Agt topklubs deur na kwarteindronde
Net een span van buite die NPL het nog 'n aanspraak in die nasionale uitklopreeks.
Tielman van Lill
Die 2018 Debmarine-beker vorder komende naweek nog 'n tree nader aan die finaal wanneer African Stars teen Unam en Eleven Arrows teen LHU Blue Waters takel.
In die ander kwarteindbotsings sal Civics en Tura Magic koppe stamp, terwyl FNB Black Africa sy pad teen Golden Bees sal moet oopveg.
Die afgelope naweek is agt wedstryde tydens die ronde van 16 in Windhoek en Walvisbaai afgehandel om die kwarteindstryders te bepaal.
Die semifinale lê op 12 en 13 Mei voor, met die groot oomblik die eindstryd op 26 Mei waar die land se nasionale uitklopkampioenspan met N$500 000 beloon sal word.
African Stars se Godwin Jena is ná sy vier doele teen Dynamos by die Sam Nujoma-stadion in Windhoek as speler van die wedstryd aangewys. Treasure Kauapirua en Ambrosius Amseb tref ook elkeen met 'n doel om Stars 'n oorwinning van 6-0 teen Dynamos van Otjozondjupa te verseker.
Black Africa eindig in gewone speeltyd gelykop (1-1) teen Khuse, 'n tweedeligaklub van die Oshanastreek, maar speel klaar met dié bittereinders deur die strafskoptelling met 2-0 in sy guns te beklink.
Hoewel BA vroeg die voortou met 1-0 geneem het, het Khuse in die tweede helfte verwoed aangeval en soos tiere verdedig om in die 70ste minuut die telling 1-1 te maak.
Onesmus Ashipala, kaptein van Khuse, loop met die speler van die wedstryd-beloning weg.
Civics troef Once Again van Kavango-Oos met 10-1 danksy doele deur Donald Geiseb (6), Erich Ochurub (2) en een elk van Ngunzu Salazar en Matheus Halap. Geiseb se ses treffers besorg aan hom die speler van die wedstryd-toekenning.
Joseph Hausiku teken Again se solo-doel aan.
Golden Bees se doelwagter, Herman Hoakaob, speel sy hart uit en met sy keerwerk dwing hy 'n doellose stryd teen Khomas Nampol af om as speler van die wedstryd aangewys te word.
Met speeltyd verstreke, is dit Outjo se Bye wat helaas in die strafskopstryd met 4-3 deurdring.
Tura Magic se doelfees van 9-1 teen Swakopmund Sokkerklub kom van speler van die wedstryd Theophilus Junias (4), Oswaldo Xamseb (3) met Raphael Adade en Papi Kavezembi wat een elk bydra. Swakopmund se enigste doel is deur Nathan Beukes behaal.
Unam se Clever Boys het min moeite ondervind om Chief Santos van Tsumeb met 4-0 uit te skakel. Marcel Papama van Santos was 'n moedige speler van die wedstryd, maar doele deur Unam se Edmund Kambanda, Tara Katupose, Devin Somseb en Lebbius Mwatilefa sorg vir die slimjanne se oorwinning.
Vir Young Chiefs is dit neusie verby in die 82ste minuut teen Blue Waters toe Marius Nashipala die wendoel aanteken om die telling 2-1 te maak. Chiefs se Lukas Johannes het sy span se enigste treffer in die 64ste minuut behaal. Gregory Aukumeb, die Walvisbaaiers se speler van die wedstryd, het sy span se eerste doel in die eerste helfte aangeteken.
Die laaste wedstryd van die naweek op Walvisbaai het vir die meeste drama gesorg toe Eleven Arrows vir FNB Orlando Pirates ná speeltyd verstreke was met 4-3 in 'n verbete strafskopstryd klop.
Met net 'n paar sekondes oor op die stophorlosie, het Arrows danksy doele deur Joseph Nghifindwako en Amos Iyambo met 2-1 voorgeloop. Maar in die 90ste minuut behaal Pirates se Marcello Haraseb die gelykmaker om die Seerowers 'n laaste kans met strafskoppe te gee. Die Windhoekers se hoop is nietemin in die valbylstryd verydel.
Golden Bees is die enigste klub van buite die Namibiese Premierliga (NPL) en enigste van die tweedeliga wat sover kon oorleef.
Spelers van die wedstryd het elkeen 'n tjek van N$2 000 van Debmarine ontvang. Die wenspan van die gesogte Debmarine-beker sal N$500 000 ontvang, met die naaswenner wat N$250 000 kan bank. Verloorders in die semifinaal verdien 'n billike N$150 000.
- Bykomende inligting NFA.org.na, Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie