Akteurs wys hulle het ook sakevernuf

Johnn-Grant Munro - George Clooney dalk binnekort 'n miljardêr?
Volgens Channel24 het die drankreus Diageo onlangs aangedui dat hy Clooney se tequilamaatskappy, Casamigos, vir US$1 miljard wil koop. Die akteur en een van sy vennote, Rande Gerber (Cindy Crawford se man), het die maat­skappy vier jaar gelede gestig. Diageo besit ook onder meer Johnnie Walker en Captain Morgan. Hier is nog 'n paar mense van Hollywood wat hul fortuin gemaak het – nie net uit akteur wees nie, maar danksy 'n kop vir sake doen.
Oprah Winfrey (63)
TV-persoonlikheid, aktrise en eienaar van 'n TV-netwerk
Dié eerste swart vrouemiljardêr het op 19 begin as 'n nuusleser. In 1983 het sy AM Chicago begin aanbied, wat later herdoop is tot The Oprah Winfrey Show. Die laaste episode is op 25 Mei 2011 uitgesaai.
Die president van Harpo Produc­tions het ook in 2011 haar eie kanaal, OWN: Oprah Winfrey Network, gestig.
In 1985 was sy in Steven Spielberg se fliek “The Color Purple” en is daarvoor vir 'n Oscar benoem. Danksy verskeie media-ervarings as uitgewer, in radio en die internet het sy op 32 'n miljoenêr geword.
Winfrey het op 14 swanger geraak en op skool al by 'n radiostasie gewerk.
Hoeveel in die bank?
US$3 miljard
Paul Leonard Newman (83)
Akteur en kosmagnaat
Newman het in 1986 'n Oscar gewen vir sy rol in “The Color of Money” en hy het ook die kosmaatskappy, Newmans Own, in 1982 gestig.
Die maatskappy gee 100% van sy winste ná belasting aan liefdadigheid. Dit het begin met slaaisous wat Newman self gemaak het en as geskenke aan vriende gegee het.
Ná 'n belegging van US$20 000 is dit in 'n volwaardige onderneming omskep met produkte soos pastasous, bevrore pizza, limonade, smoothies, springmielies, salsa en druiwesap.
In 1993 het sy dogter Newman's Own Organics gestig, wat fokus op organiese kos soos sjokolade, koekies, pretzels en troeteldierkos.
In 2016 het Newman's Own al US$460 miljoen vir liefdadigheid geskenk.
Jessica Marie Alba (36)
Aktrise en sakevrou
Alba is al van 1994 'n aktrise en veral bekend vir haar rolle in die TV-reeks “Dark Angel” en die flieks “Fantastic Four”, “Sin City”, “Honey” en “Into the Blue”.
Sy het in 2012, ná die geboorte van haar eerste kind, die Honest Company gestig. Dit verkoop huishoudelike produkte met 'n klem op niegiftige bestanddele. Sy besit 15% tot 20% van die maatskappy.
Alba het dit aangepak nadat haar eersteling 'n erge uitslag ontwikkel het weens 'n babaproduk. Omdat baie babaprodukte op die mark sintetiese geurmiddels en petrochemikalieë bevat, het sy en haar vennote besluit om die maatskappy in 2011 met 17 produkte bekend te stel.
Hoeveel in die bank?
US$200 miljoen
Andrew Eppley Shue (50)
Akteur en internetinnoveerder
Hy is bekend vir sy rol in Melrose Place in die 1990's en as die broer van Elisabeth Shue.
In 1989, ná universiteit, het hy Zimbabwe besoek as wiskundeonderwyser en het ook sokker gespeel vir die Bulawayo Highlanders. In dié tyd was hy die enigste wit speler in Zimbabwe se premiersokkerliga.
Hy het van 1992 tot 1999 in die TV-reeks “Melrose Place” gespeel, maar het in 2006 saam met sy beste vriend die sosiale netwerk CafeMom gestig. Dit bied 'n aanlyn gemeenskap vir ma's waar hulle advies en idees kan uitruil.
Dit het gelei tot ander webwerwe soos The Stir en Baby Name Wizard.
Hoeveel in die bank?
US$150 miljoen
Kevin Michael Costner (62)
Akteur en musikant
Costner is al bekroon met twee Oscars en speel ook in 'n country-groep, Kevin Costner & Modern West.
Hy het ook 'n noue verbintenis met die Amerikaanse NASCAR.
In 1995 het Costner 'n olieskeidingsmasjien ontwikkel nadat hy die maatskappy Ocean Therapy Solutions vir US$24 miljoen van die Amerikaanse regering gekoop het.
Niemand het belang gestel in die masjiene nie tot die Deep Horizon-olielek in 2010. Daarna het BP ses van die masjiene teen 'n koste van US$52 miljoen van Ocean Therapy Solutions gekoop.
Costner het ook 'n belang in 'n casino in Suid-Dakota.
Hoeveel in die bank?
US$250 miljoen
Beyoncé Giselle Knowles (35)
Sangeres en aktrise
Sy het wêreldbekend geraak as lid van die groep Destiny's Child en ook danksy haar solosangloopbaan. Sy was ook aktrise in “Austin Powers: Goldmember” en “Dreamgirls”.
Sy en haar man, Jay Z, het 'n Guinness-wêreldrekord opgestel as die egpaar wat die meeste geld in een jaar gemaak het – US$122 miljoen in 2009.
Sy het mettertyd haar vlerke gesprei en ook belê in ander ondernemings, soos 'n mode- en par­fuumreeks. Haar modehuis se naam is House of Deréon. Sy het ook 'n belang in 'n vegetariese kosafleweringsdiens, 22 Days Nutri­tion. Saam met ander musikante besit sy 'n aandeel in die aanlyn stroomdiens Tidal.
Hoeveel in die bank?
US$350 miljoen
Nog mense in die rolprent- en vermaakbedryf wat bedrewe sakelui is:
Robert De Niro: Hy is die eienaar van die soesjirestaurant Nobu, wat 33 takke wêreldwyd het.
Jessica Simpson: Eienaar van die Jessica Simpson Collection, wat fokus op skoene, klere en bykomstig­hede. Verkope beloop meer as US$1 miljard per jaar.Francis Ford Coppola: Coppola maak organiese wyn in Kalifornië se Napavallei. Hy kon sy eerste wynplaas in 1975 koop danksy winste van sy Godfather-flieks.
Curtis Jackson (50Cent): Dié rapper het 'n energiedrankie ontwikkel saam met Glacéau in 2004. Die maatskappy is in 2007 vir US$4,1 miljard aan Coca-Cola verkoop, wat beteken het hy het US$100 miljoen verdien, ná belasting, vir sy belang in die maatskappy. -Netwerk24/starpulse.com/businessinsider.com/forbes.com/celebritynettworth.com/wikipedia.com/insidermonkey.com/cnbc.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!