Air Namibia soek nuwe raad
Air Namibia soek nuwe raad

Air Namibia soek nuwe raad

Die raadsvoorsitter van Air Namibia sê belangrike mylpale is die afgelope drie jaar bereik.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die ministerie van werke en vervoer vra dat “professionele, akademies gekwalifiseerde en toegewyde” Namibiërs aansoek doen om die posisies van Air Namibia-raadslede.

Die huidige raad se driejaartermyn verstryk aan die einde van Julie en die sluitingsdatum vir nuwe aansoeke is 13 Julie.

Dié ministerie in samewerking met die ministerie van staatsondernemings koördineer die aanstelling van nuwe lede.

Hulle doen 'n beroep op deskundiges met ervaring in onder meer sake- en lugrederybedrywighede, finansiële, menslikehulpbron- en projekbestuur, asook handelsreg.

Aansoekers moet ook ondervinding as raadslede van kommersiële of private entiteite hê, en noemenswaardige veranderinge in hul veld te weeg gebring het.

Mnr. Gerson Tjihenuna, huidige raadsvoorsitter van Air Namibia, het gesê dit is “baie jammer” die raad vertrek sonder dat hulle 'n permanente besturende direkteur vir die nasionale lugdiens aangestel het.

“Ons kon iemand aangestel het. Ons het die reg om dit ingevolge die maatskappywet te doen, maar ons het gedink ons benodig politieke goedkeuring daarvoor en ons het dus die bal vir die regering aangegee,” het Tjihenuna gesê.

“Air Namibia werk binne 'n politieke omgewing en daarom wou ons nie die besturende direkteur sonder politieke steun aanstel nie. Ons het gedink dit is die regte ding om te doen.”

Die werwingsproses is ondersteun deur Deloitte en Tjihenuna het gesê dit was “baie deursigtig.”

Nadat die pos geadverteer en met vier kandidate onderhoude gevoer is, het die raad in Augustus verlede jaar aanbeveel dat adv. Mandi Samson, die huidige waarnemende besturende ­direkteur, permanent aangestel

word.

Hierdie aanbeveling is aan mnr. John Mutorwa, minister van werke en vervoer, gemaak en die minister van staatsondernemings, mnr. Leon Jooste, is ook ingelig.

Tjihenuna het gesê die raad wag nog op Mutorwa se antwoord. Die minister is tans in die hospitaal en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Samson, 'n oudraadslid, dien sedert Augustus 2015 ná die vertrek van die Switserse burger mnr. Rene Gsponer in die pos. Sy sou aanvanklik net vir 12 maande dien, maar die termyn is verleng.



Prestasies

Tjihenuna het gesê een van die huidige raad se grootste prestasies is die aanbieding deur Oxford Economics wat dit gefasiliteer het.

Dié maatskappy is verbind aan die Universiteit van Oxford en 'n leier op die gebied van globale vooruitskatting en kwantitatiewe analise.

Dit het getoon Air Namibia se bydrae tot direkte en indirekte werkskepping dra “veel meer” tot die nasionale ekonomie by as die herhaaldelike finansiële reddingsboei wat tot dusver van die regering ontvang is.

Air Namibia is ook in 2016 en 2017 as die tweede beste plaaslike lugredery in Afrika aangewys.

Nog 'n pluimpie vir Air Namibia is volgens Tjihenuna die Windhoek-­Lagos-Accra-roete wat vanaf 29 Junie ingestel word.

Tjihenuna het ook beklemtoon die huidige raad het vir die eerste keer in die geskiedenis van Air Namibia 'n geouditeerde, finansiële verslag aan ministers Mutorwa en Jooste sowel as senior amptenare in die ministerie van finansies voorgelê.

Die verslag is op 28 April by 'n algemene jaarvergadering ingedien en dek die boekjare 1998 tot 2014.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!