Aiden: 100 saam met oorwinning sou meer beteken
Krieket
Tinus van Staden – Die ingetoë wyse waarop Aiden Markram Maandag sy honderdtal in die tweede toets teen Pakistan gevier het, het ’n storie vertel van ’n kolwer met een doel voor oë: om sy span oor die wenstreep te kry.
Toe Markram later vir 108 uit is, met sy span se telling op 241 en nog 129 lopies kort van die teiken van 370, was sy frustrasie ook sigbaar. Hy het sy kolf geslaan en ergerlik van die veld gestap.
Die Proteas het hierna ineengestort soos net hulle kan en hul laaste sewe paaltjies vir 33 lopies verloor. Pakistan het die toets met 95 lopies en die reeks met 2-0 gewen.
“Ons sportmense is hoogs mededingende mense. Om ’n wedstryd of ’n reeks te verloor, pla jou meer as die genot van ’n goeie persoonlike vertoning,” het Markram agterna gesê.
“Ek voel tans meer pyn as genoegdoening. Dit het gevoel dat daar tye in die reeks en in dié toets was waar ons begin het om vordering te maak en dit dan prysgegee het.”
Dit was sy vyfde toetshonderdtal en sy eerste buite Suid-Afrika. Dit beteken baie, maar sou meer spesiaal gewees het as dit in ’n oorwinning aangeteken is.
“Dit is ’n beurt waaruit ek baie geleer het. Ek het voorheen al op die subkontinent en teen draaiboulwerk gesukkel,” sê hy.
“Dit was lekker om dié beurt te kon speel, maar die ideale scenario sou wees om die span oor die wenstreep te help.”
Markram sê hulle was Maandagoggend oortuig dat hulle die teiken sou kon haal.
“Dit was uiteraard ’n groot teiken wat ons gejaag het, maar ons het dit in kleiner teikens verdeel. Ons het geweet hoe nader ons aan teetyd kom, hoe groter sal ons kans wees,” sê hy.
“As ons teen teetyd nog gekolf het, sou ons beslis ’n kans gehad het. Ons wou nie met enige vrees speel nie; ons wou onsself uitleef.
“Ons voel maar teneergedruk op die oomblik. Ons is besig om nuwe spelers in te bring nadat groot spelers ons verlaat het. Dit is waar ons as ’n span is, al is dit nooit lekker om te verloor nie.
“Daar was tye waar ons goed gelyk het, maar ons kon dit nie vir lank genoeg volhou nie.”
Die Proteas sit tans met hul hande in hul hare oor die probleem van kolfineenstortings.
“Ons moet lesse leer en nie dieselfde foute herhaal nie. Om jouself in te speel in die subkontinent is taai. Paaltjies kan daarom in groepe val.
“Ons het nie nou ’n oplossing daarvoor nie, maar die les sal wees om kalm te bly. Dit raak stadig maar seker makliker as jy jou tyd neem en jouself net eers inspeel.”
– Netwerk24
FOTO
Aiden Markram het Maandag ’n skitterende honderdtal aangeteken. Foto Nampa/AP

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie