Agt maatskaplike werkers, duisende sake
Agt maatskaplike werkers, duisende sake

Agt maatskaplike werkers, duisende sake

Agt maatskaplike werkers, met die hulp van vier senior personeellede, is verantwoordelik vir die hantering van ten minste 2 933 gevalle per maand in die Khomasstreek.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – ’n Versoekskrif wat die omstandighede uitstip van maatskaplike werkers en aan die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn gerig is, het op dowe ore geval.

Volgens die groep beswaardes het die regering klaaglik daarin misluk om aan die vereistes van die kindersorg- en beskermingswet te voldoen wat vyf jaar gelede in werking getree het en wat vra vir die uitbreiding van bestaande infrastruktuur.

“Dit is in Maart en April 2020 voorgestel, maar maatskaplike werkers is steeds oorwerk met beperkte hulpbronne ten spyte dat daarvoor voorsiening gemaak word.

“Weens die eng struktuur trek die beste belange van kinders en hul families steeds aan die kortste end,” lui die versoekskrif.

Die wet maak voorsiening vir die aanstelling en aanwys van maatskaplike werkers, ondersteunende personeel, kindersorgwerkers in die gemeenskap en proefbeamptes, sowel as private maatskaplike werkers en kinderbeskermingsorganisasies vir sekere doeleindes.

Op ’n maandelikse basis hanteer maatskaplike werkers in die staat ’n gemiddeld van 442 geskille oor toesig en toegang, insluitend gevalle wat reeds agter is.

In ’n maand word ook ’n gemiddeld van 376 gevalle vir psigomaatskaplike ondersteuning vir individue of families hanteer, bykomend tot die agterstand van 555 gevalle. Voorvalle van geslagsgebaseerde geweld lei tot ’n gemiddeld van 254 gevalle per maand, terwyl ’n gemiddeld van 278 van dié gevalle maandeliks hanteer moet word. Die beswaarde maatskaplike werkers sê buiten dit staar hulle gedurig dreigemente van lasbriewe vir inhegtenisname in die gesig weens uitstaande hofverslae en word hulle gedurig deur die hofstelsel verneder.

Volgens die maatskaplike werkers is die agt bestaande maatskaplike werkers met die hulp van vier senior personeellede op ’n maandelikse basis verantwoordelik vir ten minste 2 933 gevalle.

Hulle pleit in die versoekskrif die ministerie moet die aantal maatskaplike werkers wat die sowat 342 141 inwoners in die Khomasstreek moet bedien, tot ten minste 40 verhoog. Voorts vra hulle vir ’n maandelikse toelaag van N$250 se lugtyd omdat die sentrum vir mishandelde vroue en kinders se telefoon stukkend is. Volgens die maatskaplike werkers offer hulle hul persoonlike tyd, selfone en lugtyg op om hul werk gedoen te kry.

Bogenoemde frustrasies lei tot uitbranding en gedurige siekteverlof wat gevolglik tot ’n hoë personeelomset in die streek lei.

Die maatskaplike werkers doen ook ’n beroep op die ministerie om die veilige hawe vir kinders in bedryf te stel en meer plekke van veiligheid vir weerlose kinders te open soos wat die kinderbeskermingswet vereis.

Die uitvoerende direkteur in die ministerie, me. Ester Lusepani, het by navraag gesê sy kan nie kommentaar lewer nie, omdat sy nie die versoekskrif van die maatskaplike werkers ontvang het nie, maar van die media.

“Ons het daardie kwessies in verskeie vergaderings bespreek en hulle weet die antwoord,” het sy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!