‘Agripark is die antwoord’
Die skep van Agriparke kan grondhervorming ‘n volhoubare hupstoot gee, meen boere in die Klein-Karoo.
Tisha Steyn - Boere in die Klein-Karoo gaan die regering binnekort nader met ’n plan vir ’n agripark in die streek.
Dié besluit is op ’n onlangse vergadering op Oudtshoorn geneem waartydens verskeie kundiges se menings ingewin is oor watter benadering gevolg moet word om grondhervorming op ’n volhoubare wyse van stapel te stuur.
“Agriparke is die aangewese model vir grondhervorming in die Klein-Karoo,” sê Laubscher Coetzee, ’n boer en Klein Karoo Agri se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap. Hy het die vergadering geïnisieer.
“As hierdie projek realiseer, sal dit die belangrikste en betekenisvolste gebeurtenis in die geskiedenis van Oudtshoorn en die Klein-Karoo wees,” aldus Coetzee.
Naas lede van besproeiingsverenigings en verteenwoordigers van finansiële instellings en saadproduksiemaatskappye, is die vergadering ook bygewoon deur prof. Quinton Johnson, van die Nelson Mandela-Universiteit se George-kampus en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Grond, Erfenis en Menseregte.
Dr. Johan van Zyl van die Universiteit van die Vrystaat en sy vennoot Clinton Massyn van Rouzyl Consulting – ’n konsultasieonderneming wat boere help om bemagtigingsprojekte te skep – het ook die beraad bygewoon.
Volgens Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, is die dorp reeds as een van die agriparke in die Edenstreek gesoneer. Dit is al in 2011 deur die staat geïdentifiseer.
WAT IS ’N AGRIPARK?
’n Agripark is gebaseer op die relatiewe ekonomiese voordeel wat só ’n landbouontwikkeling – wat finansieel deur die staat ondersteun word – vir die distrik en die gemeenskap inhou.
Ideaal gesproke beskik só ’n agripark reeds oor al die landbou-elemente soos infrastruktuur wat suksesvolle produksie, verwerking en bemarking van geskikte produkte moontlik maak. Die staat onderneem om die projek minstens tien jaar te subsidieer omdat dit deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan vorm.
“Die beginsel van ’n agripark strook met ons benadering tot grondhervorming,” sê Joey Potgieter, ’n boer en voorsitter van Agri Klein Karoo. “Boere in die Klein-Karoo met wie gekonsulteer is, is bereid om 25% van hul ingelyste grond (grond met waterregte) tot die agripark se beskikking te stel,” sê hy.
Dít is ’n aanbod wat die beginsels ondersteun van ’n agripark wat deur boere gedryf word, sodat die landboupotensiaal van die distrik ten volle ontwikkel kan word.
“Omdat die boere 25% van hul grond tot die agripark se beskikking stel, hoef die staat nie verder koste aan te gaan om nog grond vir onteiening by te koop nie. Die boere wil as mentors optree en hul kennis en vaardighede, landbouhulpmiddels, infrastruktuur vir verwerking en bestaande markte vrywillig beskikbaar stel,” verduidelik Potgieter.
“Dit sal daartoe lei dat die hele gemeenskap deur volhoubare werkskepping ongekende welvaart beleef. Een werkskeppingsgeleentheid onderhou drie persone, terwyl een werkskeppingsgeleentheid in primêre landbou agt werkgeleenthede in sekondêre landbouverwerking ondersteun. Al wat ons van die staat vra, is om te verseker dat volhoubare water tot die agripark se beskikking gestel word,” voeg Potgieter by.
Indien watersekerheid geskep kan word, sal banke meer toeskietlik wees met finansiële ondersteuning omdat haalbare kontantvloeiprogramme opgestel kan word, het Pieter de Jager van Absa op die vergadering gesê.
Dit sal daartoe lei dat die hele gemeenskap deur volhoubare werkskepping ongekende welvaart beleef.
NAVORSING EN BEVINDINGE
Diepgaande navorsing oor die bestaande en alternatiewe waterbronne, ’n ontleding van die bestaande watergebruikspraktyke en die invloed daarvan op die ekologie, sowel as die sosio-ekonomiese invloed van landbou in die KleinKaroo, is reeds in 2005-’06 deur Ninham Shand in opdrag van die Wes-Kaapse departement van landbou gedoen.
Ninham Shand het in sy verslag tot die volgende slotsom gekom: “Die ekonomie van die hele streek is nou gekoppel aan die landbou-ekonomie en die sosio-ekonomiese omstandighede van die gemeenskap, veral diegene uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Die Mzimvubu-, Oranje- en Olifantsrivier-waterskema kan ’n groot bydrae lewer om die bestaande waterskaarste aan te vul – al is dit teen baie hoë koste.”
“Sekere aspekte moet nog bevestig word, maar water uit die Oranjerivier sal vanaf Teviot in die Oos-Kaap oor Graaff-Reinet met die Olifantsrivier na die Stompdrift/Kammanassie-watergebruikersvereniging (SKWGV) se stelsel gebring word, en met behulp van die bestaande waterverspreidingsnetwerk aan sowat 300 boere langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot naby Calitzdorp versprei word,” sê Riaan Krüger, bestuurder van die SKWGV.
Ander moontlike oplossings vir die waterprobleem sluit in om die inhoud van bestaande damme te verhoog, nóg damme te bou of ontsouting vir Mosselbaai te oorweeg.
Alternatiewe landbougewasse wat by semiwoestynagtige gebiede aangepas en in verskillende vorms verwerk kan word, is volgens Van Zyl ook ’n moontlikheid.
’n Aksiekomitee wat die moontlikhede sal moet ondersoek, is op die vergadering aangewys. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie