Al meer buitelanders ry Desert Dash

Swakopmund is weer opgewonde om as eindpunt vir die immergewilde 373 km bergfietsren te dien.
Iréne-Mari van der Walt - Met die jaarlikse Nedbank Desert Dash geskeduleer vir die naweek van 6 en 7 Desember, is die bal dié week aan die rol gesit met die bekendstelling op Swakopmund.

Vir die 20ste jaar sal 'n beperkte getal bergfietsryers die seldsame geleentheid kry om binne 24 uur die 373 kilometer van Windhoek tot op Swakopmund af te lê.

Mnr. J.G. van Graan, finansiële hoof van Nedbank Namibië, vertel dat hierdie die eerste keer is in die vyf jaar vandat die bank as hoofborg van die Desert Dash toegetree het dat die bekendstelling buite die hoofstad gehou is.

“Ons doen dit uit eerbied vir die gasvryheid wat ons so bevoorreg was om in Swakopmund te geniet gedurende ons betrokkenheid by die Nedbank Desert Dash,” het Van Graan gesê.

Inskrywings vir die gewilde solo- of afloskategorieë (spanne van twee of vier lede) is soos gebruiklik blitsvinnig opgeraap. Mnr. Gernot de Klerk, Nedbank se hoof van kommunikasie en bemarking, sê vir vanjaar se Desert Dash word meer as 'n duisend fietsryers verwag, waarvan net 'n geskatte 60 persent Namibiërs is. Die oorblywende plekke is deur buitelandse fietsryers opgeraap.

De Klerk sê in vorige jare was die verdeling nader aan 90% Namibiese ryers. Al is die afname enersyds 'n jammerte, bly hy opgewonde oor die internasionale belangstelling in die sportgeleentheid. “Hoewel daar minder Namibiërs deelneem, lok die geleentheid toeriste wat waarskynlik beter is.”

Swakopmund se burgemeester, me. Paulina Nashilundo, het uitgewys dat die Desert Dash as 'n kapitale inspuiting vir die breër ekonomie van die kusdorp dien.

“Ons sien verskriklik uit na die geleentheid. Die Desert Dash was nog altyd 'n hupstoot vir die dorp, so aangesien ons ook daaruit baat, sal ons altyd gewillig wees om hand by te sit waar dit ook al nodig mag wees,” sê Nashilundo.

Sowat dertig van die 240 fietsryers wat die 373 km soloresies aandurf, is vroue.

“Twee van ons land se grootse fietsryers, Tristan de Lange (die 2019 Afrika-spele se kampioen) en Alex Miller (brons by die 2019 Afrika-kampioen­skap) sal die kern vorm van 'n baie sterk viermanspan wat definitief vir die podium sal veg,” voorspel Van Graan.

Van Graan reken van die grootste helde van die 24-uur bergfietsren is diegene wat die taak vir 'n groter doel as hulself sal aanpak. Enkele voorbeelde van sulke spanne is die Dagbreek-skool vir verstandelik gestremdes, Legacy of Love en die Lithon Foundation.

Een ryer met 'n besondere storie is Adriaan Grobler wat in die kleure van die Lithon Foundation die Desert Dash sal aanpak. Sowat twee jaar gelede het Grobler dringend 'n leweroorplanting nodig gehad en die Lithon-stigting het dit vir hom moontlik gemaak. In Desember sien hy kans om op dié manier sy waardering vir die guns te wys.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer