Al-Sjabaab dood sewe in Somaliu00eb
Al-Sjabaab dood sewe in Somaliu00eb

Al-Sjabaab dood sewe in Somalië

Al-Sjabaab het van sy gewone teikens afgewyk en 'n aanval in die Puntlandstreek van Somalië uitgevoer.
NAMPA
Islamitiese Al-Sjabaab-militante het gisteroggend vroeg 'n deur­soekingspunt van die polisie in Somalië se semi-outonome Puntlandstreek aangeval.

Minstens sewe mense is dood, het die polisie gesê.

Die militante het offisiere wat hul kollegas te hulp gesnel het, in 'n hinderlaag aan die buitewyke van die stad Bosaso laat beland, het die polisie gesê.

Al-Sjabaab sê hulle het die deursoekingspunt ingeneem en toe vertrek. Die polisie sê egter hulle het teruggeveg en die aanvallers verjaag.

Al-Sjabaab het 'n rits aanvalle op die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe, en ander gebiede onder beheer van die federale regering van stapel gestuur in 'n poging om die Westersgesteunde regering omver te werp en 'n streng interpretasie van Islamitiese wetgewing af te dwing.

Aanvalle in Puntland is redelik skaars, waar 'n eie regering in beheer is en veiligheidsmagte die noordoostelike punt van die horing van Afrika patrolleer wat in die Golf van Aden en die Arabiese See in strek.

Drie polisiemanne en vier burgerlikes is in die aanval dood en minstens 13 ander is in die gevegte gewond.

Puntland is ook die tuiste van 'n splintergroep van Al-Sjabaab wat trou aan die Islamitiese Staat-groep (IS) gesweer het.

– Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer