Air Namibia staak roete na Luanda
Air Namibia staak roete na Luanda

Air Namibia staak roete na Luanda

Dié besluit is weens die swak Angolese ekonomie en ’n verminderde passasiersaanvraag geneem.
Karin Eloff
Air Namibia gaan sy vlugte na die Angolese hoofstad, Luanda, van 9 Februarie af opskort.

Die Namibiese lugredery het gister in ’n mediaverklaring aangekondig dié besluit volg weens die swak Angolese ekonomie en ’n verminderde passasiersaanvraag.



“In die verlede was dit Air Namibia se winsgewendste roete, maar die hartseer werklikheid is dat dit vandag anders is. Die roete ly verliese wat nie volhoubaar is nie en daar is geen vooruitsigte dat dit in die nabye toekoms gaan verander nie,” het Air Namibia se waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Xavier Masule, gesê.

Air Namibia het in 1992 met twee vlugte per week na Luanda begin, wat teen 2014-’15 na sewe verhoog is.

Dié roete was volgens Air Namibia van 1998 tot 2015 die winsgewendste roete, maar dít het sedert die verswakking van die Angolese ekonomie verander.

Daarna is vlugte geleidelik tot vier per week verminder.

Volgens Air Namibia is vlugte verlede jaar van Junie tot Oktober ook opgeskort, maar tydens piekseisoen (Oktober tot Januarie) hervat.



“Passasiers wat plek op die geraakte vlugte bespreek het, sal deur die Angolese lugredery TAAG gehuisves word. Hul reisplanne sal nie negatief beïnvloed word nie,” sê mnr. Twakulilwa Kayofa, ’n woordvoerder van Air Namibia.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer