Air Nam in nagtelike ure hof toe oor lisensie
Air Nam in nagtelike ure hof toe oor lisensie

Air Nam in nagtelike ure hof toe oor lisensie

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die nasionale redery kon laasnag daarin slaag om 'n bevel in die hoërhof te kry wat die Vervoerkommissie van Namibië se besluit om sy lugdienslisensie op te skort, ter syde stel.
Dit beteken Air Namibia se geskeduleerde vlugte op die binnelandse roetes kan voortgaan.
Mnr. Escher Luanda, voorsitter van direksie, het vroeg vanoggend aan Republikein gesê hy beskik nie oor meer inligting nie en het in die media van die middernagtelike hofaansoek kennis geneem.
Mnr. Elia Erastus, waarnemende uitvoerende direkteur van Air Namibia, het laat weet hy is in 'n vergadering en kan nie 'n oproep neem nie, terwyl mnr. Paul Nakawa, hoof van kommunikasie, se selfoon onbereikbaar was.
Die Vervoerkommissie het die redery Maandag in kennis gestel dat hy om een minuut voor middernag laasnag sy lisensie sou opskort aangesien hy nie aan die voorwaardes van die Lugdienswet, wet 51 van 1949, in terme van veilige dienslewering voldoen nie.
Die dringende aansoek het voor regter Marlene Tommasi gedien.

Foto: Air Namibia

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer