Aktiviste woedend oor minister se leeubesluit
Elise Tempelhoff
Wreedheid teenoor leeus gaan nou weer 'n algemene gesig in Suid-Afrika word, vrees omgewingsbewustes en aktiviste na aanleiding van regeringstoestemming dat 1 500 leeuskelette uitgevoer mag word.
Dit blyk dat Edna Molewa, die Suid-Afrikaanse minister van omgewingsake, 'n brief aan die regering van Noordwes geskryf het waarin sy toestemming vir die uitvoer van 1 500 leeuskelette vanjaar gee.
Die getal is byna twee keer meer as verlede jaar toe sy met die seën van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) besluit het dat 800 leeuskelette van geblikte leeus na die Ooste uitgevoer mag word sodat dit in 'n soort medisinale wyn gebruik kan word.
Omgewingsbewustes het woedend op die inhoud van die brief gereageer en is veral ook op die oorlogspad omdat sy hulle nie geraadpleeg het nie en die besluit “eensydig” geneem het.
In Molewa se brief aan Manketsi Tlhape, Noordwes se LUR vir landelike ontwikkeling, omgewing en landbou-ontwikkeling, skryf sy geen skelette van wilde leeus mag uitgevoer word nie.
Skelette, tande, kloue en stukkies been wat verkry is van leeus wat in aanhouding geteel is, mag egter jaarliks uitgevoer word.
Die konvensie op die handel in bedreigde spesies (Cites) moet jaarliks van die kwota verwittig word.
GEDEELTE UIT BRIEF
'n Gedeelte uit 'n brief wat Molewa op 7 Junie aan Tlhape gestuur het, het op Twitter en Facebook uitgelek.
Netwerk24 het Maandag 'n kopie van die volledige brief ontvang.
Molewa skryf daarin dat die kwota vir vanjaar vasgestel is met die hulp van navorsing wat gedoen is deur Sanbi en die universiteite van die Witwatersrand, Oxford en Kent.
Luidens die brief het sy besluit volledige skelette moet uitgevoer word en nie net gedeeltes daarvan nie.
Leeuboere sal vir permitte moet aansoek doen.
Besorgde diereliefhebbers en organisasies het op Twitter gesê Molewa besef nie watter skade die geblikte leeubedryf Suid-Afrika se naam aandoen nie.
Die departement van omgewingsake het laat Maandagmiddag erken 1 500 leeuskelette mag vanjaar uitgevoer word.
Luidens die verklaring is die besluit aan Cites gekommunikeer. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie