Al die rusdae was lekker, maar dis nou klaar
Al die rusdae was lekker, maar dis nou klaar

Al die rusdae was lekker, maar dis nou klaar

Dani Booysen
Lank gelede is ’n onderhoud met ’n oulike nooientjie in ’n kleedkamer gevoer.
Ou bul! Het ek iemand so hoor sê? Wees verseker dit was die reine onskuld.
Die geleentheid was ’n “happening” in ’n markiestent en die plek was so ’n annekstentjie net agter die verhoog. Sy’s ’n opkomende ster, het my opdraggewer gesê. Sy soek ’n kort onderhoudjie en ’n “qoute” of twee. Keer die singende kind toe sommer daar by die verhoog se tentdeur voor nadat die applous bedaar het en sy val met haar huis in my deur met ’n spontane: “Kom saam!”
So amper vra ek: “Om te wat?”
Toe vertel die aanvallige kind van haar hoërskooldae op Kuruman en hoe sy van die verhoogkuns gedroom het. In Kaapstad is sy deur ’n modelskool gekeur en sy was op die “stage” al was dit net op die loopplank om klere (en lyf) te wys. Ná ’n jaar was sy vir ’n kuiertjie terug op Kuruman. Daar word sy toe deur haar ma in die knopstadium van haar loopbaan aangespreek: “Dit was nou baie lekker, maar dis nou klaar!”
Nooit weer gesien nie, maar haar baie keer singend op die TV gehoor terwyl sy die trappe van die vermaaklikheidswêreld geklim het.
En ek? Vir my was dit terug na die groef van die joernalistiek waar daar na die adel van arbeid gesoek word wanneer op openbare vakansiedae gewerk moet word. Saterdae en Sondae? Dis wanneer ’n pennelekker in hoogste versnelling werk terwyl ander in koffiekroeë sit en kweel oor hoe hard hulle werk. Dis by die kind se ma se “dit was nou lekker, maar dis nou klaar” wat ek wil kom.
Sommer hierdie einste week lê daar net flenters van die gebod van ses dae werk en die sewende dag sal jy rus. Dit was dan vyf dae sal jy rus en twee dae sal jy werk.
Net toe ek meen “dis nou klaar” kom slaan 25 Mei my in die einste maand op ’n staanalmanakkie as Afrika-dag.
Wanneer Mei se einde die vrag vakansiedae van die voorjaar afgegooi het, lê ’n lang droë stuk nog voor tot 26 Augustus, Heldedag. Dan het ­Namibië al nege-tiendes van ’n normaal aanvaarde gasie van tien openbare vakansiedae per jaar. In Desember wag Menseregtedag op 10 Desember, maar dié openbare vakansiedag val op ’n Saterdag met Krismis (25 Desember) dié keer op ’n Sondag. Dag 11 is Gesinsdag op 26 Desember en dan’s dit klaar. Nuwejaarsdag is 2017 se dinge.
Van Krismis gepraat. ’n Engelssprekende buurman het altyd gesê: “Christmas comes but once a year, but when it comes . . . Oh dear! Oh dear!”
Al lyk dit die week baie, lyk dit of Namibië die 10-kwota net met een dag gaan oorskry. Maar was dit dan nodig om die hele bondel so op mekaar in te druk?
Rekening moet ook gehou word met die owerstes se reg om ’n openbare vakansiedag of twee te verklaar, maar gelukkig is dit vele jare net by uitsondering. Sou hulle so smaak, lê daar lang ooptes voor waar dit gerieflik ingepas kan word.
Met die oog op Junie en Julie se winterswinde moet straks gevra word of iemand nie met voorstelle wil kom nie. Dalk iets soos Vuurmaak- of Kaggeldag.
Op vandeesweek se Werkersdag was daar Maandag weer lofsange vir werkers wat die ruggraat van die land is, die mense waarop die ekonomiese voorspoed van die toekoms gebou word. Met die vuur in hul tuig het die getroues toe Dinsdag na die werkplekke teruggekeer. Dinsdagaand kon hulle maar weer moeg genoeg wees om Woensdag en gister weer te rus.
Wie gaan die ekonomiese wa se wiele smeer as dit so aangaan?

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer