Airbus gaan help met sentrum vir ruimtedata
Namibië is 'n tree nader aan goedkoper en makliker toegang tot satellietbeelde van die land.
Augetto Graig - Die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) en die vliegtuigvervaardiger Airbus se ruimtetegnologie-afdeling ondersoek die moontlikheid om 'n Namibiese ruimtedatasentrum in die land te open.
Afgevaardigdes van Airbus en plaaslike belanghebbendes neem deel aan 'n twee dae lange werkwinkel om na die praktiese toepassing van die satelliettegnologie te kyk.
Tydens die opening van die werkwinkel gisteroggend het die visekanselier van dié universiteit, prof. Tjama Tjivikua, gesê die geleentheid volg op 'n ooreenkoms wat reeds op 16 Februarie tussen Airbus en die universiteit onderteken is. Die ooreenkoms behels samewerking in die oprigting van die Namibiese ruimtedatasentrum en die metode waardeur die universiteit die behoefte aan satellietopnames van die aarde sal bestuur. Aanvanklik wou die kenners kyk na 'n grondstasie vir direkte ontvangs in Namibië, maar teen 'n koste van maklik N$61 miljoen (4 - 5 miljoen euro) is dié opsie onbekostigbaar. Nou ondersoek hulle die moontlikheid van 'n virtuele ruimtedatasentrum waardeur Airbus dienste aan kliënte in Namibië sal verskaf.
In Namibië word dié tipe inligting reeds gebruik deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) om te bepaal waar opnames gedoen en inligting ingesamel moet word.
Nog 'n belangrike gebruik van hierdie inligting is om die land se gebiedswaters te fynkam vir onwettige visvangste deur buitelanders.
Ander gewilde toepassings is vir kartering en opmeting, meteorologie, landbou- en voedselsekuriteit, rampbestuur, die monitering en beveiliging van natuurlike hulpbronne, strategiese infrastruktuur en ekonomiese batebeskerming, nasionale grensmonitering en die opsporing van algemene onwettige aktiwiteite in verafgeleë plekke.
Die sentrum sal direk met Airbus se sentrum in Frankryk gekoppel wees sodat inligting onmiddellik deur middel van die internet gedeel kan word. Die universiteit sal by Airbus spesifieke beelde van 'n reeks satelliete kan aanvra om te ontleed.
Me. Stephanie Le Grand van Airbus het oor die proses en verhouding uitgewei en meer inligting verskaf oor die spesifieke beeld- en radarsatelliete wat gebruik word.
Een groot voordeel van die sentrum is eiendomsreg van die beelde, wat deur 'n regeringsooreenkoms aan Namibië verskaf sal word en veel minder sal kos as wanneer enkele beelde vir spesifieke gebruike aangekoop word, soos tans die geval is.
Die nuwe sentrum sal 'n katalogus van beelde van Namibië kan saamstel waardeur plaaslike belanghebbendes dít wat hulle nodig het, vinniger, goedkoper en makliker in die hande sal kan kry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie