Air Namibia se vlerke wankel
Air Namibia se vlerke wankel

Air Namibia se vlerke wankel

Die toekoms van die nasionale lugredery is opnuut duister.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die pasaangewese raadsvoorsitter van Air Namibia, mnr. Escher Luanda, sê hy wil hom nie oor die lopendesaakvooruitsigte van die redery uitlaat nie.

Dit kom nadat die dagblad The Namibian die afgelope week berig het die beleërde nasionale lugredery benodig N$1,6 miljard teen die einde van dié maand om te verhoed dat Air Namibia se skip sink.

Op ’n vraag oor of die redery as ’n lopende saak bly voortbestaan, het Luanda gister gesê: “Ek wil nie oor daardie aspek aangehaal word nie.”

Die prokureur en grootkop by die regering se pensioenfonds (GIPF) is verlede week as raadsvoorsitter aangestel ná die bedanking van sy voorganger, adv. Dee Sauls-Deckenbrock, en haar adjunk, me. Nangula Kauluma.

Luidens die berig in die dagblad het Sauls-Deckenbrock twee dae voor haar bedanking vir die regering vir hulp ten bedrae van meer as N$1 miljard gevra.

Luanda het gister gesê hy wil nie die verhouding tussen die raad en die regering in die gedrang laat kom nie.

“Ek wil net die aandeelhouerraad-betrekking in stand hou. Vanuit daardie perspektief sou ek verkies om nie kommentaar te lewer nie.”

Volgens hom is dit belangrik dat “wat ookal bespreek word, in dié stadium tussen die twee partye behoort te bly”.

Luanda sê hulle sal wel “op ’n geskikte tydstip” meer lig op Air Namibia se bedrywighede werp.

“Ons benadering is om te verseker ons verskaf kommunikasie wat verstaanbaar is.”

Dié kommunikasie behoort binne die volgende twee weke verskaf te word, het hy gesê.

Mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, het gister gesê alle kwessies rondom Air Namibia val sedert 2018 onder die kabinet se komitee gemoeid met die tesourie (CCT).

Sy finanskollega, mnr. Calle Schlettwein, is die voorsitter van die komitee “vir die geskikte hantering, ondersoeke en objektiewe raad/aanbevelings aan die kabinet vir finale besluite in die beste belang van die nasionale redery, die land en die nasie”.

Mutorwa sê die aangeleentheid oor die versoek dien steeds voor die komitee.

Hy het ontken dat hy sou gesê het Air Namibia sal nie die reddingsboei kry nie.

Schlettwein het nie op boodskappe gereageer nie.

Die ministerie van finansies se woordvoerder, mnr. Tonateni Shidhudhu, het gistermiddag bevestig die kwessie is steeds voor die CCT op die tafel.

Kommentaar

Republikein 2025-03-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer