Air Nam: Geen bief, vis of hoender meer
Air Nam: Geen bief, vis of hoender meer

Air Nam: Geen bief, vis of hoender meer

Ronelle Rademeyer - Vir die steierende nasionale redery se passasiers in ekonomiese klas is ’n skinkbord waarop ’n warm ete, slaai en poeding voorgesit word, voorafgegaan deur wyn, bier of ietsie sterker, van môre (Vrydag) af iets van die verlede.

Air Namibia het gister aangekondig passasiers op vlugte van 2,5 uur en korter sal net ’n “droë versnapering” met sap of water ontvang.

Geen etes en geen alkoholiese drankies of tee en koffie sal meer beskibaar wees nie.

Passasiers in besigheidsklas sal wel nog warm etes en drankies kan geniet. Net so word spyseniering op die buitelandse roete nie geraak nie.

Die tussentydse uitvoerende hoof van die nasionale redery, mnr. Xavier Masule, sê dit is deel van Air Namibia se strategie om inkomste te verbeter en kostes te bestuur.

“As ’n redery wat die pas in die streek aangee, is dié stap daarop gemik om ons besigheid finansieel meer volhoubaar te maak en dit met vandag se werklikheid te laat strook,” sê Masule.

Volgens hom verander die sakeomgewing baie vinnig en het dit ’n groot impak op die lugvaartbedryf wêreldwyd. Dit noop lugrederye om aanpassings te maak, sê hy.

Air Namibia se kontantvloei is onder geweldige druk vanweë die kostebevel teen hom in ’n Europese hof, wat meebring dat beslag gelê word op die inkomste uit sy kaartjieverkope op die Windhoek-Frankfurt-roete.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer