Air Nam gaan fiskus melk
Finansminister Iipumbu Shiimi lê vanmiddag sy begroting vir die nuwe boekjaar in die parlement ter tafel en ontleders verwag ’n aansienlik groter as verwagte tekort.
Jo-Maré Duddy – Die likwidasie van Air Namibia en die oorspoeluitwerking daarvan op ander ondernemings in staatsbesit (SOE’s) sal die land se begrotingstekort in 2021-’22 waarskynlik met miljarde meer opjaag as wat verwag is.
Bultende uitgawes, krimpende inkomste en ’n gevolglike hoër begrotingstekort kan Namibië se reuseskuldlas nóg groter maak. Hiervoor sal die belastingbetalers in die toekoms moet opdok.
Cirrus Securities meen die regering het die totale koste van die likwidasie van Air Namibia onderskat.
Die regering is op rekord dat sy beraming van dié koste sowat N$2,5 miljard is – die verskuldigde bedrag vir die huurkontrakte van vliegtuie waarvoor die regering waarborg geteken het.
Cirrus vermoed daar is reeds vir sowat N$2 miljard hiervan in begrotingsprojeksies voorsiening gemaak, maar die oorblywende N$500 miljoen gaan ’n bykomende uitgawe in 2021-’22 wees, sê mnr. Robert McGregor, Cirrus se ekonoom.
Daar is ook ander Air Namibia-transaksies wat deur die regering gewaarborg is, volgens McGregor. Een hiervan is sowat N$410 miljoen op ’n lening by ’n plaaslike handelsbank wat uitstaande is. Die regering se onderneming om afgelegde werknemers van Air Namibia ’n jaar se salaris te betaal, gaan ongeveer N$330 miljoen kos, sê hy.
Volgens McGregor skuld Air Namibia die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) sowat N$708 miljoen en die Namibië Burgerlugvaartowerheid (NCAA) ongeveer N$76 miljoen.
“’n Gedeelte of alles van dié uitstaande skuld sal op een of ander manier deur die regering betaal moet word. Boonop staar beide die NAC en die NCAA in die toekoms minder inkomste sonder Air Namibia se bedrywighede in die gesig. Die regering gaan dus waarskynlik genoodsaak wees om geldelike bystand te verleen,” sê McGregor.
BAKHAND
Hoewel die ontvanger van inkomste een van die voorkeurkrediteure in die likwidasie van Air Namibia is, skuld die lugredery sowat N$790 miljoen in agterstallige belasting.
McGregor se somme toon bogenoemde beteken sowat N$2,3 miljard se bykomende uitgawes wat finansminister Iipumbu Shiimi nie in sy beramings vir 2021-’22 tydens sy hersiende begroting verlede Oktober in ag geneem het nie.
Ander SOE’s soos AgriBusDev, die Paaieowerheid (RA) en die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) sukkel ook met wanbetaling. TransNamib, die NBC en die Namibiese finansiële hulpfonds vir studente (NSFAF) sal straks ook by die regering om geldelike hulp aanklop.
“Die regering mag dalk nie veel bystand kan verskaf nie, maar dit sal waarskynlik ’n bietjie help, aangesien baie van dié entiteite nie mág faal of gelikwideer word nie. Dit sal druk op die uitgawefront verhoog,” sê McGregor.
Dit beteken Namibië se werklike begrotingstekort vir 2021-’22 gaan naby N$17 miljard wees, vergeleke met N$13 miljard wat Shiimi in sy hersiende begroting beraam het, sê hy.
INKOMSTE
Ontleders is dit eens dat aansienlik minder geld in 2021-’22 in die staatskas gaan invloei as waarop gehoop is, veral uit die geledere van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu).
Mnr. Dylan van Wyk, ’n ontleder van IJG Securities, sê gegrond op die onlangse Suid-Afrikaanse begroting, gaan Namibië se inkomste uit die Sacu-poel vanjaar met sowat 27% val.
Eerder as die N$17,6 miljard waarvoor Namibië gehoop het, gaan Sacu-inkomste eerder tussen N$15 miljard tot N$16 miljard wees, meen McGregor.
Buiten vir laer Sacu-inkomste wys mnr. Elwis Katuwo, ekonoom van Simonis Storm (SS), daarop dat Debmarine Namibia 6% minder belasting en tantième aan die regering betaal het.
McGregor verwag nie dat die regering as teenvoeter vir die resessie groot geld in die ekonomie gaan inpomp nie, buiten vir besteding om die gesondheidstelsel te onderhoud en sy bevolking teen Covid-19 in te ent.
Van Wyk meen ook daar sal nie noemenswaardig van die bestedingsplafon in die hersiende begroting afgewyk word nie.
Katuwo, aan die ander kant, verwag ’n beduidende stimulus om lewe in die ekonomie te blaas.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie