Air Namibia vra nu00f3g miljarde
Air Namibia vra nu00f3g miljarde

Air Namibia vra nóg miljarde

Die lugredery sê met die regte finansieringsmodel kan hy teen 2021 op sy eie voete staan.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Air Namibia se topbestuur sê dit sal tussen N$2,5 en N$3 miljard kos om winsgewend en selfstandiger te word.

By ‘n voorlegging aan die parlementêre komitee oor ekonomie en openbare administrasie gister (19 Sept) het die bestuur gesê die kern van sy probleme is die finansieringsmodel waarop die lugredery se werksaamhede geskoei is.

Air Namibia se algemene bestuurder vir kommersiële dienste, mnr. Xavier Masule, het gesê aandeelhouerbelegging in vergelykbare besighede is in die vorm van kapitale bates, soos die besit van vliegtuie, lugvaartopleidingsakademies, ‘n instandhoudingshawe en vraghanteringsfasiliteite.

Hy het gesê dít sal die las van eienaarskoste van vliegtuie uit bedryfsinkomste verwyder, en sal die balansstaat versterk en ‘n goeie grondslag vir die toekoms lê.

Air Namibia het geen hawe óf vraghanteringsfasiliteite nie. Hy besit twee Airbus 330’s en huur 50% van die vier Airbus A319’s en vier Embraer 135’s wat hy gebruik.

Hoewel Air Namibia se bestuur die regering se herhaalde reddingsboeie erken, sê hy die regering se subsidies teiken bedryfsuitgawes soos die verhuring van vliegtuie, instandhouding en brandstof.

“Hierdie model moet verander,” het Masule gesê, en bygevoeg Air Namibia het daarmee begin deur die beslut in 2017 om bedryfshuurkontrakte in eienaarskap te omskep.

Air Namibia is ook besig om méér van sy vliegtuie gebruik te maak.

Die lugredery maak sedert Junie meer van sy Embraers gebruik.

Hy het die A319 met ‘n Embraer vir die Gaborone-Durban-roetes vervang, bykomende rotering op die Kaapstadse roete geïmplementeer en vyf, in plaas van vier, vlugte na die Victoria-valle ingestel.

Sedert April gebruik hy ook sy Embraer-vloot op die Harare-Lusaka-roete.

DILEMMA

Die Frankfurt-roete, wat die meeste toeriste na die land bring en Namibiese vis na Europa vervoer, is ook waar Air Namibia sy grootste verliese ly.

Masule het gesê die lugredery is van plan om slegs een van sy Airbusse – eerder as die twee wat tans gebruik word – op dié roete te gebruik.

Verdere studies word gedoen om ander opsies te vind om hierdie roete volhoubaar te maak, het hy gesê.

ONVOLDOENDE LUGHAWE-INFRASTRUKTUUR

Die bestuur het ook gekla oor onvoldoende lughawe-infrastruktuur, insluitend die gebruik van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako.

Die lugredery kla dat hy slegs drie vlugte per dag van die Eros-lughawe af kan onderneem, aangesien hierdie lughawe reeds negeuur saans sluit.

Air Namibia voel as hy méér vlugte van Eros af kan onderneem, hy goedkoper binnelandse vlugtariewe kan aanbied.

Ondanks die feit dat die Ondangwa-roete sy besigste is, sê Air Namibia dit kan nie maksimaal gebruik word nie, omdat dié se rybaan en laaiblad nie groter vliegtuie kan hanteer nie.

REGERING MOET MET AIR NAMIBIA VLIEG

Air Namibia sê ondanks ‘n kabinetsbesluit van 2011 dat alle regeringslui van die nasionale lugredery gebruik moet raak, maak hulle steeds gebruik van buitelandse lugdienste. Dít, sê Air Namibia, word nie toegelaat in ander lande nie, en vra vir sterker ingryping in dié verband.

BESIGHEIDSPLAN

Die waarnemende besturende direkteur, adv. Mandi Samson, het gesê die lugredery is in veilige hande, maar sê Air Namibia is die “arm kind” in die regeringshuis. Ná 70 jaar van die lugdiens se bestaan was daar inderdaad nog nooit ‘n vliegongeluk nie.

“Te alle tye bestuur ons jul maatskappy asof julle in die raadsvergaderings sit,” het Samson aan parlementslede gesê.

Air Namibia het ‘n besigheidsplan vir 2016-’17 tot 2010-’21 wat reeds deur die kabinet goedgekeur is en verwag om teen 2021 gelyk te breek.

Hierdie plan behels die ontwikkeling en uitbreiding van roetes.

Op aanbeveling van die kantoor van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, sowel as die ministerie van staatsondernemings het Air Namibia ‘n konsultant aangestel om sy besigheidsplan te hersien en te verfyn. Hierdie proses sal na verwagting oor 14 weke gereed wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!