Agt klimmers tree aan vir die Brandberg
Agt klimmers tree aan vir die Brandberg

Agt klimmers tree aan vir die Brandberg

Avontuursport
Des Erasmus
Des Erasmus



Agt erkende bergklimmers en veld­atlete is in die vroeë stadium gekeur vir 'n aanslag op die erkende rekordtyd vir die klim van die Brandberg op Vrydag 9 Junie. Königstein, die hoogste spits, is ook die hoogste piek in Namibië.

Met die bergklimmery gaan die visier op die vinnigste bekende tyd vir die op en af teen die Brandberg wees. Die rekord staan agter die naam van Fred Zalokar, 'n Amerikaner wat berguitdagings dwarsdeur die wêreld aandurf. Hy het in 2015 die Brandberg van die basis tot by Königstein en terug in 8 uur 6 minute geklim.

Die Brandberg lok gereeld bergklimmers van oorsese lande. Dit is veral manne wat die hoogste spitse op vele lande wil verower. Onder plaaslike klimmers word 'n op- en aftog teen die berg binne tien uur as goed bestempel.

Die Brandberg self laat hom ook nie sommer klim nie. In die somermaande is dit te warm en in droogtejare mag die berg ook nie in die winter geklim word nie by gebrek aan oop water. Die Brandberg het vanjaar in van die goeie reën in die binneland gedeel.

Benewens fiksheid word ander vereistes ook vir Brandberg-klimmers gestel. Hulle moet oor 'n permit van die Erfenisraad beskik en mag die berg net in geselskap van een van die berggidse klim.

Juis die streng voorwaardes het vir 'n siftingsproses vir die klimmery op 9 Junie gesorg. Tot tien klimmers kan toegelaat word met plek vir nog twee wat gevolglik nog vandeesweek ingepas kan word.

Onder die eerste goedgekeurde inskrywings is nie net klimmers nie, maar ook veldatlete wat op die gebied van uithouwedrenne oor haas onbekende weë bekend is.

'n Prysgeld van N$10 000 is in die aanslag op die rekordtyd op die spel. 'n Vereiste vir die wenner is dat ook op 11 Junie aan die Brandberg Rhino Run deelgeneem moet word in enigeen van die kategorieë van veldwedlope oor 26 en 13 km, die pretloop oor 7 km of die bergfietswedren. Die fietsryers sal op 11 Junie om 06:00 wegtrek en die drawwers om 06:15.

Bruce Fordyce, die koning van die Comrades met nege oorwinnings, sal die renosterdraf op uitnodiging as eregas bywoon en self aan een van die drafnommers deelneem.

Die opbrengs van die renosterdraf gaan aan die Red die Renostertrust.

Skakelbesonderhede: Nico of Riana Scholtz (sel. 081 328 6253).

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer