Akkerbouraad sit voet neer oor Amta
Akkerbouraad sit voet neer oor Amta

Akkerbouraad sit voet neer oor Amta

Die Akkerbouraad sê hy wil behoorlike verantwoording oor sy boekhouding kan doen.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) sê hy is genoop om Amta se dienste te beëindig omdat die huidige stand van sake die volhoubare implementering van sy regulerende funksies in die gedrang bring.

Die raad sê geen werksverliese sal gely word nie mits die Landboubemarkings- en Handels­agentskap (Amta) met die raad skakel om die oordrag van personeel aan die raad binne die komende twee weke te bespreek.

“Die Akkerbouraad sal Amta se werknemers werk aanbied, maar volgens óns vergoedingsbeleid,” het mnr. Michael Iyambo, NAB-raadsvoorsitter, gister aan Republikein gesê.

Hy sê indien Amta versuim om met hulle te skakel, sal die raad voortgaan om die poste te adverteer en so gou moontlik te vul.

Dit volg ná die raad onlangs aangekondig het hy sal van 1 April af sélf die funksies vervul wat voorheen namens hom deur die Landboubemarkings- en Handels­agentskap (Amta) gehanteer is.

Dit sluit in die insameling van statutêre heffings en fooie, die uitreiking van vervoer-, invoer- en uitvoerpermitte, asook die bestuur van die beweging van akkerbou- en tuinbouprodukte by hawens en grensposte.

Volgens 'n kennisgewing deur Iyambo is die agentskap se dienste aan die Akkerbouraad amptelik op 20 November 2018 beëindig ná hy in 2014 aangestel is.



ONVOLHOUBAAR

“Die Akkerbouraad beoefen slegs sy wetlike magte soos uiteengesit in die akkerboubedryfswet. Die raad het 'n fidusiêre verpligting teenoor die groter akker- en tuinboubedryf, asook al die verbruikers van sy produkte,” sê Iyambo.

Hy sê volgens die wet is die raad verantwoordelik vir die behoorlike boekhouding van sy rekening en die fooie en heffings wat ingevorder word.

“Dit is die enigste manier waarop die raad behoorlike verantwoording aan die ouditeur-generaal deur die minister kan doen.

“Die huidige toedrag van sake is nie en sal ook nooit volhoubaar wees met die ondoeltreffende insameling van heffings nie,” sê Iyambo.

Die voorsitter sê boonop is die bestuursraamwerk van die raad al te lank in die gedrang.

“Die raad is reeds langer as 12 maande in gesprek met beide Amta en die ministerie van landbou, water en bosbou ná sy besluit van 20 November 2018.

“Die doel daarvan was om die oordrag van funksies te versnel, maar dit het nie die gewenste resultate gelewer nie,” sê hy.

Hy sê ten spyte daarvan dat die betrokke partye in Junie verlede jaar reeds ooreengekom het dat Amta se funksies weer teen Oktober verlede jaar aan die Akkerbouraad oorgedra moes word, is sake deur onnodige vertragings en 'n gebrek aan die nodige reaksie belemmer.



AMTA SKULD NAB

Iyambo sê verder het Amta tot dusver nie die N$26 miljoen terugbetaal wat die raad in 2017 aan hom oorbetaal het nie en ook nie die opbrengste eenkant gehou soos ooreengekom nie.

Dit ongeag talle vergaderings en briewe aan die ministerie.

Buiten die feit dat die geld terugbetaal moes word, het die ooreenkoms ingesluit dat dié geld vir die aankoop van graan vir kleinskaalse boere gebruik moes word en dat opbrengste vir toekomstige graanaankope uitgehou moet word.

“Die Akkerbouraad is gereed om teen 1 April te doen wat gedoen moet word om die betrokke funksies te verrig,” sê hy.

“Daar bestaan geen rede om enige agente nou of in die toekoms ­hiervoor aan te stel nie,” sê hy en het na hul vyfjaar- strategiese plan verwys.

Afgesien van die bogenoemde funksies moes Amta ook die Namibiese Markaandeelbevorderingsplan (MSP) toepas, beheer van plaaslike voedselveiligheid, die nakoming van voedselstandaarde en die inspeksie van plase of geriewe neem.

Amta was die afgelope jare gereeld in die nuus, onder meer toe hy sy laaste versamelpunt vir vars produkte gesluit het ná 'n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse maatskappy Fysal Fresh Produce beëindig is.

Verder het die media berig oor ­vermeende twyfelagtige grond­transaksies, asook omdat hul bestuurders sedert 2013 glo te veel betaal word.

Amta is ingevolge 'n kabinets­besluit as gespesialiseerde agentskap van die ministerie van landbou, water en bosbou gestig om die bemarking en handel van landbouproduksie in die land te koördineer en bestuur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!