardasiebeleid

Die nuwe benadering is algemene praktyk en sluit aan by internasionale standaarde. Boonop is dit goeie nuus vir potensiële geldleners.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Kommersiële plase sal voorts volgens die vergelykbare verkope-benadering deur ­Agribank waardeer word, wat beteken dat die waarde van landbougrond ­verhoog.

Dié benadering behels dat die bank die waarde van grond sal vasstel deur vergelykings te tref met die pryse van onlangse grondverkope in dieselfde omgewing wat soortgelyke landbou-karaktereienskappe het. Dit beteken Agribank se waardering sal meer markverwant wees en heersende marktendense in ag neem.

Volgens mnr. Rino Muranda, Agribank se bemarkings- en kommunikasiebestuurder, is die nuwe beleid goeie nuus vir die landboubedryf omdat plase se waardes nou meer markverwant gaan wees. Dit beteken Agribank volg nou internasionale standaarde vir waardering en ander markpraktyke in Namibië.

Muranda het verlede week aan Republikein gesê die bank pas reeds sedert 2 Desember 2016 die nuwe benadering vir die waardering van kommersiële plase toe.



nuwe benadering

Tot dusver het die bank van die produksiewaarde gebruik gemaak om kommersiële plase te waardeer, wat gebaseer was op die plase se drakrag asook die beskikbaarheid van ander infrastruktuur op die plase wat produksie steun.

Die probleem met dié benadering was dat die waarde van die grond nie met verloop van tyd verander om die beweging van die mark vas te vang nie, maar slegs aangepas word indien veranderinge op plase aangebring is, lui 'n mediaverklaring wat die bank uitgereik het.

Dié metode was tot nadeel van potensiële kliënte wat lenings wil uitneem, omdat hulle self met groot somme bykomende geld vorendag moes kom om vir plase te betaal.

'n Minimale bedrag bykomende geld word met die nuwe benadering vereis, omdat die bank lenings kan uitgee wat huidige marktendese vasvang.

Boonop word die nuwe benadering ook deur ander gelduitleners, asook die ministerie van grondhervorming gebruik.

Die vergelykbare verkope-benadering vorm die kern van eiendomswaardasies in die land.

Volgens die verklaring het die bank ook voorheen van gedepresieerde vervangingskoste gebruik gemaak om eiendomme in dorspgebiede te waardeer. Dit word ook nou met die vergelykbare verkope-benadering vervang.

Dorpseiendomme word dikwels as sekuriteit aangebied wanneer lenings aangegaan word.

“Die probleem met die gebruik van die vervangingskoste wat in waarde verminder is, is dat erwe se waardes van voorlopige munisipale waardasierolle verkry word, pleks daarvan dat dit op die markverwante waarde berus.

“Dit het daartoe gelei dat Agribank se waardering van dié eiendomme dikwels onder markwaarde was.

“Vervangingskoste wat in waarde verminder het, moet slegs die laaste opsie vir waardasie wees in gevalle waar eiendomme selde op die mark verkoop word of waar daar nie 'n aktiewe mark is vir die eiendom wat waardeer word nie,” lui die verklaring.

Agribank se uitvoerende hoof, mnr. Sakaria Nghikembua, het vroeër vanjaar tydens 'n mediakonferensie gesê die aanpassing van die bank se waardasiebeleid is belangrik sodat seker gemaak word dit sluit by die jongste marktendense aan.

Dit vorm deel van die bank se vyfjaar- strategiese plan om onder meer 'n ver­skerpte insamelingstrategie vir agterstallige skuld toe te pas en beter kliëntediens te bied.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!