Alethea kry silwer in Sandton
Alethea Borman was die enigste Namibiese liggaamsbouer wat aan die pas afgelope Arnold Classic in Sandton City deelgeneem het. Met ’n silwermedalje is die boorling van Rehoboth en regsadviseur van Swakopmund Uranium vir haar harde werk en toewyding beloon. Die topdrie was Patricia Martinez van Spanje, Borman en Karen de Beer van Suid-Afrika, gevolg deur Patricia Mululu van Zimbabwe. Borman (suster van die gewese Namibiese rugbyspeler en liggaamsbouer Jood Opperman) neem reeds sedert 2008 kompeterend as liggaamsbouer deel – spesifiek in die klas vir liggaamlike fiksheid. Die klem in hierdie kategorie is om ’n fikse, dog vroulike figuur ten toon te stel – nie met groot spiermassa nie, maar wel met goed ontwikkelde skouers en rug en ’n dun middellyf. Op Swakopmund oefen sy by die Live It gimnasium waar sy ook op Maandag- en Donderdagoggende om vyfuur ’n instrukteur is.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie